Beste Jan Rap
Dit is so dat as die Taalkommissie ʼn spelreël sou verander, dan moet almal so skryf. Dit verhoed dat elke Tom, Dick en Harry sommer skryf soos hulle wil. (Dis nou om nie te praat van Jan Rap en sy maat nie.) Gelukkig het die Afrikaanse spel- en skryfreëls al gestandaardiseerd geraak. Ek is nie bewus van enige spelreel wat verander het nie. Waarom jy so daaroor kla, weet ek nie. Miskien kla jy oor woorde soos 'ik', ‘hij’, ‘sij’, ‘wij’, wat verander het na 'ek', ‘hy’, ‘sy’, en die ‘wij’ wat heeltemal verdwyn het.
Dan is spelreëls ook nie die wet van die Mede en die Perse nie. Met die uitbeelding van karakters se taal, “oortree” skrywers soms die spelreëls deur bv oa assimilasie deur spelling na te boots. "Ek raak so opgewonne as ek die arme honne so kaalpoot sien drawwe." (Is dit DJ Opperman?)
Dit is so dat nie ek of jy iets kan doen oor hoe die taal gepraat word nie. Jy het reg as jy sê dat ons ons misnoeë daaroor kan uitspreek. Kyk net hoe het die mense destyds, met die ontstaan van Afrikaans, hulle misnoeë uitgespreek oor hoe die Nederlandse taal verkrag word.
Sinonimie in ʼn taal is eienaardige goed. Taal werk maar suinig en laat selde algehele sinonimie toe. As twee woorde presiese sinonieme is, verdwyn een van die twee spoedig. Die woorde ‘braaf’ en ‘dapper’ is albei in die Afrikaanse woordeskat omdat hulle nie presies dieselfde betekenis het nie. Aantekeninge wat ek oor die jare gemaak het van die gebruik van ‘braaf’ is dat dit gebruik word as betekende “onnosel dapper”. Die student wat destyds in die wildtuin die leeus op die skrik wou jaag deur hulle te bekruip met sy hoed tussen die tande, was besonder braaf.
Nêrens het ek nog ooit beweer dat die mens nie abstrak dink nie, soos jy beweer. Natuurlik kan die mens abstrak dink, maar om hierdie abstrakte denke te organiseer en veral om dit oor te dra aan iemand anders, moet hy dit organiseer deur middel van taal. Chomsky het bv beweer dat 98% van taal vind plaas in die mens se denke. Gedurig loop jy maar en praat met jouself. Kyk maar hoe dink jy deur middel van taal voordat jy iets hier op SêNet skryf.
Ek weet nie wat jy bedoel as jy my beskuldig daarvan dat ek “tangensiaal verkas” nie. Ek sou dit vertolk as dat jy probeer om verskriklik slim te klink. Sulke slimklinkerigheid werk nie by my nie. Die woorde wat jy onder dié term klassifiseer, onderstreep wat ek hierbo oor sinonimie gesê het. Die woord ‘belhamel’ word selde deur Afrikaanssprekendes korrek gebruik vir die leier van die kwaadstekers. Verkeerdelik word ‘sondebok’ gebruik, sodat dit vir my lyk asof ‘belhamel’ in hierdie sin begin verdwyn. Daar is ʼn verskil tussen ‘kliënt’ en ‘klant’ en word korrek so gebruik. Woorde soos ‘gronde’, ‘vloer’ ipv ‘terrein’ en ‘verdieping’ is ek bevrees, verkry die oorhand. Woordeboekmakers is egter konserwatief, en sal anglisistiese gebruik uitwys.
Die funksie van taal is om te kommunikeer. Alle tale wat bestaan, kommunikeer ewe goed binne hulle grensgebiede. Soos dit vir my lyk, is dit slegs Engels wat wêreldwyd posgevat het. Sou ek in Armenië kom, en miskien verdwaal, sal ek my toevlug maar tot Engels moet neem. Ek is amper seker daarvan enige Armeniër sal my verstaan en reghelp. Ek was al in Italië, waar my bietjie kennis van Duits, en Nederlands, my effe meer kennis van Afrikaans, my in die steek gelaat het, en ek gered is deur Engels. Ek was ook al in Japan en Lesotho en Engels het gesorg dat ek darem my pad kon vind. Sou ek vandag besluit om Sjina te besoek, sal Armenies my niks help nie – ek sal ook maar, teen wil en dank, op Engels moet staatmaak. Hoe patrioties trots ek ook al op Afrikaans is, as ek dit durf waag oor Suid-Afrika se grense, is dit vir my bokkerol werd.
Nog verstaan jy nie die woord ‘lukraak’ nie. Jy gebruik dit om ʼn Engelse woord in Afrikaans te omskryf. In jou gewraakte sin: “ usually, as ek my goals geset het, dan achieve ek hulle” (of iets in dier voege) is die Engelse woorde nie lukraak gekies nie, want dit pas semanties en sintakties. Dit kan onmoontlik lukraak woorde wees, want dit is presies wat die spreker wil sê. Lukraak sou dit miskien so gelyk het: “Garden, as ek my tooth gemind het, dan tomorrow ek hulle.” Wat natuurlik onsin is. “Usually, as ek my goals geset het, achieve ek hulle,” kommunikeer goed vir spreker en hoorder, en kommunikasie is die funksie van taal. Let op hoe die woord ‘set’ verafrikaans is met die voorvoegsel ge- . (Dit klink nie vir my mooi nie, en ek sal nie so praat nie, maar vir die spreker daarvan is dit goeie kommunikasie, anders sou hy dit nie gebruik het nie.) Ek sien ʼn vaste patroon in hierdie vermenging. Die Engelse woord is dikwels korter as die Afrikaans, omseil dikwels ʼn moeiliker grammatikale konstruksie, en ondergaan soms vormverandering om sintakties in te pas. Soms ondergaan dit selfs semantiese veranderinge. Nee, lukraak is dit beslis nie.
Jou reaksie op my bewering dat vermenging van tale is die begin van ʼn nuwe taal is, en ek haal jou woorde aan: “(dit) wys jou maar net dat jou gevoel vir tale jou in die steek laat.”
As ek sê dat vermenging van tale die begin van ʼn nuwe taal is, gebruik ek hoegenaamd nie my “gevoel vir tale” nie. Dit is ʼn linguistiese feit en is oor en oor ʼn bewys. Die linguistiek is ʼn wetenskap en toets nie met die gevoel van iemand nie. Dan beweer jy ook dat ek nie die onderskeid ken tussen vermenging en beïnvloeding nie. Hoe so? Dis dan twee aparte woorde elk met sy eie woordbetekenis en kan buitendien in die woordeboek nageslaan word. Verduidelik vir my asseblief hoe jý die verskil sien en hoe die een meer tale kan verwek as die ander. Natuurlik kom ʼn nuwe taal tot stand waar verskillende tale in aanraking kom met mekaar. Eers ontstaan ʼn streektaal, daarna word dit ʼn dialek en uiteindelik word dit ʼn nuwe taal.
Dan beskuldig jy my dat ek van die wa afval as ek beweer dat jy ʼn mandaat aan woordeboekmakers gee om te bepaal wat ʼn leenwoord is. Kom ons kyk wie val eintlik van die wa af.
Net na hierdie aantyging gee jy jou verklaring van ʼn leenwoord. As ʼn vreemde woord, volgens jou in die woordeboek verskyn (onthou: daar ingevoeg deur die woordeboekmakers) dan is dit ʼn leenwoord. Dit is dan, volgens jou, nie meer ʼn mengelwoord nie, maar ʼn ingeburgerde woord. Volgens jou dus, bepaal woordeboekmakers mos of dit ʼn leenwoord is of nie.
So ʼn paar skrywes terug het jy juis verontwaardig gevra waar kry woordeboekmakers die mandaat om woorde in ʼn woordeboek op te neem. Jy wou weet wie gee hulle die reg, wat vir my klink na ʼn ontevredenheid van jou kant af. Nou, ewe skielik, is hulle die bepalers van of ʼn woord ʼn leenwoord is of nie. (Lyk my mos jy val van die wa af.)
En nou, die amusante deel. Daar word nou van elke Afrikaanssprekende verwag om ʼn verklarende sowel as ʼn vertalende woordeboek met hom saam te dra. Voordat hy ʼn woord gebruik, moet hy eers in die woordeboek naslaan of hy mag, want Big Brother Jan Rap kan hom dalk as slapgat brandmerk en beveel word om vinger uit die gat te trek.
Groete
Angus

