Antwoord vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 20 deser

  • 1

Beste Angus

Jy het gelyk; ek kan nou nie kategories konstateer (Koornhof se kalf) dat jy ’n voorstander van losskryf is nie maar jy tree so dikwels op as apologeet vir die manifestasies van die agteruitgang van Afrikaans – sluit goed in soos losskryf en lukrake gebruik van Engelse woorde – dat dit moeilik is om jou NIE as ’n voorstander van hierdie agteruitgang te sien nie.

Jy sit ‘agteruitgang’ in aanhalingstekens en verdedig die gebruik van Engelse woorde (nie leenwoorde nie, sommer net Engelse woorde op ’n lukrake manier); dit sou nou ‘ontwikkeling’ of ‘aanpassing by omstandighede’ wees.  Jy’t selfs op ’n stadium beweer dat ‘usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle’ beter kommunikeer as die gewone Afrikaans (amper sê ek ‘suiwer Afrikaans’ en sou dit nou nie weer ‘n opskudding veroorsaak het nie).  Jy is ook tjoepstil oor ‘jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie.’

 Afrikaans was nooit ’n pidgin soos jy beweer nie.  ‘n Pidgin is wanneer twee sprekers wat nie ’n gemeenskaplike taal het nie kommunikeer in gewoonlik die woordeskat van een taal en die sintaksis of struktuur van die ander, soos Fanakalo  - “madala skati mina sebenzile lapa lo konstrakshin mina fundzile lo fanakalo mar manji, namuhla, mina kohlegile ampoer zonke.”  ’n Pidgin is niemand se moedertaal nie maar sou kinders, wat om een of ander rede slegs daardie pidgin hoor en dit dan op daardie wyse dus hul moedertaal word, staan daardie mengsel bekend as ‘n kreool.  

Nie een van hierdie gevalle is van toepassing op Afrikaans nie.  Daar kan dalk aangevoer word dat die  gedaanteverwisseling van Nederlands hier ’n dialek van Nederlands was wat toe deur die ywer en insig van sy sprekers tot ‘n afsonderlike taal ontwikkel is (vgl Frans en Latin Vulgaire) maar dit is ’n heel ander bespreking.

Afrikaans het ook nie ontstaan deur die vermenging van Nederlands en Maleis-Portugees nie.  Daar mag miskien wel woorde uit daardie taal (bestaan daar ooit ‘n taal of kreool soos Maleis-Portugees?) in Afrikaans opgeneem wees, soos daar ook woorde uit Maleis, Portugees, Italiaans, Engels, Khoi, Duits en miskien nog ’n paar tale opgeneem is maar dit verteenwoordig geensins ’n mengeltaal nie.  Afrikaans- en Nederlandssprekers verstaan geredelik mekaar se tale maar geen Afrikaanssprekende sal enige sin uit Maleis-Portugees (sou daar ooit so iets wees) kan maak nie.  Afrikaans is dus nie ’n vermenging van Nederlands met Maleis-Portugees nie.

Neem nou Engels byvoorbeeld. Vreemde woorde soos ‘pukka, juggernaut, fundi, kraal, veld, vlei, voetstoots, trek, spoor, chop-chop, angst, yacht, dollar’ ens is in Engels opgeneem maar dit sal absurd wees om te sê Engels is ‘n mengsel van, sê Oud-Engels en Gujerati, Afrikaans, Chinees, Nederlands ens.  Afrikaans het, soos Engels en menige ander tale, baie leenwoorde uit ander tale opgeneem maar is geensins ‘n mengsel van daardie tale nie.

Jy’s reg as jy sê dat, as Afrikaans deur Engels verdring word, Engels die spreektaal sal wees.  Dit is mos logies; as jy jou groen kar met ‘n rooi kar vervang ry jy ’n rooi kar en nie meer ’n groene nie.  Jy’s verkeerd as jy sê as Afrikaans en Engels vermeng word sal ’n nuwe taal ontstaan wat nie Afrikaans of Engels is nie; die vermenging is maar net ’n stap in die verdringing van Afrikaans.  En, soos ek jou voorheen gesê het, ek het niks teen Engels nie.  Ek, soos baie ander mense, is net teen die verdringing, uitskuif en heksejag op Afrikaans.

Niemand van die verengelsde Afrikaanssprekendes praat geradbraakte Engels nie; hulle sterf eerder tien dode voor hulle uitgevang word dat hulle Engels nie goed is nie.  Eienaardig nè, Afrikaanssprekendes tree in die bresse vir geradbraakte Afrikaans maar daardie einstes sorg dat hulle Engels suiwer is.

So, om op te som Angus: Afrikaans is nie ’n pidgin of ’n kreool nie.  Afrikaans met Engelse woorde in, in plaas van die Afrikaans, is geradbraakte Afrikaans en tekenend van oorname deur Engels, verdwynende Afrikaans dus.  ’n Sin soos “ … jy’t gemention dat ons nie ‘n future saam het nie” is alles behalwe aanpassing, ontwikkeling of goeie kommunikasie; dis ‘n gemors.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek kan “kategories konstateer” dat ek dit haat as iemand Engelse woorde gebruik as hy Afrikaans praat. Ek en jy verskil slegs wat ons houding daarteenoor is. Jy is ʼn klaagliedere van Jeremia, terwyl ek weer wil uitvind waarom dan hierdie Engelsrigheid as ons ou nasie praat, en soms selfs skryf ook. Om iets te verafsku, en op grond daarvan dit te wil verbied deur reëls, regulasies en wetgewing, is ʼn subjektiewe benadering wat buitendien nie sal slaag nie.
    ʼn Feit soos ʼn koei is dat Engels naas Afrikaans in Suid-Afrika gebruikstale is, en dat hulle mekaar gaan beïnvloed, nie alleenlik wat woordeskat betref nie, maar ook wat taalstruktuur, sintaksis, betref. Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word, val nie sommer lukraak in ʼn Afrikaanse sin, soos jy beweer nie, want dan sou die kanse wees om semanties in te pas, kleiner wees as wat jy die lotto sou kon wen. Sulke woorde word gekies, want die spreker ken hierdie woorde, heel waarskynlik beter as die Afrikaanse ekwivalent daarvan.
    Jy beweer ook dat dit sommer slapgattigheid is van die sprekers deur Engelse woorde te gebruik. Dit is ook nie waar nie, want wie wil nou slapgattig kommunikeer? Jy wil tog jou gedagtes so goed moontlik oordra.
    Dan verstaan jy die woord “verdring” ook nie mooi nie. Engels is besig om Afrikaans aan die universiteite te verdring, maw dit word nou die onderrigtaal ipv Afrikaans.
    As Engelse woorde gebruik word wanneer iemand Afrikaans praat, verdring Engels nie Afrikaans nie. Daar sal nog altyd ʼn Algemeen Beskaafde Afrikaans wees, ʼn AB-taal, beter deesdae bekend as standaard Afrikaans. Wat wel ʼn “gevaar” kan wees, is dat Pannevis en sy tydgenote nie met hulle Afrikaans, die hedendaagse Afrikaans sal kan verstaan nie. As ek en jy oor 200 jaar terugkom, sal ons met ons kennis van Afrikaans, heelwat sukkel en dalk nog honger ly.
    Oor die ontstaan van Afrikaans het ek ook al geskryf. Jy moet maar weer soek wat ek oor Hesseling en Bosman se teorieë kwytgeraak het. Dit ly geen twyfel nie, Afrikaans het beslis maar ʼn nederige ontstaan gehad.
    Natuurlik was daar so ʼn taal soos Maleis-Portugees. Die Portugese het al sedert 1488 om die Kaap geseil om handel te dryf met die Ooste. Maleis-Portugees wat so ontstaan het, het mettertyd die omgangstaal en handelstaal van die Ooste geword en selfs die moedertaal van miljoene. Dit was ook die moedertaal van die Maleierslawe aan die Kaap wat sedert 1658 al ingevoer is. Volgens jou definisie was dit die ideale toestande vir die ontstaan van ʼn Pidgintaal. Die Nederlanders kon nie Maleis-Portugees praat nie, en die slawe nog minder Nederlands. Hierdie Pidgintaal het so gou as 1700 ook al in aanraking met Engels gekom en later ook met ander tale en metterwoon het almal Afrikaans gepraat.
    Ek volg nie jou argument oor die vermenging van tale nie. Jy beweer dat as Engels ander tale se woorde opneem in sy woordeskat, is dit nie ʼn vermenging van tale nie. Aan die anderkant is jy gekant teen die opneem van Engelse woorde in Afrikaans, want dis nou weer ʼn vermenging van tale.
    Ten slotte wil ek net daarop wys dat jy die heksejag op Afrikaans en die natuurlike ontwikkeling van taal as gevolg van die naasbestaan tussen die twee tale, met mekaar verwar. In die eerste geval word Afrikaans vervang deur Engels (soos met die universiteite die geval is), en in die tweede geval word Engelse woorde in Afrikaans opgeneem. Die eerste is onnatuurlik en kan slegs by die stembus beveg word, of ons kan dit in die hof probeer beveg. Die tweede kan niks aan gedoen word nie, want dit is die natuurlike beloop van ʼn taal. Alle tale het maar so ontstaan, en alle tale is maar so verwant aan mekaar. Europese tale van die Germaanse groep het bv ontstaan uit die kontak met Oosterse tale wat Indo-Germaans tot gevolg gehad het.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top