Beste Angus
Ek reageer terselfdertyd op jou opmerking onderaan my vorige brief.
Soos jy, stel ek ook belang in taal maar ek sou nou nie sê dis my stokperdjie soos in jou geval nie. Ek gaan dus heel waarskynlik nie so diep in die storie soos jy nie, dié dat ek glad nie kan insien, soos jy 'n ene dr Hesseling aanhaal, dat Afrikaans uit Maleis-Portugees ontstaan het nie. As jy byvoorbeeld kyk na die onderskeie klassifikasies van Portugees en Afrikaans skei hulle 'takke' al net na Indo-Europees. Maleis weer, sit op 'n heel ander tak en Portugees-Maleis word bloot geklassifiseer as 'n kreool met ’n Portugese basis.
Sou jy 'n stuk teks in Portugees onder oë kry sal 'n Afrikaanssprekende nie veel daarvan kan uitmaak nie (behalwe nou hier en daar weens ons blootstelling aan Latyn en ander Romaanse tale) en, ten opsigte van Maleis, sal hy nie kop of stert kan uitmaak nie. Aan die ander kant, kyk jy nou na tale op ons tak (jy kan maar sê die tale van die ganse van ons dam) soos Plattdüütsch, Alemannisch, Frysk, Limburgs en Nedersaksies, kan jy die strekking volg van wat daar geskryf staan. Selfs met van die Skandinawiese tale tel jy nog hier en daar iets op en met Nederlands, byvoorbeeld, het meeste Afrikaanssprekendes geen probleem mee nie (LW lees, nie praat of skryf nie). Nou waar kom jou dr Hesseling aan die idee dat Afrikaans ontstaan het uit Maleis-Portugees? Dit maak net nie sin nie.
Taalontwikkeling en verwantskap tussen tale is geweldig interessant (vir my in elk geval) maar dit lê in die veld van linguistiek. Wat jy ‘Kaaps’ noem het weinig met linguistiek te make; dit is bloot Afrikaans met ’n oordadige klomp Engelse woorde in. Net so min as wat boontjies gemeng met stampmielies ’n nuwe groente is, of wat ’n ranker in ’n boom ’n nuwe plantspesie met die boom vorm, is ‘Kaaps’ ’n variant van Afrikaans of ’n nuwe taal.
Soos ek van die begin van die bespreking af gesê het, ‘Kaaps’ is swak Afrikaans want dit het ’n magdom Engelse woorde, en selfs sintaksis, in. Afrikaans is op die oomblik onder beleg; almal praat Engels by die werk, by die belastingkantoor, ens. Verhandelinge word nie meer in Afrikaans geskryf nie, die hoftaal is Engels en by (onder andere) die Akademie van Wetenskap en Kuns, Eskom, Yskor, die WNNR en die Buro vir Standaarde is Afrikaans uitrangeer. Afrikaanssprekendes praat dus heeldag by die werk, trouens, ORAL behalwe by die huis, Engels en die gevolg is Afrikaanssprekendes praat al hoe swakker Afrikaans.
Afrikaans is dus besig om agteruit te gaan; kyk maar hoe skryf en spel mense op openbare forums, luister na die geradbraakte Afrikaans op die radio en televisie en dit is duidelik dat ons taal nie meer ons erns is nie. Dít is waaroor ons bespreking gaan; die agteruitgang van Afrikaans en jou en Dirk se teenargument is ‘die grootste gedeelte Afrikaanssprekendes is nie wit nie en hulle gaan Afrikaans nog red.’ Ekskuus, ek bedoel jóú teenargument; Dirk het op ’n stadium iets gesê soos die dae van suiwer Afrikaans is verby en ons moet dit net aanvaar (Dirk praat dikwels van ‘ons moet net aanvaar’ – hy’s ’n aanvaarlike ou lyk dit my).
‘Kaaps’, by uitstek, is simptomaties van hierdie agteruitgang. Die lukrake ingooi van Engelse woorde verskraal Afrikaans en verteenwoordig die teenoorgestelde van ‘groei’. Indien hierdie soort Afrikaans die soort Afrikaans is wat die grootste gedeelte van Afrikaanssprekendes praat, behoede ons; Afrikaans se dae is dan getel. Indien dit slegs ’n klein gedeelte van die grootste deel van Afrikaanssprekendes is, is dit goed; dan is daar nog hoop vir Afrikaans.
Ek oordeel of beledig nie; ek konstateer bloot ’n feit naamlik dat wat julle ‘Kaaps’ noem swak, slordige en verdunde Afrikaans is vanweë die magdom Engelse woorde daarin. ’n Teenargument hiervoor is NIE dat ‘Kaaps’ iemand se moedertaal is nie; ’n teenargument sou wees a) dat daar nie Engelse woorde in sogenaamde Kaaps is nie of b) dat verengelsing Afrikaans verryk en albei hierdie argumente is natuurlik onsin want a) ‘Kaaps’ ís deurspek met Engelse woorde en b) verengelsing is logieserwys die uitrangeer, en dus doodmaak, van Afrikaans.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Na heelwat tyd van besinning, is jy nog nie op die regte spoor wat taal betref nie.
Niemand, nie dr Hesseling nie of ek, het beweer dat Afrikaans van όf Portugees όf Maleis afstam nie. Dr Hesseling het beweer dat Afrikaans afstam van Maleis-Portugees, wat nie Maleis όf Portugees was nie, maar ʼn nuwe taal. Dr Bosman het daarna bewys dat dit verkeerd is. Afrikaans het ontstaan uit Nederlands, maar hy ontken nie die rol wat Maleis-Portugees gespeel het in die vorming van Afrikaans nie. Enkele voorbeelde: alhoewel daar tale is met dubbele ontkenning, het Afrikaans syne van Maleis-Portugees geërf. Talle Maleis-Portugese woorde is in die Afrikaanse woordeskat: atjar, blatjang, bobotie, borrie, piesang, sago, sosatie, aia, amok, amper, baadjie, baklei, ghoen, kapok, katel, nonna, nooi, pondok, sambok, tamaai, om maar ʼn paar te noem.
So ook is Kaaps nie Afrikaans of Engels nie, dit is Kaaps, ʼn heel ander taal wat ontstaan het uit die taal wat almal aan die Kaap gepraat het en met die Engelse bewind sterk onder die invloed van Engels gekom het.
Dit is so dat iemand wat Kaaps ken, maklik Afrikaans sal verstaan, net soos iemand wat Afrikaans ken, maklik Nederlands sal verstaan. As ʼn Kaapssprekende nie Engels geleer het nie, sal hy dit nie verstaan nie.
Mense praat nie met stukke Portugees wat hulle onder die oë kry, of enige ander teks nie. Ek weet dus nie wat jy hiermee wil bereik nie. Taal word gebruik om te kommunikeer en jy ken daardie taal se woordeskat, of jy ken dit nie. Ken jy dit, sal jy verstaan wat die spreker sê, ken jy dit nie, sal jy nie verstaan wat die spreker sê nie.
Kaaps is nie swak Afrikaans nie, dis glad nie Afrikaans nie. Dis ʼn taal wat onafhanklik bestaan en besonder goed kommunikeer. As jy beweer dat Kaaps swak Afrikaans is, dan moet jy konsekwent wees en beweer dat Afrikaans swak Nederlands is. Kaaps is nie die antagonis van Afrikaans nie, maar Engels wel. Daarmee bedoel ek nie Engelse leenwoorde en die invloed wat Engels op Afrikaans het nie. Ek bedoel daarmee dat daar gestreef word om Afrikaans met Engels te vervang. Dit is ʼn politieke saak en het niks met linguistiek te make nie.
Kaaps is die moedertaal van baie en dit is ʼn feit soos ʼn koei, daarvan kan jy nie wegkom nie. Ek sê dit nie om Kaaps te verdedig nie. Kaaps kan homself verdedig. Of dit nou Afrikaans is met Engelse woorde, of Engels met Afrikaanse woorde, maak nie saak nie. Dit is die kommunikasiemiddel van mense, en vir die linguis kan dit ʼn groot studieveld wees: ʼn lewende voorbeeld van wat gebeur as tale geografies langs mekaar gebruik word.
Jy mag dalk Kaaps verag, net soos baie jou taal, Afrikaans, verag en verag het. Met die ontstaan van Afrikaans is dit as kombuistaal afgemaak, en baie beskou dit nog as ʼn kombuistaal. Dit hinder my nie, want dit kom van oningeligtes, net soos anti-evolusioniste oningelig is. Die enigste vrees wat ek het, is wanneer Afrikaans as die taal van die onderdrukker uitgemaak word. Ek is bevrees dat Afrikaans deur Engels, en, veel erger, later deur Zulu vervang gaan word. Daar is alreeds sprake van dat Engels deur Zulu as onderrigtaal vervang moet word aan die Natalse Universiteit.
Groete