Antwoord vir Angus

  • 2

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 5 deser.

Jy moet nou nie kom lol dat ek beskuldigings wil rondslinger nie; ek antwoord maar net op jou argumente of betoë waarvan sommiges ook beskuldigings is soos dat ek weier om in te neem wat jy en Dirk sê en net “voort storm …. met my gegorrel”. Ek is glad nie gebelgd daaroor nie (die beskuldigings nou), eerder geamuseerd want, as ’n debat warm raak, raak hy lekker.

In my betrokke brief het ek beaam dat ek nie ’n taalpuris is nie en dat ek dus nie omgee oor ’n Engelse woord of twee nie, ek het dit teen onnodige, lukrake invoeg van BAIE Engelse woorde. Is dit ’n beskuldiging?

Ek het ook gesê jy (julle) hou aan met, BYVOORBEELD (die ‘byvoorbeeld’ wat volgens jou ‘maar vaag’ sou wees) die moedertaalstorie. Ek het nogal Dirk se voorbeeld gebruik van die ou wat ‘I sez’ en ‘you sez’ en gesê die feit dat hy dit aan moedersknie geleer het maak dit nie korrekte taalgebruik nie. Hy het bloot verkeerde Engels by sy moeder opgetel en die BBC gaan dit nie as ’n interessante variant van Engels beskou en omroepers aanmoedig om so te praat nie. Net soos ’n kind ’n gebrekkige Afrikaanse woordeskat aan moedersknie leer – al verskil is hier dink jy, Dirk en RSG dis ’n variant van Afrikaans en moet aangemoedig word.

Ek het ook gesê mens moet daardie twee tale magtig wees om te verstaan wat ’n persoon, wat daardie tale meng, sê. Is dit ’n beskuldiging? Terloops, die verduideliking hiervoor is, wel, triviaal soos hulle in wiskunde sê, gewone logika.
In die kommentaar waarna ek verwys sê jy (weer eens), “ … dat dit nie nodig is om ʼn taal 'magtig' te wees om van sy woorde se betekenisse te ken nie.” Soos jy sê, VAN sy woorde en betekenisse. Laat ek maar wéér verduidelik: Die mengeltaal onder bespreking bevat soveel Engelse woorde dat ’n mens wat nie Engels magtig is nie dit nie sal verstaan nie. Dit is slegs omdat Engels hier in SA in almal se kele afgedruk word dat almal dit verstaan. Dit is juis my punt; jy moet Engels ken om Kaaps te verstaan.

Toets dit aan die omgekeerde (noem dit ‘spaaK’): Ruil die Engels en Afrikaans onderling om in die radioverslag (RSG Vrydagoggende) van ’n ene mnr Solms en die gemiddelde Engelssprekende, selfs in SA, gaan dit nie verstaan nie; daar sal net te veel Afrikaanse woorde in wees.

Dit sluit aan by ’n punt wat ek ook reeds gemaak het, naamlik die taal van die heerser en die taal van die onderdaan. Deur hierdie mengeltaal (nie net deur die bruines nie, maar ook baie wittes [veral die aartie-faarties]) te gebruik bevestig ons eintlik ’n soort van ’n klaasskap want die dominante groep se taal is die een wat die onderdaangroep(e) s’n binnedring, nooit andersom nie. Miskien is dit die rede hoekom ek so renons in mengeltaal het en die bruines nie; hulle beskou die Engelse as ‘bevryders’, ek nie.

Jy sê jy het, toe jy gesê het ek kla oor 'usually' eintlik die hele gewraakte sin bedoel. Jammer ek het dit verkeerd vertolk maar hoe anders, want jy sê “ ... dan sal jy mos nie omgee vir so ʼn Engelse woord of twee binne Afrikaanse konteks nie? Tog gaan jy al maande gal af oor iemand wat 'usually' gebruik het, terwyl hy Afrikaans gepraat het.”? As jy, in plaas van ‘usually’ gesê het ‘ ’n paar Engelse woorde’ sou ek gedink het jy bedoel die hele gewraakte sin. Of, natuurlik, as jy gesê het ek kla oor ‘usually’, ‘goals’, ‘set’ en ‘achieve’ sou ek geweet het jy bedoel die gewraakte sin maar dan het jou stelling van ‘ ’n Engelse woord of twee’ nie gegeld nie.

Jy hou ook aan dat dit ‘bo [my] vuurmaakplek’ is om die begrip ‘ooreenkoms tussen hoorder en spreker’ te verstaan. Ek stry nie dat ek dom is nie maar jou stelling is irrelevant want ons praat oor mengeltaal, nie kommunikasie nie.

Jy wil ook weet wat ‘graadverskil’ is: As iemand ’n blikkie boontjies in ’n supermark mark steel dan steel hy, net soos ’n hooggeplaaste wat R3m by sy firma steel. Albei het gesteel maar daar is ’n graadverskil; laasgenoemde gaan ’n groter straf kry.

Ek stem saam, moedertaal is die taal wat jy aan moedersknie leer en as die moeder en die vader die taal verkeerd praat, gaan die kind die taal verkeerd leer.

Groetnis
Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan
    Jy antwoord juis nie op my argumente nie; jy gorrel so al in die rondte om hulle. Natuurlik het jy my daarvan beskuldig dat ek όf swak lees όf onderduims is, en jy weet dit goed, maar nou tas jy kastig so al in die rondte om. So vermy jy die kern van die gesprek.
    Die onderwerp is Kaaps, die taal wat baie mense aan die Kaap praat. Dit is ʼn taal, want dit besit al die bestanddele van ʼn taal: dit het ʼn unieke woordeskat wat bestaan uit Afrikaans, Engels, Maleis-Portugees en ander tale; dit het ʼn taalstruktuur wat deur grammatika beskryf kan word, en wat baie ooreenkom met Afrikaans; dit het ʼn fonetiese struktuur gekenmerk deur veral assimilasie, wat dit uitwys as ʼn heel moderne taal.
    Kleuters en jong kinders leer dit verstaan en gebruik, net soos enige ander taal ter wêreld aangeleer word. So is dit die moedertaal van baie geslagte. ʼn Engelsman sal dit nie verstaan nie, ʼn Afrikaanssprekende sal dit kwalik beter verstaan as Nederlands, ʼn Japannees sal dit glad nie verstaan nie, nog minder ʼn Eskimo. Net mense wie se moedertaal Kaaps is, kan dit verstaan. So honderd jaar gelede kon dit nog as ʼn streektaal van Afrikaans beskryf word, so vyftig jaar gelede kon dit nog as ʼn dialek van Afrikaans beskryf word, maar dit het nou al so ver verwyderd van Afrikaans geraak dat dit as ʼn taal beskou kan word.
    Jy verwar Kaaps met Afrikaans wat Engelse woorde ontleen. Die Afrikaanssprekende Vrystaters en Gautengers wat Engelse woorde gebruik, praat nie Kaaps nie.
    Die probleem met ons gesprek is dat jy basiese linguistiese beginsels ignoreer, en taal wil beskryf deur wiskundige logika en blikkies boontjies, maar dan verval in onlogiese stellings soos: mengeltaal is nie taal nie.
    As ʼn “mengeltaal” kommunikeer, dan is dit taal, selfs al het dit nog nie ʼn naam nie. Afrikaans is ook ʼn mengeltaal en tog verstaan Afrikaanssprekendes mekaar heel goed. Die Kapenaar wat Kaaps praat en die “anner gêng se manne gaan opfix” verstaan mekaar goed, al ken hulle nie Engels nie, en al weet hulle nie van watter taal die woorde kom nie.
    As moeder en vader verkeerd praat, en die kind leer hierdie verkeerde taal, dan is verkeerde taal sy moedertaal waarmee hy met mense kommunikeer wat ook die verkeerde taal praat.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan
    Nee, ek sê nie dis 'n beskuldiging as jy omgee vir Engelse woorde in Afrikaans nie, of as jy kla oor die moedertaalstorie nie, of al die ander waarna jy so "onskuldig pleitend" rondtas nie.
    Lees weer wat ek geskryf het, en ek haal aan uit my skrywe: "Jy beskuldig my daarvan dat ek όf slordig lees, όf onderduims is."
    Hier kan ek jou beskuldig van of slordig lees of onderduimsheid.
    Om nou jou gegorrel te beantwoord:
    Lukraak. Jy begryp nie wat die woord beteken nie. As 'n Engelse woord in 'n Afrikaanse sin gebruik word, is dit op grond van sy betekenis. As 'n woord lukraak gebruik word, het dit feitlik geen kans om binne die konteks te pas nie. Ons sal 'n wiskundige moet vra om die kans vir ons uit te werk.
    Moedertaal. Die taal wat 'n kleuter by sy ouers leer, is sy moedertaal, of dit nou "verkeerde taal" is of nie. As jy Afrikaanssprekend is, het jou ouers jou "verkeerde taal" geleer, en dit is jou moedertaal. Dink maar aan "ons" in die eerstenaamvalsposisie.
    Jou spaaK-storie is twak. As mense met mekaar kommunikeer, gebruik hulle die taal wat hulle verstaan. Dit is die ooreenkoms tussen spreker en hoorder. As jy met 'n Engelsman Afrikaans praat (dis nou van die suiwer soort) sal hy ook nie verstaan nie. Ek en jy moet Engels ken om Kaaps te verstaan, want dis nie ons taal nie. Die mense wat Kaaps ken, hoef nie Engels of Afrikaans te ken om Kaaps te verstaan nie. Die kleuter wat Kaaps by sy ouers leer, leer nie eers Engels en dan Afrikaans nie; hy leer Kaaps sommer direk.
    Ek gaan nie gal-af nie, ek probeer, met die beperkte ruimte tot my beskikking, vir jou so 'n paar linguistiese beginsels leer, want ek het aanvanklik gedink jy stel belang. As dit nie so is nie, moet jy net sê, dan hou ek op.
    Jy sê ons praat van mengeltaal, nie kommunikasie nie. Ek neem aan jy bedoel Kaaps is 'n mengeltaal en die gebruiker daarvan kommunikeer nie. Jy sal moet verduidelik, want dit verstaan ek nie. Wat doen mense dan as hulle Kaaps praat? Dink jy hulle maak sommer betekenislose geluide?
    Taalgebruik kan nie verduidelik word met die steel van 'n blikkie boontjies nie.
    Weer eens, as 'n kleuter "verkeerde taal" by sy ouers leer, dan is sy "verkeerde taal" sy moedertaal.
    Hierdie stelling is egter nie heeltemal waar nie. Navorsing deur linguiste het bewys dat met die karige geluidstroom van taal waaraan die kleuter onderwerp word, kan hy 'n ingewikkelde taalstelsel onder die knie kry. Selfs al sou die ouer "verkeerde taal" gebruik, sal dit deur die ingebore taalvermoë gekorrigeer word. (Vgl Chomsky se dieptestruktuur en generatiewe taal.) Dis eintlik snaaks dat Afrikaanssprekendes "ons" in plek van "we" of "wij" of "wy" gebruik.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top