Antwoord vir Angus op sy kommentaar onderaan my brief van 22 Oktober 2015

  • 3

Beste Angus

Ek was hewig geamuseerd met jou bewering dat ‘die pennie uiteindelik geval het’. Ek sou nou uiteindelik verstaan, ‘die spyker op die kop slaan’, met my stelling dat die grammatikus bloot grammatika, wat lankal reeds bestaan, opteken.

Nou hoe nou; dis dan juis wat ek heeltyd, van die begin van ons gesprek oor hierdie onderwerp, vir jou sê: Ek sê jy kan nie ’n taal praat as jy nie sy grammatika ken nie, selfs sover gegaan as om te sê ‘taal’ kan beskou word as die versamelnaam van ‘woordeskat’ en ‘grammatika’.

Op 19 Januarie skryf jy “Om ’n taal te praat, is die kennis van grammatika glad nie nodig nie.” ’n Entjie verder in die brief beweer jy “Dis eers in 1875 dat die eerste Afrikaanse grammatika sy verskyning gemaak het.” Op 21 Januarie sê jy “Ek herhaal: om ‘n taal te praat, is kennis van grammatika nie nodig nie.” Ek het nou nie die tyd om deur al jou briewe te gaan nie maar hierdie is verteenwoordigend van jou siening van grammatika.

My reaksie hierop was dat dit onsin is want, om ’n taal te kan praat, moet jy die grammatika onder die knie hê. As jy die grammatika (en woordeskat natuurlik) goed onder die knie het praat jy die taal goed en as jy die grammatika nie goed bemeester het nie praat jy die taal swak.

Jou bewerings dat die grammatika ‘eers later kom’ en ‘nie nodig is om die taal te praat nie’ was vir my so absurd dat ek jou gevra het of jy nie dalk die opteken van grammatika (’n grammatikaboek) verwar met die grammatika van die taal nie.

Ek kan nie jou presiese reaksie op hierdie vraag onthou nie, miskien het dit aanleiding gegee tot hierdie vraag van jou aan my op 20 Februarie: “Waar, dink jy, is ’n taal se grammatika?”

My antwoord aan jou was: “ 'n Taal se grammatika sit waar 'n taal se woordeskat sit, in jou verstand. Sodra jy ’n gedagte of ’n begrip wil oordra, dan roep jy die betrokke woorde op en span hulle in om sin te maak soos deur die grammatika voorgeskryf. Ek vermoed jy dink die grammatikareëls wat in ’n boek opgeteken is, is hoe grammatika lyk. Newton se formules betreffende gravitasie is bloot die formules; dis nie hoe gravitasie lyk nie.” Sover ek kan onthou het ek geen reaksie op hierdie antwoord gekry nie.

In jou nuutste kommentaar sê jy wéér: “ʼn Taal hoef nie noodwendig ʼn grammatika te hê nie, trouens daar is nog baie tale in die wêreld wat nie ʼn grammatika het nie, want linguiste het nog nie by hulle uitgekom om hulle te bestudeer en een te skryf nie.” Angus, ek se weer, GEEN taal is sonder grammatika nie anders is dit nie ’n taal nie. Linguiste, grammatici, belangstellendes of wie ook al kan kom en die grammatika – WAT REEDS BESTAAN – opteken (en ten boek stel) maar hy SKRYF nie ’n grammatika vir daardie taal nie. Al ouens wat ’n grammatika skryf is dié wat kunsmatige tale ontwerp/saamstel soos byvoorbeeld Dr Zamenhof ten opsigte van Esperanto.

Groetnis
Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Aan jou skrywe hierbo kan ek sien dat jy nie ʼn woord verstaan het wat ek onderaan jou vorige brief geskryf het nie – of miskien wil jy nie verstaan nie omdat jy jou siening van taal en grammatika ten alle koste moet verdedig, reg of verkeerd, buig of bars.
    Ek sal maar, geduldige ou wat ek is, weer en weer probeer verduidelik.
    Die linguis maak maar soos enige ander wetenskaplike: beskryf dit wat alreeds bestaan. Die bioloog neem ʼn blom waar, ontleed dit, trek dit uitmekaar en benoem die verskillende dele daarvan: die stingel, blomkelk, blomblare, kroonblare, stamper, stuifmeel, die funksie van alles, ens. So kry hy ʼn beter begrip wat ʼn blom is. Die linguis neem taal waar, ontleed dit, trek dit in stukkies en benoem elke deel: spraakklanke, woorde, sinsdele, sinne, bilabiale eksplosiewe, voor- en agtervoegsels, stamme, woorde, sinsgroepe, sinne, woordsoorte, naamwoordstukke, werkwoordstukke, ens. Hierdie beskrywing van taal word grammatika genoem.
    ʼn Mens het nie kennis van grammatika nodig om ʼn taal te praat nie. Kennis van grammatika beteken jy dra kennis van woordsoorte en hulle posisies, jy weet van onderwerp- en voorwerpposisies, jy weet van naamwoord- en werkwoordstukke, ens, en jy het alles bestudeer uit ʼn boek of onder leiding van ʼn taalonderwyser.
    Wat jy wel nodig het om ʼn taal te kan praat, is dat jy dat jy die werking van die struktuur daarvan onder die knie moet kry. Dit leer jy aan sonder dat jy dit weet, net soos jy jou moedertaal aangeleer het sonder dat jy dit weet. Toe jy jou kom kry, toe verstaan jy Afrikaans; hoe dit gebeur het, weet jy nie.
    Die taak van die linguis is om tale te BESKRYF. Hy het nie die reg om voor te skryf nie. Hy sê hoe ʼn taal is, maar hy het nie die reg om voor te skryf hoe ʼn taal moet wees, of hoe iemand moet praat nie. Die linguis onderskei wel tussen grammatikale en ongrammatikale taal, en daarom dink die leek dat hy preskriptief is. Dit is egter nie die geval nie. Wanneer hy beweer dat iemand se taal ongrammatikaal is, BESKRYF hy net daardie persoon se taalgebruik.
    Met “kennis van die grammatika” bedoel ek dus “weet van” woordsoorte, sinsposisies, skakel-adjunkte, adjektiefstukke, bywoord-absorpsie, ens en dat dit doelbewus bestudeer is. Daarom: kennis van die grammatika is nie nodig vir die praat van ʼn taal nie.
    Taal het eers ʼn grammatika (beskrywing van die taal se struktuur) wanneer iemand die taal se struktuur bestudeer en beskrywe het. Dis mos logies.
    Interessant dat jy Esperanto noem. Nee, dr Zamenhof het nie die grammatika van Esperanto geskryf nie. Hy het bestaande, universele grammatika geneem, dit so hier en daar aangepas, en Esperanto ontwerp om te voldoen aan hierdie grammatika. Esperanto bestaan ook uit betekenislose spraakklanke wat betekenisdraende woorde vorm, die woorde daarvan bestaan ook uit stamme wat soms voor- en agtervoegsels het, die woorde vorm ook sinsdele en die sinsdele vorm sinne. Opvallend is die wyse waarop woorde in Esperanto gevorm is sodat dit produktief kan wees, en die woordeskat by die dag groei, soos dit ʼn lewende taal betaam. Heel interessant is ook die samestellings in Esperanto. Die skryfwyse is heel uniek: die verskillende woorddele word deur middel van koppeltekens verbind.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Nog so ʼn paar opmerkings.
    Ek het gedink die pennie het vir jou geval toe jy skryf: “Hy kan dalk ʼn grammatikaboek skryf maar dis maar net die opteken van iets wat reeds bestaan.”
    Ek besef nou jy wil nie hê die pennie moet vir jou val nie, want jy verander dit gou na: “... met my stelling dat die grammatikus bloot grammatika, wat lankal reeds bestaan, opteken.”
    Ek kan net nie verstaan waarom die begrip vir jou so moeilik is nie: die struktuur van die taal, hoe dit aanmekaar gesit is, die samestelling daarvan word bestudeer en beskrywe, en dit word die grammatika van die taal. ʼn Taal hoef nie grammatikaal beskrywe te word voordat dit gepraat kan word nie. Êrens wou jy by my weet: “Hoe het die ouens die taal gepraat voor ’n ‘grammatikus’ die struktuur beskryf het en dus volgens jou die grammatika daargestel het?”
    Jy dink dus dat ʼn taal se grammatika eers geskryf moet word, die kinders en kleuters moet dit eers onder die knie kry, en dan kan hulle die taal praat. Dis mos onsin!
    Die woord versamelnaam is ʼn taalkundige term, en word op twee maniere gebruik: 1. Woorde soos swerm (voëls, bye), trop (bokke, bobbejane), werpsel (hondjies); 2. Woorde soos gebou as versamelnaam vir huis, paleis, woonstelblok, kerk; ʼn woord soos taal vir Grieks, Latyn, Afrikaans, Engels.
    Die woord gebou kan nie as versamelnaam dien vir woorde soos mure, dak, vloer, venster, nie. Netso kan die woord taal nie as versamelnaam dien vir woorde soos grammatika, woorde, ens nie.
    Ek hoop jy kan verstaan waarom nie, anders moet ek dit aan jou uitspel en verduidelik.
    Jy beweer nadat ek dit aan jou gedemonstreer het, nog steeds: “Die BESKRYWING van die struktuur (wat jy ook al met ‘struktuur’ bedoel) kan nou mos nooit die grammatika van daardie taal wees nie.”
    Vertel jy dan vir my wat noem ʼn mens daardie beskrywing van die struktuur van ʼn taal? Ek sal dit weer doen aan die hand van die sin “Die man lees ʼn boek.”
    Hierdie sin bestaan uit betekenislose spraakklanke wat verbind en betekenisdraende woorde vorm. Dit bestaan uit twee spraakklanke, nl. ʼn stemhebbende dentale eksplosief [d], en ʼn hoë vokaal [i]. Man bestaan uit ʼn nasaal [m], ʼn lae vokaal [a] en ʼn nasaal [n], ens.
    Volgens die posisies van die woorde is die sin saamgestel uit bepaalde lidwoord+snw+ww+onbepaalde lidwoord+snw.
    Die sin bestaan uit naamwoordstuk: die man plus werkwoordstuk: lees ʼn boek. Die werkwoordstuk bestaan uit lees+ʼn boek.
    Ek kan ook wys op die onderwerpsposisie van “die man” en die voorwerpsposisie van “die boek”.
    Ek kan ook ʼn verdere beskrywing van die sin gee, maar hier sou dit onnodig wees, want ek wil maar net demonstreer wat bedoel word met die beskrywing van die struktuur van ʼn taal.
    Bogenoemde is die beskrywing van die struktuur van “Die man lees ʼn boek” en is die grammatika van daardie sin.
    Sal jy asseblief bogenoemde sin “Die man lees ʼn boek” neem en aan my verduidelik hoe jy die grammatika daarvan verstaan? Wat is die grammatika wat ʼn kind, volgens jou, moet onder die knie kry en ken, voordat hy kan sê: “Die man lees ʼn boek.”?
    Daar is deesdae letterlik honderde kunsmatige tale wat veral deur wetenskapsfiksie en die rekenaar geskep is. Esperanto is voorafgegaan deur Volapük geskryf deur Johann Martin Schleyer. Die grammatika daarvan was basies Engels, Frans en Duits, asook die woordeskat. Die naam daarvan kom van Engels: vol (world) en pük (speak).
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek kan maar nie help om die volgende uitlating van jou amusant te vind nie. Jy gorrel: “Angus, ek sê weer, GEEN taal is sonder grammatika nie anders is dit nie ’n taal nie. Linguiste, grammatici, belangstellendes of wie ook al kan kom en die grammatika – WAT REEDS BESTAAN – opteken (en ten boek stel) maar hy SKRYF nie ’n grammatika vir daardie taal nie. Al ouens wat ’n grammatika skryf is dié wat kunsmatige tale ontwerp/saamstel soos byvoorbeeld dr Zamenhof ten opsigte van Esperanto.”
    Ek sal graag wil sien hoe lyk die grammatika wat dr Zamenhof sou geskryf het oor wat tot en met 1887 toe nog nie bestaan het nie.
    Ek wil in elk geval sien hoe lyk ʼn beskrywing van iets wat nie bestaan nie.
    Dan wil ek weet wat nou van al die grammatikaboeke en verhandelings oor die grammatika van die tale van die wêreld? Moet ons al die skrywers laat weet hulle het nie die grammatika van al daardie tale beskryf nie, want hulle het net beskryf wat alreeds bestaan? Hulle moet hulle sokkies optrek en beskryf wat nie bestaan nie? Dan skryf hulle grammatika?
    Jy sal moet help, Jan.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top