Antwoord vir Angus oor sy “Oor wat taal is” van 17 deser

  • 0

Beste Angus

Baie dankie vir jou lesings oor taal, baie interessant. Alhoewel, ek moet sê, jou punt nommer drie, ‘Leengoed’, in jou brief van 17 deser is vir my bietjie onvolledig.  Die werklikheid is ons het wel leenwoorde van Engels maar, omdat die Engels in ons kele afgedruk word, begin die meeste mense Engelse woorde in plaas van Afrikaanse woorde in hul spreektaal gebruik.  Soos ek al vir jou gesê het, taal is ’n vaardigheid en Afrikaanssprekendes kry deesdae meer oefening in Engels, vandaar die feit dat die Afrikaanse woorde “in die vergetelheid verdwyn” om nou jou woorde te gebruik.

Ek weet nie of dit slinksheid is, of weer dat jy half gelees het nie, maar jou stelling dat ek ’n studie van Shakespeare en James Joyce gemaak het is verkeerd; ek het so iets nooit gesê nie. Ons het op skool ’n voorgeskrewe boek gehad van Shakespeare en dis hoe ek gesien het sy Engels is bietjie anders as waaraan ek gewoond was. 

Terloops, dis seker onder Shakespeare se invloed wat ek vir die buurvrou gevra het “Mrs Ball, is thy son at home?” (Ek kon my net nie sover kry om haar te jy en jou nie – groot deel van my lewe daar in Swaziland tussen die Engelse grootgeword).  Toe sy bevestigend antwoord het ek gevra: “Wouldst thou mind calling him please?” Die tannie het haar seun geroep sonder om haar oë van my af te haal; my aangekyk asof ek my varkies verloor het.  Maar dalk het ek al die storie vir jou vertel, vergewe my indien ek het.  Nog ’n terloops; ek het daardie King Lear vreeslik geniet, onthou nou nog ’n paar “spreuke” kan jy maar sê waarvan my gunsteling is: “Like flies to wanton boys are we to the gods; they kill us for their sport.”

Nou ja dit alles net terloops. Terug na Afrikaans wat so onder beleg is. Benewens die gewone waarmee ’n taal onder die aanslag van ’n dominante taal te doen het, het Afrikaans nog bykomende probleme:

Die regering is openlik vyandig teenoor Afrikaans en hierdie houding word ook deur die swart bevolking weerspieël (of die bevolking se afkeer word ook deur die regering weerspieël, selfde ding – ek sien nou die dag ’n koerant se plakkaat teen ’n paal met die woorde ‘God does not hear Afrikaans’).  Hierdie vyandigheid manifesteer in naamsveranderinge, aanslag op onderwysinstellings en oor die algemeen die afjak van Afrikaans by alle staats- en semistaatsinstellings.

Ook onder ons eie mense is daar ’n soort van afkeer van wat hulle, met rollende oë en pruilmonde, “suuuuiwer Afrikaans” noem.  Dié sou glo bagasie hê en moet, om aanstoot te vermy, asseblief tog net nie gepraat word nie.  Hierdie houding jeens Afrikaans kom veral onder die jeug van vandag voor (wie se ouers, die jeug van gister, hulle beywer het vir hierdie anti-Afrikaanse bedeling kan jy glo) en die kunstenaartipes soos akteurs, aktrises, sangeresse, sangers, regisseurs, regisseuses, ballerinas, ballerinos en sekere onderwyseresse en onderwysers.  Laat my dink aan Woody Allen wat sy eie bril stukkend trap in “Grab The Money And Run”, pateties, enigiets om jou onderdanigheid te beklemtoon.

Deel van hierdie vyfde kolonne is die Afrikaanse radio en TV wat konstant subliminaal oordra dat Afrikaans onbelangrik is en dat Engels doodeenvoudig ’n MOET vir alle Afrikaanssprekendes is. Afrikaanse kinderprogramme bestaan eenvoudig nie meer nie, alle Afrikaanse stories het Engelse onderskrifte, Afrikaanse reklameboodskappe eindig met Engelse slagspreuke, sommige gaste in besprekingsprogramme praat Engels, Engelse boodskappies word in Engels gelees ens ens. Dit maak nie saak of hierdie as gevolg van die naïwiteit van bestuur is, en of bestuur kop in een mus met die regering se program van nasiebou is nie, die uitkoms is dieselfde.

Jy sê volgens my “... mag ʼn mens nie ʼn Engelse woord gebruik as jy Afrikaans praat nie, want dit “verskraal” glo die taal.’  Jy’t al weer verkeerd gelees; ek sê Engelse woorde wat Afrikaanse woorde VERVANG verskraal die taal.  Dis mos logies, triviaal soos hulle in wiskunde sê; as ’n Afrikaanse woord vervang word deur ’n Engelse woord het die Afrikaanse taal een Afrikaanse woord minder.  Jy sê ook “as ʼn spreker ʼn Engelse woord gebruik as hy Afrikaans praat, kommunikeer dit beter; dis die rede waarom hy dit gebruik”.  Absolute onsin; daar’s nie ’n manier wat “ek achieve my goal” beter kommunikeer as “ek bereik my doel” nie.

Jy kom nie die teenstrydighede in jou eie redevoering agter nie.  Jy sê “Afrikaans kan alleenlik verdwyn as die Afrikaanssprekendes besluit om Engels te praat”.  Dus, as Afrikaanse woorde met Engelse woorde vervang word dan is dit volgens jou in die haak, maar Afrikaans sal slegs verdwyn as Afrikaners Engels praat.  Hoe nou?  Dis mos logies dat as die helfte van die woorde vervang word Afrikaans halfpad verdwyn het.  As jy 100 groen albasters het en jy vervang elke dag ’n groene met ’n rooie het jy na 50 dae die helfte van jou groenes en na 100 dae net rooies.

Taal is nie slegs ’n kommunikasiemiddel soos jy beweer nie, taal is deel van jou identiteit.  Amper soos, maar in ’n meerdere mate, jou kar, jou kleredrag, jou huis – hierdie goed is ook meer as bloot respektiewelik vervoermiddel van A na B, bedekking van skaamte en beskerming teen die elemente.  Taal kan wel nie in ’n blik gedruk word nie, maar voorkoming van agteruitgang se alternatief is nie in ‘n blik druk nie.  Daar is net een ding wat ’n taal se agteruitgang kan stuit en dit is sy sprekers.  Om te keer dat Afrikaans swak gepraat word moet dit bloot net reg gepraat word, maklik.

Weer eens en ten slotte, Engfrikaans, of Malportaans of wat jy ook al die mengelmoes noem wat deesdae deur so baie gebruik word is nie die ontstaan van ’n nuwe taal nie, dit is ’n simptoom van die oorname deur Engels en dus agteruitgang van Afrikaans.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top