Antwoord vir Angus steeds oor mengeltaal

  • 1

Beste Angus

Ek reageer op jou kommentaar onderaan my brief van gister aan jou.

Jy sê niemand, nie jy of dr Hesseling, het beweer dat Afrikaans van óf Maleis óf Portugees afstam nie. Ek weet nie hoekom maak jy so ’n stelling nie want ek het nooit beweer dat jy of dr Hesseling so-iets gesê het nie. Wat ek gesê het is dat dr Hesseling se bewering, naamlik dat Afrikaans vanuit Maleis-Portugees ontstaan het, nie sin maak nie. Dit het ek gesê na aanleiding van die volgende stelling van jou en ek haal aan: “Onder andere het ek kennis gemaak met verskillende teorieë soos dié van dr. Hesseling wat beweer dat Afrikaans ontstaan het uit die omgangstaal van daardie tyd, nl Maleis-Portugees, en dr Bosman wat hom effens teengestaan het.”

Maleis-Portugees word geklassifiseer as ‘n kreool met ‘n Portugeesbasis en ek sou aanneem dat ‘n Portugees en/of ‘n Maleier min of meer die trant kan volg van ‘n stuk Maleis-Portugees; die Portugees sal Portugees daarin herken natuurlik vanweë sy kennis van Portugees en dieselfde wat die Maleier betref. Indien Afrikaans uit hierdie kreool ontstaan het sou Maleis-Portugees vaagweg bekend vir ons gelyk het (soos die geval met Nederlands is) maar dit is nie so nie.

Die Portugees of Maleis wat in daardie kreool is sal vir ons duister wees, dié dat ek sê dr Hesseling se bewering maak nie sin nie. Terloops, die woorde wat jy lys is omtrent almal vanuit Maleis en is só ingeburger dat min Afrikaanssprekendes eers sal weet die woord is (oorspronklik) Maleis. Aan die ander kant, alle sprekers van sogenaamde Kaaps sal beslis weet wanneer hy ‘n Engelse woord gebruik.

Maar dit alles eintlik sommer net terloops want, soos ek jou voorheen gesê het, die feit dat sogenaamde Kaaps so met Engels deurspek is, het niks met linguistiek te doen nie, dis ‘n sosiologiese ding. Dit gaan oor die agteruitgang van Afrikaans en Afrikaans gaan agteruit as hy min, of sleg, gepraat word deur sy sprekers, bruin, wit en swart.

Afrikaans, wat deurspek is met Engelse woorde, is geensins groei of taalevolusie nie, dit is bloot verdunde Afrikaans net soos ek reken Vlaams sou wees as dit deurspek is met Frans (die groot taal waarnaas hy leef soos Engels in ons geval).

Om vir my te sê ek verag ‘Kaaps’ is ‘n non-stelling want wat jy ‘Kaaps’ noem is bloot Afrikaans met soveel Engelse woorde dat mens dit slegs kan verstaan as jy Engels ken. ‘Verag’ is ‘n sterk woord, ek verag niks of niemand nie, nie eers die tafeltjie waarteen ek nou die dag my maermerrie amper des moers gestamp het nie, of die stuk droëwors waarop ek Sondag een van my min oorblywende tande in twee gebreek het nie of selfs die mense wat Afrikaans verag nie. Ek spreek net my misnoeë uit oor die agteruitgang, miskenning en heksejag op Afrikaans waarvan een van die manifestasies die vermenging met Engels is.

Groetnis
Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Jy het dit nie pertinent so gestel dat Hesseling beweer dat Afrikaans van Portugees en Maleis afstam nie, maar jy het dit gesuggereer met as sou ʼn Afrikaanssprekende kwansuis ʼn stuk Portugees en ʼn stuk Maleis sou verstaan het indien Afrikaans van Maleis-Portugees afgestam het.
    Miskien verstaan jy nog nie mooi wat ek skryf, selfs nie eens waaroor jy met my kibbel nie. Laat my weer eens verduidelik. Dit gaan om die spreektaal, nie om stukke teks wat gelees en verstaan moet word nie. Ek sien jy praat selfs van ʼn stuk Maleis-Portugees. Maleis-Portugees was ʼn kreoolse slawetaal en is nooit, sover ek weet, geskryf nie. As jy so iets besit, moet jy dit asseblief vir my aanstuur. Indien jy so iets het, sal jy skrik; dit sal vir jou nie net bekend lyk nie, maar jy sal dit so effens, baie effens kan verstaan, veral omdat die Maleis-Portugees wat die slawe Kaap toe gebring het, al gou sterk onder Nederlandse invloed verander het.
    Ek sou ook nie, as ek net so vaagweg gehoor het van dr Hesseling se Maleis-Portugese, of Slaweteorie, dit sommer afskryf met “dit nie sin maak nie”. Sy verhandeling Het Afrikaansch (1899) was helder geformuleer en het vir die eerste keer die aandag gevestig op die ontstaan van Afrikaans. Hy het sy werk hersien en in 1923 verskyn dit met die vereenvoudigde Afrikaanse spelling, Het Afrikaans. Dit bestaan uit drie hoofstukke: I Geskiedkundige bewyse, II Maleis-Portugese woorde in die Afrikaanse woordeskat, en III Die invloed van Maleis-Portugees op die sintaksis, vormleer en fonologie van Afrikaans.
    Dr Hesseling voer sterk bewyse aan dat Afrikaans wel van Maleis-Portugees afstam, en dit is nie so sinneloos soos jy wil voorgee nie. Hy wys daarop (met bewyse) dat die Nederlands wat Jan van Riebeeck Kaap toe gebring het, begin kreoliseer het as gevolg van die omgangstaal, Maleis-Portugees, wat die slawe gepraat het. In 1668 was daar bv 194 slawe teenoor 166 Europeërs aan die Kaap. Nederlands het begin om sy karakter te verloor en al wat verhoed het dat dit nie heeltemal gekreoliseer het nie was, en hy noem drie faktore: 1 Nederlands het die amptelike taal gebly, en dus beskawend ingewerk, 2 Die voortdurende invoer van vrouens uit Nederland en 3 Die Hollandse kerk en huisgodsdiens.
    Taalkundig wys hy op ʼn hele aantal –ismes wat verband hou met Maleis-Portugees, o.a.: 1 Die gebruik van ons in plek van wij, die dubbele ontkenning, die gebruik van “vir” in bv “het jy vir Jan gesien?” en met … saam soos in “ek loop met Piet saam”.
    Ek het reeds vir jou ʼn aantal woorde gegee wat aan Maleis-Portugees ontleen is. Die feit dat Afrikaanssprekendes vandag nie weet waar hierdie woorde vandaan kom nie, is nie ʼn bewys dat Maleis-Portugees nie ʼn rol gespeel het in die vorming van Afrikaans nie, inteendeel dit is juis ʼn bewys dat dit het.
    Interessant is die navorsing wat dr Bosman oor die ontstaan van Afrikaans gedoen het. Onder andere wys hy daarop dat Maleis-Portugees nie so ʼn groot rol as handeltaal gespeel het as wat dr Hesseling wil voorgee nie, maar hy ontken nie die rol wat dit gespeel het in die vorming van Afrikaans nie.
    As jy histories aangelê is, kan jy gerus in die argiewe gaan rondkrap en uitvind hoe presies, en waar Afrikaans sy ontstaan het. Die eerste geskrif wat herkenbaar Afrikaans is, kom bv uit ʼn Slamse skool.
    Hoe dit ook al sy, ons weet almal Afrikaans het ʼn nederige, kreoolse begin gehad, en het ʼn veredeling ondergaan sodat dit vandag ons trots is. Ek stel meer belang in hoe Afrikaans en ander tale in Suid-Afrika op die oomblik funksioneer en die rol wat hulle speel.
    ʼn Linguistiese beginsel wat jy nog nie kan begryp nie, is dat tale nie in waterdigte kompartemente verdeel en toegesluit kan word nie. Alle tale is onderling aan mekaar verwant en verbind deur ʼn onderstruktuur. Waar hulle bymekaarkom, sal ʼn soort kommunikasie bewerkstellig word, hetsy deur kreolisering of die opneem van die ander taal se woordeskat en moontlik ook grammatiese struktuur. Kaaps is maar net so blootgestel aan Engels as Afrikaans (selfs in Afrikaans se AB-vorm, ofte wel, sy Algemeen-Beskaafde vorm.) AB-Afrikaans bied sterker weerstand teen Engelse invloed omdat dit nog in skole as vak aangebied word. Daar kan onderwysers nog waarsku teen anglisismes en dit probeer uitroei. Kaaps word nie as vak op skool aangebied nie en sal redeliker Engelse woordeskat opneem.
    Dit bring ʼn volgende punt. AB-Afrikaans (of sogenaamde suiwer Afrikaans) het sy bestaan tot dusver aan skoolonderrig te danke. Wat gaan daarvan word as dit nie meer ʼn skoolvak is nie?
    Kaaps aan die ander kant, is nie ʼn skoolvak nie. Dit het sy bestaan te danke aan die feit dat mense dit praat, dis hulle moedertaal en huistaal. Dit voldoen aan al die vereistes van ʼn taal, dit kommunikeer uitstekend, sprekers raak nie tonggebonde en wonder of die woord wat hulle gaan gebruik nou juis “suiwer Kaaps” is en dalk ʼn anglisisme nie.
    Groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top