Amelia Abrie matrikuleer in 1983 aan die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria. In 1986 verwerf sy haar BSc-graad in plant- en dierkunde aan die Universiteit van Pretoria, gevolg deur ‘n honneursgraad in plantfisiologie en ’n Hoër Onderwysdiploma. Nadat sy vir twee jaar by verskeie skole in Pretoria skoolgehou het, verlaat sy tydelik die onderwys om ’n loopbaan te begin as navorser in die biotegnologie van plante by die Landbounavorsingsraad in Roodeplaat, Pretoria. In dié tydperk verwerf sy haar MSc en PhD in plantkunde met werk in die genetiese manipulasie van kommersiële plantgewasse. Na ’n kort tydperk as navorsingsgenoot by die Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu Natal) keer sy terug na die onderwys, eers by die Midrand Graduate Institute in Midrand, en later as dosent by die Universiteit van Pretoria.
Amelia is ’n senior lektor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy is verantwoordelik vir die opleiding van lewenswetenskappe-onderwysers, en fokus hoofsaaklik op die metodiekopleiding van voorgraadse en nagraadse onderwysstudente. Sy het reeds tien MEd- en PhD-studente suksesvol begelei. Sy is ook betrokke by die algemene opleiding van honneursstudente in die algemene wetenskappe en wiskunde. Elf geakkrediteerde publikasies in die vorm van joernaalartikels en hoofstukke in boeke het reeds uit haar pen verskyn. Benewens die plantkundige artikels wat sy as deel van haar PhD gepubliseer het, is haar fokus tans op die verskynsel van plantblindheid in al sy fasette.