Alida Herbst is ’n professor in maatskaplike werk en direkteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy het uitgebreide praktykervaring in geneeskundige maatskaplike werk en dienslewering aan kinders en gesinne in nood. Haar navorsing fokus op die psigososiale gesondheid van individue, groepe en gemeenskappe. Die klem val op ingrepe waar narratiewe benut word in die ondersteuning van persone wat uitdagings ervaar. Sy het in haar doktorale studie ’n groepwerkprogram ontwikkel en geëvalueer waar lewenskaarte benut is om jong volwassenes met MIV te ondersteun. As skrywer en medeskrywer het sy alreeds 18 bydraes in nasionale en internasionale tydskrifte gepubliseer, asook ’n aantal hoofstukke in handboeke oor narratiewe hulpverlening en maatskaplikewerkbestuur. Sy het ook al aanbiedings by 41 nasionale en 14 internasionale konferensies gedoen. Haar mees onlangse bydrae was om as redakteur van ’n Suid-Afrikaanse handboek oor traumaberading op te tree. Sy lewer op ’n deurlopende basis bydraes by kongresse van die South African Association of Health Educationalists en die Association of Medical Educators in Europa. Sy dien in die redaksie van die vaktydskrif The Social Work Practitioner-Researcher en tree ook op as keurder van bydraes vir ’n aantal nasionale en internasionale vaktydskrifte. Sy tree ook jaarliks as gasdosent op by die internasionale dae van Thomas Moore en Leuven Universiteite in België.