Antwoord vir Angus op sy kommentaar onderaan my brief van 7 deser

  • 2

Beste Angus

Natuurlik kan spelreëls verander word soos jy sê maar, as jy nou mooi dink, dan is die verandering ’n nuwe reël wat voorskryf hoe jy voortaan moet spel.  Jy is halfpad reg as jy sê nie ek of jy kan voorskryf hoe ’n taal gepraat moet word nie, maar ek en jy kan ons misnoeë uitspreek as die taal verkrag word.  Om die waarheid te sê, dis ons plig. 

Ek sê ‘halfpad’ reg want ek EN jy, en duisende ander Afrikaanssprekendes, het wel ’n invloed oor hoe Afrikaans gepraat word. Ons kan byvoorbeeld aanhoudend ‘braaf’ in plaas van ‘dapper’ gebruik en naderhand swig woordeboekmakers maar en lys dan ‘braaf’ as ’n sinoniem vir ‘dapper’.  Juis hierin lê die teenstrydigheid waarna ek oorspronklik verwys het maar ek wonder of jy dit ooit sal snap.  En voor jy nou weer tangensiaal verkas oor ‘braaf’ (en jy sê ék is die ou wat nie abstrak kan dink nie), dieselfde geld vir ‘sondebok’ ipv ‘belhamel / skuldige / aanhitser’ en ‘kliënt’ ipv ‘klant’ en ‘-gronde’ ipv ‘-terrein’ en ’n hele klomp ander.

Aan die ander kant nou weer, vir dieselfde prys, kan ek en jy en duisende ander Afrikaanssprekendes woorde soos ‘belhamel, klant, sondebok, kliënt, braaf, dapper’ ens korrek gebruik en so verhoed dat woordeboekmakers naderhand verplig voel om maar verkeerde woorde ook as korrek te lys. Om bloot skouers op te haal en te aanvaar dat jy niks kan doen nie is ook uiters défaitisties.  Voel jy dieselfde oor homofobie, of kindermishandeling, of bendegeweld of lugbesoedeling; aanvaar maar net skouerophalend dat dit maar die beloop van die lewe is?  Ek is seker van nee so hoekom is jy so défaitisties wat die agteruitgang van jou taal betref?

Ek en jy kan min doen uit hoofde van ons onbelangrike status in die openbare lewe maar die twee dames, byvoorbeeld, wat stasies het kan oneindig meer as as ons twee doen.  Hulle kan sorg dat hulle omroepers en aanbieders korrekte Afrikaans gebruik en op so ’n wyse die bevolking op die regte pad hou (soos die BBC om maar een voorbeeld te noem).  Onderwysers kan ’n baie groter invloed as ek en jy uitoefen deur bloot hulle werk ordentlik te doen.  Daar is nog vele meer wat meer in die openbaar as ek en jy is wat wel iets kan doen (dink maar aan Engelse, Duitsers en Franse openbare figure byvoorbeeld wat nastreefbare taalgebruik beoefen).

Jy sê ek wil mense probeer voorskryf hoe om te praat.  Waar kom jy daaraan?  Ek, soos jy, hou nie van die Engelse woorde wat so baie Afrikaanssprekendes deesdae op lukrake manier ingooi nie. Maar ek, anders as jy, sien dit NIE as ontwikkeling van Afrikaans nie maar as verskraling en die uiteindelike uitsterf van die taal.  Jy het self al op ’n kol hierdie soort van geradbraakte taal verdedig; gesê dit kommunikeer beter.  Dit is waar jy vashaak; ek vermoed jy’t nie genoegsame taalgevoel om te onderskei tussen vermenging, wat tot agteruitgang lei, en normale taalontwikkeling nie.  Jy, lyk dit vir my, sien enige verandering as ‘ontwikkeling’.

Ek teken beswaar aan teen hierdie ooglopende verval en jy vertolk hierdie beswaar as voorskriftelike optrede deur my.  Allermins, dit is woordeboeke en grammatikaboeke wat aan mense voorskryf hoe om korrek te praat (en nie net in die geval van Afrikaans nie maar ook Russies, Duits, Armeens, Engels, Frans, Portugees, Sweeds, Zoeloe, Noorweegs, Italiaans en nog so paar duisend ander tale). 

Jy het gepraat van die wedersydse invloed tussen Afrikaans en Engels waarmee ek natuurlik saamstem maar ek het aan jou uitgewys dat die invloed van Engels oneindig groter is op Afrikaans as andersom.  Van die redes hiervoor is die heksejag op Afrikaans deur die regering –  ons universiteite is al klaar verengels en die skole is in die proses om te verengels.  Dan is daar nog RSG en KykNet wat met groot ywer Engels in ons kele afdruk; bykans elke program bestaan uit ’n groot persentasie Engels; Fokus en Praatsaam is partykeer meer as die helfte Engels.

In die lig hiervan is die, noem dit maar handhawingstaak, van die Afrikaanssprekendes soveel groter as die van die Engelssprekendes.  Dit is te verstane dat behoudendes onder die Afrikaanssprekendes meer sensitief sal wees oor Engelse invloed as byvoorbeeld, sê, die Hollanders.  Ons taal word daadwerklik geteiken deur die regering (en die vyfde kolonne soos radio en TV) wat nie die geval in Nederland is nie.  Kyk maar wat het byvoorbeeld met die Iere, Walliesers en Skotte gebeur; daar het nie ’n nuwe moedertaal ontstaan wat ’n mengsel van sê maar Gaelic en Engels was nie; Engels het hulle tale heeltemal verdring en vervang.

Die Boere wat Argentinië toe is, is uiteindelik geassimileer, ’n heel natuurlike verskynsel wanneer ’n klein groepie na ’n ander kultuur verhuis.  Dieselfde het met baie Skotse predikante gebeur wat Suid-Afrika toe gestuur is deur die Engelse in ’n poging om ons te verengels.  Dit het toe geboemerang; kyk maar net hoeveel Afrikaners is daar met Skotse vanne.  Jou voorbeeld van Argentinië is interessant maar niksseggend wat hierdie debat betref.

Dit is ook onsin om te sê Engels is ’n taal wat maklik kommunikeer want dit impliseer dat Engels makliker as ander tale kommunikeer en dit is nie waar nie.  ’n Armeniër, byvoorbeeld, kommunikeer net so maklik in Armeens as wat ’n Engelsman in Engels kommunikeer.  Engels lyk vir jou as Afrikaner maklik omdat die taal heeldag, en van kindsbeen af, in jou keel afgedruk word – jy MOET dit by die werk praat, jy MOET Engels by die belastingkantoor, en die polisie-aanklagkantoor, en die poskantoor, en by Binnelandse Sake, en by die munisipaliteit en bank en afdelingswinkels praat.  Jy moet ook Engels magtig wees om meeste van RSG en KykNet se programme te verstaan (ironies nè; jy moet Engels ken om Afrikaanse radioprogramme te verstaan).  Daar is dus ’n geforseerde bedrewenheid in Engels wat die Afrikaner betref en dit skep die indruk onder baie Afrikaners dat dit ‘maklik kommunikeer’ (en die dus verstektaal is).

Dit verklaar dan sommer ook die rede vir die slapgathouding wat (meeste) Afrikaners teenoor hulle taal het (jy sê mos daar moet ’n rede voor wees).  Ons is tog o so versigtig om nie golfies te  maak nie; kyk maar hoe mors heethoofjeugdiges met Afrikaanse akademici – gooi ’n paar asblikke om, steek ’n paar goed aan die brand en eis ‘Afrikaans must fall’ en siedaar, Afrikaans is weg.  Nie omdat Engels beter kommunikeer nie, of omdat Engelse woorde in Afrikaans ‘ontwikkeling’ verteenwoordig nie maar bloot omdat (meeste van) ons slapgat is.

Jy sukkel steeds met ‘lukraak’ sien ek.  Mense wat Engels met Afrikaans meng doen dit volgens geen vaste patroon nie; hy sal nou ‘mention’ in plaas van ‘noem’ gebruik en later sal hy wel ‘noem’ gebruik maar iewers anders in sy sin weer ’n ander Engelse woord of twee ingooi.  Geen vaste patroon nie, maw lukraak.

Jy val maar al te maklik van die wa af.  Nou beweer jy ek gee ’n mandaat aan woordeboekmakers om te bepaal of ’n woord ’n leenwoord is nie.  Jy lees nie reg nie; ek het jou die raad gegee, aangesien jy sukkel om vreemde woorde as Engels of Afrikaans te identifiseer, om na te slaan.  As die ‘vreemde’ woord in die verklarende woordeboek is, is dit ’n ingeburgerde woord (word ook ’n leenwoord’ genoem) en NIE ’n mengelwoord nie.  As daardie woord slegs aan die Engelse kant van ’n tweetalige woordeboek voorkom (of in ’n Engelse verklarende woord) dan is dit ’n Engelse woord, NIE ’n Afrikaanse woord nie en dus ’n mengeltaalwoord.  Dis mos maklik, hoekom vind jy dit so moeilik?

Hierdie stelling van jou, en ek haal jou aan, ‘vermenging van tale is die begin van ’n nuwe taal’, wys maar net weer eens dat jou gevoel vir tale jou in die steek laat; jy kan nou maar net eenmaal nie onderskei tussen vermenging en normale beïnvloeding nie.  Sou dit waar wees wat jy sê sal daar oor ’n paar jaar dubbeld die sowat 6000 tale wees wat tans bestaan.  

Dit werk net mooi andersom; daagliks sterf tale uit hoofsaaklik weens die oorname of verdringing deur ‘koloniale’ tale soos onder andere Spaans, Portugees, Frans en Engels.  Die geradbraakte Afrikaans wat so volop deesdae is, is tekenend van die oorname van Afrikaans deur Engels.  Voëlent in ’n granaatboom verteenwoordig nie die begin van ‘n nuwe boomsoort nie of ’n petunia in ’n uiebedding is nie die begin van ’n nuwe spesie wat ’n vermenging van petunia’s en uie is nie.  Net so is die sin ‘jy moet ‘n relationship establish met die vendor’ nie die begin van ’n nuwe taal nie, dis bloot gebrekkige Afrikaans.

En daaraan kan ek en jy en duisende Afrikaners wel iets doen; ons moet ons kollektiewe vinger uit ons kollektiewe gat trek.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    George Bekker

    Het gesoek vir 'n woord wat Jan Rap beskryf. Die uitstaande woord het hy met sy laaste sin bevestig: dwarsgat. Daar is nog woorde wat by mens opkom soos weerbarstig, weerspannig en dwarsdradig. My een ouma het van meer as een van haar seuns dikwels gesê as hy die dag verdrink sal 'n mens hom stroomop moet gaan soek!
    Jan, nogtans, desnieteenstaande ek het jou argumentasie gevolg en moet daarmee saamstem. Dink ons is nou by die punt waar ons moet vasskop en sê: Tot hiertoe en nie verder nie. As ons niemand kan oortuig nie kan ons hulle minstens dwing om ons te respekteer vir 'n duidelike standpunt.

  • Beste Jan,
    Ek het so 'n paar dae verlof geneem om Champagne Castle te gaan bestyg. Die Drakensberge is nog so mooi soos altyd. Die Engelse daar is ook vreeslik begaand oor the birg, so asof daar net een berg is. Die antwoord op bogenoemde sal jy kry onder die opskrif Afrikaans: veral vir Jan.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top