Antwoord vir Angus

  • 4

Beste Angus

Jy wil bietjie inligting by my hê (jou kommentaar onderaan my brief aan Dirk). Om dit maklik te maak herhaal ek jou versoeke en gee my kommentaar/antwoord daaronder. Jy skryf:

“Beste Jan
Aangesien jy jou voorhou as 'n kenner van Kaaps, moes jy sekerlik al heelwat navorsing gedoen het oor die onderwerp.”

Opmerking: Jy’s oneerlik; ek het myself nog nooit voorgehou as ’n kenner van wat julle ‘Kaaps’ noem nie.
“Dan sal ons ander ouens maar by jou moet kom kers opsteek.”

Opmerking: Stelling maak nie sin nie aangesien dit voortvloei uit jou bewering dat ek myself sou voorhou as ’n kenner van Kaaps (wat ’n leuen is).

“Daarom vra ek jou so 'n paar vragies, net om ons ander te help om Kaaps in die regte perspektief te sien.”

Opmerking: Jy’s welkom (al dui die “daarom” daarop dat jy voortbou op jou valse bewering dat ek myself as kenner van wat julle ‘Kaaps’ noem sou voorhou).

“Jy beweer dat Kaaps 'n mengeltaal is en 'n mengeltaal, sê jy, is nie oulik nie.”

Opmerking: Jy verdraai wat ek gesê het; gaan lees weer my brief aan Dirk. Ek het gesê mengeltaal is nie oulik nie. Jy het nog nie agtergekom dat, wat julle ‘Kaaps’ noem, ek nie as ’n aparte taal klassifiseer nie (met byvoorbeeld een of ander klassifikasiekode in ’n lys van tale). Dit is bloot swak Afrikaans omdat dit met Engelse woorde deurspek is. Dit is dus nie ’n mengeltaal nie, maar bloot mengeltaal; Afrikaans met lukrake, let wel: lukrake, Engelse woorde in.
Die Kaapse bruines is bekend vir hulle pittige en gevatte sêgoed; ek moes dus seker eintlik ‘pittig’ in plaas van ‘oulik’ gebruik het. Om egter ’n Engelse woord in te gooi is nie oulik, gevat of pittig nie.

“Gee my asseblief 'n definisie en 'n voorbeeld van 'n oulike taal.”

Opmerking: Irrelevante versoek want ek het nooit gepraat van ’n oulike of on-oulike taal nie; ek het gesê mengeltaal is nie oulik nie en dit geld vir Pools met ’n oordadige skeut Russiese woorde, selfde met Vlaams ten opsigte van Frans en Afrikaans ten opsigte van Engels. Wat wel waar is, is dat in enige taal op hierdie planeet daar mense is wat oulike, gevatte en pittige sêgoed het.

“Is die doel van 'n taal om oulik te wees, of te kommunikeer?”

Antwoord: ‘Oulik’ en ‘kommunikasie’ is nie onderling uitsluitend nie. Kommunikasie kan oulik, effektief, gebrekkig, kru, ongeskik, nederig, arrogant, wat ook al, wees.

 

“Wat bedoel jy as jy sê dat Engelse woorde lukraak ingegooi word in Afrikaans?

Bedoel jy met lukraak sommer enige Engelse woord, maak nie saak of daardie woord se betekenis kontekstueel inpas by die sin of nie?”

Antwoord: Met ‘lukraak’ bedoel ek ’n spreker gebruik nou ’n Engelse woord om die Afrikaanse woord A te vervang en oor tien minute gebruik hy wel Afrikaanse woord A maar vervang nou Afrikaanse woord B met ’n Engelse woord.
“Het jy voorbeelde van traak-my-nie-agtige houding by die sprekers van Kaaps teenoor Afrikaans? (Met ander woorde, het jy voorbeelde in jou navorsing gekry waar 'n Afrikaanse woord in Kaaps deur 'n Engelse woord verdring is?)”

Antwoord: Ek (soos jy ook) het talle voorbeelde van ’n traak-my-nie-agtige houding, nie net van sprekers van wat jy ‘Kaaps’ noem nie maar ook van veral die glanspersoonlikhede, die aartie-faarties, wit en bruin. Vir voorbeelde kyk onder andere na Afrivisie, luister na die verslag van mnr Solms Vrydagoggende en vele KykNetprogramme soos Bravo, Emo se Show, Fiësta, radio-inbelprogramme ens.

“Skeer jy die Afrikaanssprekende in Gauteng en die Vrystaat onder dieselfde kam as die spreker van Kaaps? (Met ander woorde, dink jy die mengeltaal wat die Gautengers en die Vrystaters praat, is dieselfde taal as wat die sprekers van Kaaps praat?)”

Antwoord: Natuurlik skeer ek hulle onder dieselfde kam as hulle mengeltaal praat, dis slordige en traak-my-nie-agtige taalgebruik. Ek dink egter die Vrystaters en Gautengers sal nie maklik beweer hulle praat ’n ander taal nie.

“Het jy bewyse van kleuters wat Kaaps praat, wat eers Engels geleer het en toe Afrikaans geleer het (of andersom) voordat hulle die twee opgemix het en Kaaps begin praat het?”

Antwoord: Nee, ek dink hulle leer sommer van die begin af verkeerd praat. Ek het byvoorbeeld vir jare van ‘antie’ gepraat; verkeerd geleer aan moedersknie. ‘Tante’, het ek eers agtergekom toe ek begin skoolgaan het, is die korrekte Afrikaanse woord. Nou klink ‘antie’ vir my vreemd.

“(Of stem jy dalk nou saam met my dat dit nie nodig is om Engels en Afrikaans te leer om sodoende Kaaps te verstaan en praat nie?)”

Antwoord: Nee ek stem nie saam nie. Om die betekenis van ’n Engelse woord agter te kom moet jy Engels ken, soos die woord ‘juxtapose’ byvoorbeeld wat mnr Solms nou die dag gebruik het. Geen kleuter sal daardie woord ken nie en mnr Solms het definitief nie daardie woord aan moedersknie geleer nie; hy het hom sommer net so uit die Engels gegryp en aanvaar almal, met wie hy praat, ken Engels.

Of daar nou ’n akkurate Afrikaanse woord vir ‘juxtapose’ is of nie is onbelangrik; hy sou sy gedagtes anders uitgedruk het indien hy nie Engels magtig was nie en hy weet niemand, wat nie Engels magtig is nie, sal hom verstaan nie. Dus, om wat jy ‘Kaaps’ noem te verstaan moet jy Engels ken.

Volgens jou is Kaaps nie kreatief nie. Wat bedoel jy daarmee en wat verstaan jy onder 'n kreatiewe taal?

Antwoord: Ek het gesê om mengeltaal te gebruik is nie kreatief nie. Ek het ’n onderhoud gehoor/gesien met ’n bruin vrou wat beweer het om Engelse woorde so in te gooi is om ‘kreatief met die taal om te gaan’. Dit is nie kreatief nie, dit is slordig.

 

“Groete”

Groete vir jou ook.

“Angus”

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Beste Jan
    Dankie dat jy my vrae beantwoord het; nou weet en verstaan ek, behalwe natuurlik as jy onlogies redeneer, of sal ek sê, gorrel?
    Kaaps, wat jy mengeltaal en swak Afrikaans noem, is nie deur jou bestudeer en nagevors nie. Wat jy daarvan sê, is maar hoe jy daaroor voel, en wat jy uit jou duim suig.
    Ek weet nou dat jy Pools ken en dat jy die Russiese invloed daarop kan uitwys. Jy ken ook Vlaams en kan die invloed van Frans daarop uitken. So is dit ook die geval met Afrikaans en Engels.
    Hierdie invloed van tale op mekaar beskryf jy as “nie oulik nie”, wat vir my laat verstaan dat jy nie ʼn taalkundige is nie, maar die taal wat mense praat, subjektief benader en beskryf. Dit sê ook vir my dat jy taal (language) nie verstaan nie. Jy besef nie dat taal universeel is en dat taalvermenging en ontlening daagliks plaasvind tussen tale nie.
    Buitendien beskryf jou subjektiewe “oulik” enige taal, sê jy, wat pittige sêgoed het.
    Snaakse teenstelling, nie waar nie? As ʼn taal vreemde woorde van ander tale opneem, is dit nie ʼn oulike taal nie. As ʼn taal pittige sêgoed het, is dit ʼn oulike taal. Wat van ʼn taal wat vreemde woorde van ander tale gebruik en pittige sêgoed het? Soos Kaaps, byvoorbeeld? Kyk net hoe beskryf Adam Small die dominee:

    ʼn Profiet van Jesus djý?
    ʼn proefiet?
    djy moet djou aeroplane-motorkar
    djy moet daai kamma sêd smile van djou
    en djou tears
    en djou woerawarra op die pulpit

    (Ek was lanklaas in die kerk. Dra die dominees nog woerawarras op die pulpit? Of preek hulle sommer deesdae met kortbroek en oopslaan kakiehemp?) Is dit nie pittig gesê nie? En let op die sterk seggingskrag vindingrykheid van die taal!
    Ek weet ook nou dat jy die woord “lukraak” nie verstaan nie. As ʼn Engelse woord lukraak in Afrikaans gebruik word, beteken dit enige van die miljoene Engelse woorde in plek van ʼn Afrikaanse woord; nie ʼn Engelse woord in die plek van ʼn Afrikaanse woord, en netnou weer die Afrikaanse woord in die plek van die Engelse woord soos jy dit verstaan nie.
    Ek weet ook dat jy dink die benaming Kaaps, die taal wat baie mense aan die Kaap praat, van my afkomstig is. Dit is beslis nie ek wat dit die naam gegee het nie. Dis in elk geval ʼn taal, net soos Afrikaans, wat hier aan die suidpunt van Afrika sy ontstaan het. Indien iemand die grammatika daarvan eendag sal beskryf, sal ontdek word dat dit ʼn moderner taal as Afrikaans is met nog meer ontronding, assimilasie, ens as Afrikaans.
    Ek kan ook aan jou antwoorde sien dat jy nog nie mooi besef het hoe Afrikaans sy ontstaan gehad het nie, daarom verag jy dit wat jy as traak-my-niet-agtig beskou. Die sprekers van die nuwe taal, Afrikaans, het ook so ʼn traak-my-nieagtige houding teenoor Nederlands getoon.
    As jy Kaaps onder dieselfde kam skeer as Gautengse of Vrystaatse Afrikaans wat Engelse invloed toon, wys dit dat jy glad nie weet waarvan jy praat nie. Kaaps is so oud soos Afrikaans, terwyl spore van Engelse invloed op Afrikaans soos gepraat in Gauteng en die Vrystaat, ʼn latere ontwikkeling is.
    Al wat jy raaksien en hoor , is die taalvermenging wat jou so dwars in die krop steek, en wat jy nie mooi verstaan nie.
    Ek weet ook dat jy lekker kan gorrel, en daarmee bedoel ek ʼn klomp woorde sê en nie weet wat jy sê nie. Jou hele beredenering oor taal wat aan moedersknie geleer is, vanaf jou “antie” tot by “juxtapose” is sinnelose gegorrel. Miskien moet ek maar weer, vir die soveelste keer, ʼn goeie linguistiese begrip by jou tuisbring.
    Die wonder van taal is dat ʼn mens uit die karige blootstelling aan ʼn taal as kleuter, ʼn ingewikkelde taalstelsel baasraak. Dit stel jou in staat om taal te genereer. Die taal wat ek en jy in ons briewe nou gebruik het ons nie aan moedersknie geleer nie. As kleuter het ons net die basiese beginsel van taal geleer, waarmee ons hierdie briewe se taal kan genereer. (Gaan lees nou weer watter twak jy geskryf het van “juxtapose”.)
    Ek kan ook sien jy verstaan nie die woord “kreatief” nie; dalk nie aan moedersknie geleer nie? Miskien moet jy maar nie die lelike anglisisme gebruik nie. Praat liewer van skeppingsvermoë of vindingrykheid. Kaaps is een van die vindingrykste tale ter wêreld, want dit het weggebreek van alle geykthede. (Miskien het jy ook nie die woord “slordigheid” aan moedersknie geleer nie.)
    Groete
    Angus

  • Angus
    Vergeet om in my antwoord (vorige brief) vir jou te vra of jy seker is 'woerawarra' verwys na drag en nie hoogdrawende gepreek nie?
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan
    Ek stel belang in taal; dit is nie my nering nie, dis my stokperdjie. Ek stel belang in die evolusie van die mens en hoe taal by hom geëvolueer het. Dan stel ek ook belang in die evolusie van besondere tale, en veral Afrikaans, en daarom bestudeer ek die herkoms van Afrikaans. Ek wil weet hoe Afrikaans ontwikkel het vanaf daardie eerste sinnetjies in ʼn Islamitiese skooltjie, tot waar N. P. van Wyk Louw kan sê:
    Ek kry ʼn klein klein beiteltjie,
    ek tik hom dat hy klink;
    toe slyp ek en ek slyp hom
    totdat hy klink en blink.
    Natuurlik het dit my ook in aanraking gebring met Kaaps-Hollands, wat later Afrikaans geword het, en Kaaps. Onder andere het ek kennis gemaak met verskillende teorieë soos dié van dr. Hesseling wat beweer dat Afrikaans ontstaan het uit die omgangstaal van daardie tyd, nl Maleis-Portugees, en dr Bosman wat hom effens teengestaan het.
    Taalkunde is ook nie ʼn eksakte vak nie, daarom is dit wat die taalkundige sê nie ʼn wet van die Mede en die Perse nie, want hy beskrywe maar net wat hy waarneem. As ʼn mens Kaaps bestudeer, sien jy dat dit struktureel soos Afrikaans is. Indien die grammatika daarvan beskryf sou word, sal dit baie na aan die Afrikaanse grammatika wees. Die woordeskat is basies Afrikaans en Engels, plus nog Maleis-Portugees.
    Dit is die moedertaal van baie mense, hulle kommunikeer daarmee, en dit kan al taal wees wat hulle ken sou hulle nie skoolgaan en Afrikaans en Engels leer nie. Iemand wat Afrikaans en Engels ken, sal, as hy mooi luister, ʼn gesprek in Kaaps kan volg, alhoewel die aksent daarvan effens vreemd is en hom sal hinder om te verstaan.
    Dis nou in ʼn neutedop wat ek kan sê van Kaaps.
    Ek kan nie beweer die sprekers van Kaaps is traak-my-nie-agtig teenoor Afrikaans nie, want hulle praat nie eens Afrikaans nie. Die Engelse woorde wat hulle gebruik, is deel van Kaapse woordeskat. Hulle het dit so geleer, sonder dat hulle Engels geleer het.
    Ek kan nie sê Kaaps is mengeltaal en mengeltaal is nie ʼn taal nie. Afgesien van die weerspreking, hulle kommunikeer dan met mekaar deur Kaaps en die doel van taal is om te kommunikeer.
    Ek kan ook nie sê dat Kaapse sprekers sommer Engelse woorde lukraak gebruik nie, want lukrake woorde sal nie kommunikeer nie. Hierdie woorde word sorgvuldig volgens hulle betekenis gekies.
    Ek kan ook nie beweer dat Kaaps nie kreatief is nie, want dit beteken dat daar met Kaaps niks geskep kan word nie: geen stories nie, geen vertellinge nie, geen liedjies nie.
    Ek kan ook nie vir tale se woordeskat grense stel en, so ewe Bigbrotheragtig, alle mense beveel hulle mag nie woorde van ander tale gebruik nie.
    Nee, die taalkundige moet net beskryf wat ek sien en hoor, nie goed sommer so uit sy duim suig nie.
    Groete
    Angus

  • Beste Jan,
    Woerawarra kan seker ook so vertolk word. Ek dink maar dit verwys na sy toga, gesien in die lig van die res van die gedig.

    moet djou skorrelsvol braai-atappels en vleis?

    djou hys 'n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
    en hoe lyk dit moet djou kale pote vi' daai streamline ding
    hoe lyk dit moet djou toega vi' die vel van 'n kameel
    hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi' sprinkane en wille hiening?

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top