Beste Angus
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 15 deser.
Jy sê ek het nie ‘Kaaps’ nagevors en bestudeer nie en dus is alles wat ek sê uit my duim gesuig. Die implikasie is jy het ‘Kaaps’ nagevors en bestudeer so wat jý daaroor sê is geldig. Het jy ‘Kaaps’ nagevors?
Ek noem Pools en Vlaams, nie omdat ek dit ken nie maar omdat ek weet die twee tale leef langs groter tale en die kans is goed dat genoemde twee tale ook vanweë druk dieselfde lot ondervind as Afrikaans wat naas Engels leef. Jou gevolgtrekking dat ek nou Pools of Vlaams sou ken is sommer ’n sarkastiese systap vir een of ander gehoor en het niks met die prys van eiers te doen nie.
Jy’s weer oneerlik as jy sê ‘hierdie invloed van tale beskryf [ek] as 'nie oulik nie' want ek het dit nie gesê nie. Wat ek as ’nie oulik nie’ of ’nie vindingryk nie’ (dankie vir die reghelp tov my gebruik van ‘kreatief’) vind is die slordige gewoonte om die groter taal (in meeste gevalle die dominante groep se taal) se woorde lukraak in te gooi.
Jy gryp na strooihalms as jy sê dat ek ' ... nie [besef] dat taal universeel is en dat taalvermenging en ontlening daagliks plaasvind tussen tale nie.' Wat het ‘universeel’ met die storie te doen; hoe vloei ‘taalvermenging en –ontlening’ nou voort uit die feit dat taal ‘universeel’ sou wees? Maar ek het jou nou al male sonder tal gesê, taalvermenging is slordig en in SA, veral sogenaamde Kaaps, word Afrikaans oordadig met Engels besoedel. Die omgekeerde, naamlik die skaal van Engels wat met Afrikaans besoedel word, is ordegroottes kleiner. Engelssprekendes wil as ’n reël nie ‘opgradeer Afrikaans toe’ nie.
Hier is weer ’n voorbeeld waar jy óf oneerlik is, óf begriploos lees: Jy sê 'buitendien beskryf [my] subjektiewe “oulik” enige taal, sê [ek], wat pittige sêgoed het.' Waar kom jy daaraan? Lees maar weer wat ek gesê het, ek het nooit gepraat van ’n oulike of on-oulike taal nie; ek het gesê mengeltaal is nie oulik nie maar dat in enige taal op hierdie planeet daar mense is wat oulike, gevatte en pittige sêgoed het. ’n Mens se spitsvondigheid is onafhanklik van die taal wat hy praat.
Ek waardeer jou poging om my in te lig oor wat jy onder ‘lukraak’ verstaan maar dit het niks met die kwessie onder bespreking te doen nie. Jy het my in ’n vorige brief gevra wat ek onder die ‘lukrake’ gebruik van Engelse woorde bedoel en ek het verduidelik dat ’n Afrikaanse woord A nou met ’n Engelse woord vervang word en tien minute later gebruik die persoon woord A maar vervang dan Afrikaanse woord B met ’n Engelse woord. So of ek nou die woord ‘lukraak’ of ‘xilof’ of ‘pyzput’ gebruik het maak nie saak nie want die betekenis het ek aan jou verduidelik.
Ek weet ook nie waar jy daaraan kom dat ek dink jy het die naam ‘Kaaps’ gegee nie. Dié naam het ek die eerste keer gehoor by Adam Small; hy was op TV waar hy een of ander gehoor toegespreek het. Ek verwys in ons bespreking na wat julle (die PK’s ens) ‘Kaaps’ noem want ek dink dit is bloot slordige Afrikaans, weliswaar in die Kaapse aksent wat vir my heel aangenaam is (hulle het byvoorbeeld nie daardie aaklige oorronding nie soos ‘my pô se plôs het min wôter’) maar nogtans verdunde Afrikaans weens die enorme hoeveelheid Engelse woorde.
Die spreker van die 'nuwe taal Afrikaans' soos jy dit noem het nie ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor Nederlands gehad nie want hulle het nie links en regs woorde van ’n dominante groep se taal ingegooi nie. Aan die anderkant, die sprekers van die teenswoordige mengeltaal aan die Kaap het wel daardie kwaal.
Jy het vir my gevra of ek die Gautengers en Vrystaters wat mengeltaal praat onder dieselfde kam skeer as die wat sogenaamde Kaaps praat. Hier het ek verstaan jy vra of ek net so krities teenoor die van hulle is wat Engels links en regs ingooi en die antwoord is natuurlik ja; hoekom sal hulle mengeltaal my nou nie skeel nie. Ek sê mos heeltyd, ek is teen die verengelsing van Afrikaans. Nou blyk dit dat dit ’n gelaaide of slinkse vraag was: Sê ek nee sal jy sê ek diskrimineer, sê ek ja sê jy ek weet nie waarvan ek praat nie, want hoe kan ek nou sê dis dieselfde taal (wat jy toe wel gedoen het). Dis van al die strooihalms gryp dat jy gedurig strooipoppe kan bou.
Buitendien, ‘Kaaps’ is nie so oud soos Afrikaans soos jy beweer nie, want dit is seker maar vanaf die Britse besettings wat daardie Kapenaars onder die invloed van die Engelse gekom het.
Jy het jouself nou in ’n hoekie toegeverf deur jou ‘moedertaal’-storie. Jy probeer ‘Kaaps’ regverdig deur te beweer die kind leer dit aan moedersknie dus is dit reg en ’n nuwe taal (want dit is mos nou ‘moederstaal’). Ek het jou oor en oor bewys jy kan verkeerd aan moedersknie leer want moeder is nie ’n linguis nie, moeder kan verkeerd praat. In die verband het ek gesê ’n kleuter kan godsonmoontlik ‘juxtapose’ (soos Loyd Solms nou die dag die woord gebruik het) aan moedersknie geleer het en nou kom jy met die belaglike verskoning vir jou twak dat ’n kind kan na ‘karige blootstelling’ taal genereer. Dit mag so wees maar nie as grond vir jou argument nie; die implikasie is die kind word aan karige Engels blootgestel maar dan het hy die vermoë om die hele Greater Oxford Dictionary te genereer en enige van daardie woorde in sy Afrikaans ingooi. Absurd.
Angus, jou eierdans begin al woester raak. Laat ek maar weer vir jou herinner wat die eintlike kwessie is: Wat julle ‘Kaaps’ noem is slordige Afrikaans vanweë die magdom Engelse woorde daarin. Hierdie klomp Engelse woorde vervang Afrikaanse woorde en sodoende verdun en verskraal dit Afrikaans. ‘Kaaps’, soos jy en Dirk dink, verryk dus nie Afrikaans nie maar verarm Afrikaans.
Indien ek verkeerd is sal dit om die volgende redes wees: Daar is nie, soos ek beweer, baie Engelse woorde in ‘Kaaps’ nie of, andersins, daar is wel baie Engelse woorde in Afrikaans maar verengelsing verryk Afrikaans. So bewys vir my daar is nie so baie Engelse woorde in nie of oortuig my verengelsing is goed vir Afrikaans. Dit help nie jy gooi name soos Chomsky rond nie want hierdie is ’n sosiale kwessie, nie ’n linguistiese ene nie; mense hang, wat hulle as die dominante groep, beskou, se taal en kultuur aan ten koste van hulle eie. Soos Breyten Breytenbach dit noem, hulle is besig om ‘op te gradeer Engels toe.’ Dit geld vir wit en bruin.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan
My antwoord op hierdie eierdansery het ongelukkig onder jou vorige brief van 15 deser beland. Met ons beurt-sonder-krag het 'n eierdansery plaasgevind tussen my rekenaar, my laptop en my tablet.
Ek wil nie regverdiging soek vir Kaaps nie; ek beskryf net wat die werklike toestand van sake is. As iemand 'verkeerd' aan moederknie leer, is dit sy taal. Dit staan die spreker van Kaaps ook vry om daarna Afrikaans te leer, soos bv Allan Boesak.
Jy verstaan generatiewe taal heeltemal verkeerd. Dit beteken dat iemand die ingewikkelde struktuur van taal baasraak uit karige taal van die ouers. Dit beteken nie dat dit woordeskat soos in woordeboeke genereer nie. Dit leer 'n mens mettertyd aan. Hier wil ek net byvoeg: taalvermoë stel jou tog in staat om nuwe woorde te genereer, veral uit bestaande woordmateriaal. Dink maar aan Fanus se bromponie. Hy het beslis nie die woord aan moedersknie geleer nie.
Groete
Angus