Antwoorde vir Angus op sy kommentaar onderaan my brief van 26 deser

  • 1

Beste Angus

 Hier’s vir jou ‘n voorbeeld:  Sondebok (HAT, eerste uitgawe).  Interessant, toe ek ‘braaf’ opsoek, staan daar spesifiek dat braaf nie dieselfde betekenis as ‘dapper’ het nie; so hulle het darem nog nie geswig wat ‘braaf’ betref nie.  As jy nog voorbeelde soek, raadpleeg jou woordeboeke.  Ek is seker jy sal meer kry as ek weens jou akademiese blootstelling; ek het ander meer tegniese goed op universiteit geleer.

Dankie vir die uitwys van my foutiewelike gebruik van ‘tangensiaal’, ek is gewoond aan tangens (term in trigonometrie) en ‘tangensiaal’ het logies gelyk maar ek sien dis eintlik ‘tangensieel’.  Nog beter, ek moes ‘raaklynig’ gebruik het. 

Jy lees al weer laat in die aande want jy sê dat ek “ ... mos al vir [jou] verduidelik [het] dat 'n mens eers in die woordeboek moet gaan naslaan, en slegs as die woord daarin opgeneem is, mag jy dit gebruik.”  Ek het nooit so iets gesê nie; wat ek wel gesê het ten opsigte van die woordeboeke is hoe jy hulle moet aanwend om uit te vind of ’n woord ’n mengelwoord is of nie. 

Jy karring nog steeds aan oor ‘ons’.  Ek het mos nou al male sonder tal aan jou verduidelik dat hierdie wanaanwending van naamvalle oral voorkom, veral in Engels.  Hoekom nou heeltyd Afrikaans wil straf daaroor?

Ek is bly jy sê dat die spelreël baie duidelik sê samestellings moet aanmekaar geskrywe word.  Hoekom jy eers daarteen geskop het – oa van ‘lompheid’ gepraat – is vir my ’n raaisel.

Jy wonder hoekom ek so ‘bevrees’ is dat Afrikaans agter Engels aanloop.  Ek is nie bevrees nie Angus maar wel baie besorg en dit is voor die hand liggend man (of is dit voor-die-hand-liggend?); Engels word in ons kele afgedruk (Afrikaanse radio en televisie oa), die regering en die grootste gros politieke partye is openlik vyandig jeens Afrikaans (hier moet ek dalk die DA uitsluit; hulle is wel nie vyandig nie maar koel; GLAD nie ywerig vir die handhaaf of behoud van Afrikaans nie, inteendeel) en Afrikaanssprekendes praat al hoe meer ’n verskraalde en verengelsde Afrikaans. 

Verdringing deur Engels is dus ’n wesenlike gevaar en paraatheid  tov die handhaaf van Afrikaans is uiters noodsaaklik.  In die weermag het ek onder Engelssprekendes hierdie selfde besorgdheid tov Engels waargeneem – dit is die natuurlike reaksie van enige mens as hy voel sy kultuurgoed word stief behandel.  Jy sal ook verbaas wees om te hoor hoe die Engelse weeklaag oor die swak Engels van hulle kinders en oor die radio.  Ek weet want ek hoor dit gedurig; ek speel saam met hulle rolbal.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek sou graag wou weet wat jy teen die verklaring van HAT het, vanaf die eerste tot die laaste uitgawe. Almal lees so:
    Sondebok 1. Bok wat by die Israeliete op die Groot Versoeningsdag sinnebeeldig met die sonde van die volk belaai is en die woestyn ingejaag is. 2. (fig) Iemand wat vir alles die skuld kry: 'n Sondebok van iemand maak. Hy is altyd die sondebok. Die sondebok van die familie.
    Jy het dit miskien nie direk gesê nie, maar jy het dit geïnsinueer dat ʼn Afrikaanssprekende slegs die woorde wat in die woordeboek opgeneem is, mag gebruik as hy Afrikaans praat. Jy het verduidelik dat, slegs as ʼn woord in die woordeboek staan, dan is die dit nie ʼn mengelwoord nie, maar ʼn leenwoord. Daarby weet ek dat jy sprekers wil verbied om mengelwoorde te gebruik.
    Natuurlik karring ek aan oor die gebruik van ‘ons’ in Afrikaans, want dis ʼn belangrike verskynsel, en jy wil dit nie verstaan nie. Laat ek dit nou weer vir jou verduidelik. Sewentiende-eeuse Nederlands het ‘wij’ gebruik vir die eerste persoon in die nominatief, en dit is vandag nog die geval met moderne Nederlands. In Afrikaans het dit verander na ‘ons’, en dit is aangeteken dat slawe van 1691 dit so gebruik het in hulle kommunikasie met die Nederlandse amptenare en Vryburgers. Dit het dus onafhanklik gebeur van Engels of watter Europese of Oosterse taal jy ook sulke voorbeelde kry. Hierdie verskynsel het plaasgevind toe Nederlands en Maleis-Portugees ʼn “middeweg” wou vind om te kommunikeer. Die Afrikaanse grammatika beskryf dit en dit is heeltemal korrekte taal om ‘ons’ so te gebruik. Dit is uniek aan Afrikaans.
    Dis nie ek wat sê dat samestellings aanmekaar geskrywe moet word nie. Dit is een van die bekendste spelreëls. Ek stem maar net heelhartig daarmee saam. Ek het jou maar net hierdie reël voor oë gehou, want jy het aanhoudend verkeerdelik beweer dat die reël moet wees dat een betekenis aanmekaar geskrywe moet word. Die spelreëls verduidelik hoe lompheid omseil moet word. As jy vir jou ʼn Woordelys en Spelreëls aanskaf, sal my verduidelikings nie vir jou so ʼn groot raaisel wees nie.
    Dis nie die eerste keer dat Afrikaans so vertrap word nie. Dit het al verskeie kere voorheen gebeur en dit het van hom net die kragtige taal gemaak wat hy is. Ek wil beweer dat hy alreeds so kragtig is, dat ʼn ou Engelse woordjie hier en daar, geen skade kan berokken nie.
    Ek weet hoe besorg die Engelse is oor die swak Engels. Ek hoor elke dag hoe hulle kla, en dit nogal in goeie Suid-Afrikaanse Engels. Jy sal weer verbaas wees om te hoor dat Suid-Afrikaanse Engelse en Australiese Engelse maar goed moet luister om mekaar te verstaan.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top