Antwoord vir Cornelius Henn

  • 0

Cornelius, ek gaan die volgende nog net een keer sê: a) Ek en Anton is verskillende mense en b) ek is geen taalindoena; ek trek net te velde teen slegte Afrikaans waar ek sien dit aanduidend is van die tendens om maar oor te gee aan djagganat Engels. As jy dink my Afrikaans is goed is ek bly maar dis nie só goed nie, ek het ’n C in matriek gekry daarvoor.

As jy nou wéér maak of ek en Anton dieselfde ou is, of wéér valslik beweer dat ek spog oor my Afrikaans sal ek verplig wees om wéér vir jou te skryf en bogenoemde paragraaf te herhaal. So staak nou jou akkies.

Ek het nie eksepsie "opgewerp teen" jou nie; ek het bloot reageer oor jy in jou broek ge-akkies het oor ek nou volgens jou die woord "mite" ’n onreg aangedoen het, hoe weet ek nou nog nie, al jou verduidelikings ten spyt. Ek meen, neem nou hierdie sinsnede van jou, "(jy verydel) ... die woord 'mite' akkies Hollywood se 'mythbusters'." Watse woord is "akkies" hier; werkwoord, byvoeglike naamwoord, wat? Ek weet eerlikwaar nie wat jy probeer sê nie.”

Is jy nou rêrig so ontstig oor ek volgens jou "mite" verkeerd gebruik het? En het ek? Haal nou diep asem en skryf kalm vir my waar ek fouteer het. Ek hou van jou alliterasie: “Versukkelde verskuildheid” en “walms warm wind”, al is dit nou ad hominem.

Dis nie waar die beledigings ophou nie; hier's nog: Volens jou "dweep ek heel voortvarend", ek "is behep met stryd in politiek" (weet nie mooi wat dit beteken nie), "huiwer (ek) nooit om ander te verkleineer ..." wat nie aan my "skynheilige en puristiese stryd" voldoen nie. Jy praat van my "kinderagtige onskuld in hipokrisie" (weet nie mooi wat dit beteken nie maar dis duidelik dat dit onvriendelik is), jy sê "(ek) kon nog nooit behoorlik rede voer nie", ek "verarm ons taal", ek "verkrag ons taal", ek is "neerhalend en uitgesproke" en "... (my) onthutstheid jeens (jou) kritiek rakende (my) walms warm wind agter sulke esel nom de plumes, is heel verstaanbaar gereken (my) egoïsme." Terloops, wat is "esel nom de plumes"?

Dit mag alles waar wees, maar is ver van die “sagte antwoord” wat die grimmigheid moet afkeer, dié wat ek wonder hoe ’n diep godsdienstige die kloutjie by die oor bring. Al bogenoemde, uit net twee briewe, wys jy speel die man in plaas van die bal. As jy gedink het ek het die kat aan die stert beet met my gebruik van die woord “mite” kon jy mos net so gesê het, en die regte betekenis vir my gegee het, hoekom so aggressief?

Probeer weer. Raak nou kalm en vertel my wat jou probleem is.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top