AJ (André) van der Walt is die houer van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Sakereg en ’n professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch. Die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Sakereg word befonds deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie en deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS/NRF) geadministreer. Van der Walt spesialiseer in sakereg, sakeregteorie en konstitusionele sakereg en het die volgende grade verwerf: BJur et Art, Honns (BA) (Filosofie), LLD (Potchefstroom) en LLM (Witwatersrand). Hy het vir twee termyne as voorsitter van die NNS-paneel verantwoordelik vir die evaluering van regsakademici, gedien. Hy het reeds drie keer die Von Humboldt-toekenning vir nadoktorale navorsing in Duitsland ontvang. Die laaste toekenning was in 2003 en hy is in 2004 en 2010 as genoot van Trinity College, Cambridge, gekies. Hy is ’n NNS A1-gegradeerde navorser en die outeur van onder meer Constitutional Property Law (2011), The Law of Neighbours (2010), Property in the Margins (2009) en Constitutional Property Clauses: A Comparative Analysis (1999). Hy is verder die reeksredakteur en medevolumeredakteur (saam met GJ Pienaar) van Juta’s Property Law Library, asook mederedakteur van Property on the Threshold of the 21st Century (saam met GE van Maanen).