Andy Calitz is gefassineer deur elke mens se lewensreise om doelstellings na te streef, om antwoorde op eksistensiële vrae te soek, en om stapsgewys menslike ontwikkeling en die samelewing te bevorder gedurende ons kort lewens op die aarde.
Hy woon tans in Londen, sy gunstelingstad. Hy het ook al in Suid-Afrika (Johannesburg, Stellenbosch), Suid-Amerika (Lima), Europa (Den Haag, Moskou), Asië (Beijing, Tokio, Joezjno-Sakhalin), Australië (Perth), Noord-Amerika (Vancouver) en die Midde-Ooste (Abu Dhabi) gewoon en na 94 lande en Antarktika gereis. Hy het ingenieurswese, handel, bestuur en leierskap aan universiteite in Afrika, Europa en die VSA studeer.
Hy is ’n lid van die Royal Institute of International Affairs, wat die uitdagings van ons samelewing aanspreek, en ’n genoot van die Royal Geographical Society, wat fokus op die verkenning en impak van die mensdom op ons planeet. Hy is ’n bydraer tot die Centre for Enquiry en Humanist International. Hy is die outeur van Life beyond the gods, wat op al ses kontinente gelees word.