Ek verwys na die kommentaar op my brief van 25 deser.
Vir FW
Dis nes jy daar sê. My een suster, die een wat met die Engelsman getroud is, se seuntjie vra juis vir haar, toe hy nou so sy verstand begin kry, of die Here Afrikaans of Engels is. Haar antwoord was "God is ’n Boer my kind."
So van die os op die jas: Met onder andere taal (ook lyftaal, toonhoogte, gesigsuitdrukking) probeer jy dieselfde konfigurasie van aan- en afskakels wat jy in jou brein het bewerkstellig in die een se brein met wie jy kommunikeer (’n diagram verteenwoordig duisende woorde so dit sal ook help). In die hiernamaals het jy nie meer ’n fisiese brein nie so taal, diagramme, beduie ens is onnodig want daar is niks sinapse en dinge wat aan- of afgeskakel kan word nie. Hoe dit gaan werk weet ek nie maar daar het jy dit.
Vir Wouter Ferns
Jy was lanklaas op skool swaer; ’n leenwoord en ’n anglisisme is verskillende goed. "Ons is nog nie ge-introduce nie" en "we haven't been voorgesteld yet" is nie voorbeelde van leenwoorde nie, dis nie eers ’n anglisisme of afrikaansisme, respektiewelik, nie – dis bloot slordigheid; erge besmetting in albei gevalle.
Vir Angus
Ek sê weer: Die wat glo die taal sal bly voorbestaan solank hy net gepraat word misgis hulle. Dit is nie genoeg nie; die taal moet ook geskryf word, in die hof gebruik word, op universiteit, by die Buro en die WNNR ens ens. As die taal sy hoër funksies verloor word hy net by die huis gebruik en dit al hoe swakker, luister maar na die hopelose taalgebruik van die meeste inbellers op die radio (en moenie die omroepers weggooi nie, veral party).
Ek weet van geen taal wat nie meer bestaan nie wat nog gepraat word. Hoekom vra jy dit?
Jy sê ek " ... sê net daarna as Engels oral gepraat word sal Afrikaans verdwyn." Ek kan nou nie onthou waar ek dit gesê het nie maar dis in elk geval die waarheid want, wat jy nie gebruik nie, verloor jy en dit sluit taal in.
Jy vra wie beweer Afrikaans sal voortbestaan as daarin gedroom word? Baie. Hierdie verskoning lui as volg: "My besigheid doen ek in Engels maar ek droom in Afrikaans." Die eerste ou waarby ek die storie gehoor het was by ’n ene Sam Samsodien by die werk destyds in 1980. Mens dink of droom in elk geval nie in ’n taal nie.
Jy sluit jou kommentaar af met " ... Feit bly staan: solank Afrikaans gepraat word, sal Afrikaans bestaan; nou wel nie die Afrikaans wat in 1857 gepraat is nie, maar nog steeds Afrikaans." Nee Angus, wat die feit is, is dat Afrikaans nie meer gepraat word nie; dié dat hy aan die verdwyn is. Gaelic het verdwyn, baie tale het al verdwyn oor die mense hulle al swakker begin praat het tot naderhand glad nie. Afrikaans is nou in daardie posisie. Ek sê weer, julle verwar agteruitgang met groei omdat julle jul daaraan troos dit verandering is en dus groei. Wat die Engelse "slang" noem is nie groei nie en swak Afrikaans (of Engels of Duits of Armeens), omdat dit anders lyk, is ook nie groei nie.
Natuurlik lyk Afrikaans (of Engels of Duits of Frans) nie meer soos in 1857 nie maar dit is nie nou ’n verskoning om Afrikaans (of Engels of Duits of Frans) te verkrag nie.
Jan Rap


Kommentaar
Hello Jan,
Jan, die hoogste en vernaamste funksie van taal is om verbaal te kommunikeer. Geskrewe taal is eintlik nie ? taal nie, maar slegs ? afdruk van die taal soos ? foto van iemand nie die persoon self is nie, maar slegs ? beeld daarvan. Daarby is die geskrewe taal (ons noem dit maar taal, by gebrek aan ? beter benaming) ? taamlike swak afdruk. Westerse tale gebruik die 26 letters van die alfabet om dikwels oor die honderd verskillende spraakklanke te reproduseer. En dan is dit nog onderworpe aan spelreëls wat dikwels verander word. Spreektaal is primêr, en skryftaal sekondêr.
Hello Jan,
Hallo Wouter
Nee ek is nie seker nie. Hoe verduidelik ons dominee's dit; stem hulle saam met die pous? Wat sê die Imams en wat sê die Rabyne?
Groetnis
Dit is wat moet uitgevind word en dit bevestig ook - hoe verskillend die idees oor die hiernamaals kan wees en dan 'n groot vraagteken agter dit plaas.
Hello Jan et al,
Kyk ook na die woord argument....hoe is dit verskillend van argument en tog word argument as volkome Afrikaans ervaar en aanvaar. Die uitspraak is al wat dit laat verskil.
Dit is 'n onbegonne taak om al die woorde in die woordeskat op hierdie manier deur te gaan, maar die beginsel van opname en omvorming van woorde (word) wat hul oorsprong in (in) tale buite Afrikaans het is (is) bevestig en is dit moeilik om onderskeid te tref tussen wat nou as "besmetting" beskou word maar tog oor 'n dekade (decade) as (as) aanvaarbaar sal deurgaan.
Baie dankie
Wouter