Ateïsme of rasionalisme is slegs ’n lewensbeskouing

  • 4

Beste Jan Rap

 

Nadat jy my brief gelees het, lê jy klem op die bewering “ateïsme is maar net ’n ander naam vir realiteit". Daarmee val jy natuurlik met die huis in die deur, maar dit is te danke of te wyte aan Webvoet se besluit om die opskrif van my skrywe te verander het van “Ateïsme ’n religie?” na “Die ander naam vir realiteit”. Alhoewel hierdie klemverskuiwing heelwat wind uit my seile neem, sal ek tog probeer om jou skrywe volgens jou trant te beantwoord.

Dit is waar, en ek stem met jou saam: die vyf sintuie waardeur die mens sy omgewing waarneem, is uiters beperk.  Tog kan die brein (wat jy die prosesseerder noem) uit hierdie karige gegewens deur middel van denke en rasionalisering tog ’n mening vorm. As ek sou waarneem dat ’n appel vrot kolle op hom het, en ek aan hom proe en hy smaak vrot, en sy reuk buitendien onaangenaam is, en hy heel saf voel as ek aan hom druk, dan sal ek nie ver verkeerd wees as ek meen dat die ding vrot, en dus oneetbaar is nie. Ten spyte van die karige inligting wat my sintuie verskaf, kan ek tot ’n sekere mate staatmaak op die interpretasie van my brein.

Deur (karige) sintuiglike waarneming het ek agtergekom dat ons gemeente dekades gelede (en voor my tyd) ’n fout begaan het deur ’n kerk te bou op die uitsoek perseel wat destyds aan hulle geskenk is. Niemand wil deesdae meer  ’n kerk koop nie. Wat sal hulle daarmee maak? Miskien platslaan en ’n hotel daarop bou? Die skenker van die grond het in ’n ander deel van die stad op presies dieselfde grootte grond, ’n fabriek gebou wat honderde mense van werk voorsien en kabels vir Afrika. Nodeloos om te sê, dit is vandag  miljoene rand werd; daarenteen is daar die kerk wat niemand wil hê nie. Sondae is dit eintlik pateties om te aanskou hoe die magtige orrel die sowat veertig ouderlinge en diakens en vier lidmate se stemme oordonder. Ekskuus, ek het die dominee vergeet.

Ateïsme is nie ’n religie nie; daarom kan dit nie gepropageer word nie, en ek druk dit by niemand se kele af nie. Ek beskou maar net die realiteit van dit wat om ons is. Religie en geloof is absoluut nutteloos vir die mens. Afgesien van die miljoene liters brandstof wat vermors word om by die kerk te kom, kos die instandhouding van kerke soveel meer. Om nie eens te praat van al die dominees en professore se salarisse nie! Waarvoor? Gebede word tog nie verhoor nie of dit word verhoor, gelowiges word vermoor of nie vermoor nie, en agteruitgang vind plaas, met geloof, gebede en al.
Ateïsme of dan Rasionalisme, is slegs ’n lewensbeskouing. Dit kan nie “geïmplementeer” word nie, en ateïste het net een ding in gemeen: hulle glo nie aan ’n bonatuurlike god nie. Daarom dink ek die wêreld sou ’n beter plek gewees het, indien ons sou kon ontslae raak van al die gelowe met hulle gode, engele en duiwels en hulle immorele boeke soos die Bybel.

Groete
Angus

  • 4

Kommentaar

  • Cornelius Henn

    Hallo Angus,  

    As ek kon kies tussen die woorde religie en godsdiens, dan sou ek die woord godsdiens gebruik.  

    'n Erkenning of selfs bewustheid van God, impliseer hoegenaamd nie godsdiens of religie nie.  

    Daar is vele "ismes" wat 'n bewustheid van God in hul betekenis dra, maar wat totaal buite enige vorm van godsdiens/religie sal val; byvoorbeeld agnostisisme en panteïsme ...  

    Sou jy eerder die woord godsdiens in plaas van religie gebruik, sal jy dalk die verskil tussen agnostisisme wat wel 'n bewustheid van God ken en 'n verlange na God in jou hart soos uitgedra in godsdiens besef.  

    Daar mag wel vele dogma daarin wees, maar godsdiens kwalifiseer alleen waar in diens tot ons almal se Almagtige Lewende Skepper gelief word.  

    Ek het totaal ooreenstemming met jou daarin dat net 'n Kobus de Klerk 'n argument sal voer dat ateïsme religieus is.   Religie of te wel godsdiens, staan egter nie noodwendig teenoor ateïsme nie.  

    Almal word in hul kinderlike bewusteloosheid as ateïste gebore. Sommige verneem nooit hul lewe lank van God aan hul verstand nie (byvoorbeeld gestremdes - sommige verloor ook hul verstand lank voor die einde).

    Daar is dus vorme van ateïsme wat sonder enige bedoeling as sulks in vrede verbygaan in die lewe.  

    Waar ateïsme met 'n bedoeling as godslasterlik gevoer word, kan ateïsme wel direk en as vyandig teenoor godsdiens beskou word.  

    Dis hoekom Sataniste ook soms die titel "ateïsme" dra. Die teenstelling is egter daarin dat toegewyde Sataniste weinig indien wel sou verskil van iemand soos Kobus de Klerk in sy skrifgeleerdheid en Fariseïsme. 

    Dis nie nodig om in God te glo om godslasterlik te wees nie. Deur soos 'n Kobus de Klerk bloot jou weersin op die mees hatige maniere denkbaar oor enige beskouing van 'n ander te propageer (hetsy of jy self daaraan glo of nie), is lasterlik.  

    Angus, soos ek al voorheen gevra het; hoe voer jy rede as 'n oortuigde ateïs omtrent goed soos "rasionalisme" (rasionalisme. Stelsel wat die menslike verstand as die enigste kenbron aanneem en in geloofsake alleen gelei word deur wat die mens begryp), sonder erkenning aan enige algemene WET wat die Kosmos instand hou?  

    Groete, Ekke

  • Chris Dippenaar

    Hello Angus en Cornelius. Ateïsme is 'n negatiewe term. Al wat dit regtig sê is dat die ateïs nie glo aan 'n god nie. Vir hierdie standpunt sal die ateïs dan natuurlik kan demonstreer, op 'n rasionele manier, volgens die reëls van logika en die wetenskap dat hierdie standpunt redelik is. Jan is reg dat ons nie beskik oor onfeilbare meganismes wanneer dit kom by wat ons kan weet nie, maar dit beteken sekerlik nie dat dit wat ons weet dmv ons sintuie suiwer relatief is nie.

    Die onus lê by jou, Cornelius, om te wys dat die erkenning van 'n algemene WET wat die Kosmos instand hou 'n redelike posisie is. Die ateïs kan 'n posisie inneem van betaamlike onkunde oor so 'n wet. Sou jy egter hierdie WET kon demonstreer sou jy dan verder moes demonstreer dat 'n goddelikheid agter dit staan, en dan ook nie sommer enige goddelikheid nie, maar 'n goddelikheid met spesifieke eienskappe soos die waarna verwys word in die geskrifte van geloof. Uit hierdie geskrifte sou jy dan Jesus se boodskap logies moes kon uithaal. Christopher Hitchens het hierdie uitdaging gereeld gestel aan gelowiges en kon nooit 'n bevredigende antwoord kry nie.

    Ons kragte van rassionele denke mag dalk beperk wees, maar die erkenning van 'n algemene WET wat die Kosmos instand hou vra dat ons die bietjie wat ons het prysgee.

  • Cornelius Henn

    Hallo Chris, Jy is reg. Ateïsme word eintlik selfs onnodig as iets negatief afgemaak.  

    Ingeskape daaraan is die feit dat elke mens op 'n stadium in hul bestaan aan ateïsme voldoen. Wat sou die ervaring aan teïsme in ieder geval sonder 'n faset van ateïsme wees?  

    'n Algemene WET wat die Kosmos instand hou veronderstel ook glad nie geloof of godsdiens nie. Dit vorm slegs die grondslag van panteïsme wat 'n graad of wat na 'n kant van ateïsme bestaan.  

    Naas ateïsme en panteïsme, kom Fariseïsme en rasionalisme in skrifgeleerdheid ook glad nie by 'n persoonlike verhouding in ons Almagtige Lewende Skepper nie.  

    Om aan 'n Bybel of enige ander Heilige Skrif te glo, is ook niks anders as om aan spoke te glo nie. 

    'n Goddelikheid met spesifieke eienskappe soos die waarna verwys word in die geskrifte van geloof, is bloot indiwidue se eie ervaring in hul hart wat hulle as getuies daarvan met hul verstand probeer uitdra.  

    Nie een van Jesus se dissipels kon eens sy Boodskap met Hom in hul midde logies begryp nie. 

    Eers lank na Jesus se Hemelvaart met die uitstorting van sy Heilige Gees, is daar in hul getuienis uitgedra dat Jesus Christus, ons Hemelse Vader is. Maar selfs toe was daar geen logika oor hoe en wanneer Jesus Christus ons weer sal kom haal nie (2000 jaar later en hier sit ons steeds aan die donkerkant van die maan en wag).  

    Chris, dis eenvoudig vir geen mens om vir 'n ander in hul hart voor te skryf nie. Net God bring geloof daarin. En die wat hul deur oopmaak en dit ontvang, weet hulle is die minste ...  

    Ons is almal by verskillende mylpale in die lewe. Daar is baie wat ek self in die sfeer van die rede trek, maar ek dink solank elkeen vir sy gedagte gerespekteer word kan daar vrede en vreugde wees.

    Ek dink dat elkeen wat kan (gelowig en ongelowig), 'n verantwoordelikheid het om die mensdom teen alle vorme van fundamentalisme te beskerm.  

    Dankie vir jou deelsaamheid Chris.  

    Groete,
    Ekke

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius. Jy's 'n klein bietjie glibberig met die idee van panteïsme, maar met jou slot stem ek heeltemal saam, of hoe sê julle: Halleluja!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top