Beste Jan,
Ek is verheug om te sien dat jy nou uiteindelik besef dat Linguistiek die studie van Taal is. Nou kan ek dit ʼn stappie verder voer: Linguistiek is die wetenskaplike ondersoek van Taal. In Afrikaans staan Linguistiek ook bekend as Taalwetenskap, en is ʼn definisie eintlik oorbodig. Grammatika is inherent deel van Taalwetenskap, veral met die verskyning van Chomsky op die Linguistiektoneel. Grammatika is ʼn aparte vak: die ou Grieke het dit al so bestudeer, en met Chomsky se Syntactic Structures het dit die hoofstudierigting geword wat taalondersoek betref.
Jy wil hê dat ek aan jou moet verduidelik waarom Chomsky so belangrik vir die moderne Linguistiek is. Dit sal heel moeilik wees omdat jou kennis van die Linguistiek berus op “myns insiens”. Soos alreeds gesê, ons het hier te make met ʼn wetenskap en ʼn taalteorie (soos in atoomteorie, Einstein se relatiwiteitsteorie, swaartekragteorie, ens.) “Myns insiens” van jou sal dus nie deug nie. Ek sal egter weer probeer verduidelik, aangesien jy dit vra.
Chomsky se taalteorie van Transformasionele Generatiewe Grammatika (TGG) is uiteengesit in sy werk Syntactic Structures. (En natuurlik ook in ander werke en lesings van hom. ) So geweldig is die omvang daarvan dat ek twyfel of een enkele persoon dit verstaan. Ek wil dit dus met ʼn moderne straler vergelyk. Om vir my te vra om sy werk aan jou te verduidelik, is so goed as om vir die stoffeerder of die werktuigkundige of die loods of die lugwaardin of een van die talle ingenieurs te vra om die werking daarvan te verduidelik. Selfs professore en linguiste het met die publikasie daarvan nie verstaan nie, sodat hy slegs ʼn gedeelte daarvan voorgelê het as tesis vir sy doktersgraad. Slegs met tyd en baie lesings, het die lig so plek-plek opgegaan en het sy werk nie alleenlik die studie van Taal beïnvloed nie, maar ook ander dissiplines soos die Sielkunde (dink maar aan Behaviorisme en taal), en selfs kennis van die menslike brein, ens. (Hy is ook ʼn kundige wat wêreldpolitiek betref.) Met sy werke het hy diepte gebring in die studie van die Grammatika, waar dit voor hom oppervlakkig was. Hy sê self:
But the fundamental reason for [the] inadequacy of traditional grammars is a more technical one. Although it was well understood that linguistic processes are in some sense "creative," the technical devices for expressing a system of recursive processes were simply not available until much more recently. In fact, a real understanding of how a language can (in Humboldt's words) "make infinite use of finite means" has developed only within the last thirty years, in the course of studies in the foundations of mathematics.
— Aspects of the Theory of Syntax
Net soos die lewe, het die Linguistiek ook maar geëvolueer, dis nie dat vorige linguiste juis iets “misgekyk” het nie. Die Grammatika en die grammatika van alle tale is maar bestudeer aan die hand van Latyn waarvoor daar eens so ʼn groot bewondering was. Met Chomsky het veral die studie van die Grammatika radikaal verander, alhoewel hy slegs voortgebou het op De Saussure en andere.
By Chomsky het ons geleer hoe taal aangeleer word. Deur slegs blootstelling aan ʼn taal, word ʼn ingewikkelde taalstelstel aangeleer. Dit is dus nie nodig om formeel grammatika te leer om ʼn taal baas te raak nie. Die grammatikametode het ook in onbruik geraak by die aanleer van ʼn vreemde taal en plek gemaak vir die direkte metode, wat baie naby is aan hoe iemand sy moedertaal leer, m.a.w. deur direkte blootstelling aan die taal. (Terloops, jy verstaan die woord 'moedertaal' verkeerd. ʼn Mens het nie noodwendig ʼn moeder nodig om dit aan te leer nie, dit gebeur slegs deur blootstelling aan die taal.)
Ek herhaal: aan die invloed wat ʼn ouer taal soos Engels op ʼn ontluikende taal soos Afrikaans het, kan niemand keer nie. Niemand kan iets doen aan die gang van ʼn taal nie. Woorde is betekenisdraend, en sprekers gebruik woorde wat hulle die beste ken. In jou sin “jy’t gemention dat daar nie ’n future vir ons is nie” ken die spreker die woord ‘mention’ en ‘future’ beter as ‘noem’ en ‘toekoms’ of dit kan wees dat dit meer trefkrag vir hom het. Dit kan alleenlik verkeerde woorde wees indien die hoorder nie reg verstaan nie, en dit betwyfel ek. Woorde buite konteks kan ook as verkeerde woorde bestempel word. Die doel van taal is tog maar om te kommunikeer, en die spreker van so ʼn sin slaag in sy doel. Hy gaan nie nog wik en weeg en naslaanwerk doen om te kyk of hy die woord mag gebruik of nie. Ontlening is vir die taalkundige om oor te wik en te weeg en te filosofeer of die gebruik van ʼn woord geldig is of nie.
Die woord ‘teorie’ het verskeie betekenismomente: 1. Grondreëls van die wetenskap om waargenome feite en of verskynsels te verklaar. So is daar die evolusieteorie, die atoomteorie, die swaartekragteorie. 2. Voorstelling in ʼn mens se gedagte sonder om rekening te hou met die werklikheid. Ek het ʼn teorie gehad dat as ek ʼn rubberslang in my papajaboom hang, die ape nie my vrugte sou vreet nie. Ek het net my geld gemors om die ding te koop.
ʼn Teorema is ʼn wiskundige stelling.
Natuurlik het Afrikaans vertak uit 17de eeuse Nederlands, maar waarom het dit so afgewyk? En hoe lyk hierdie afwyking? Ek het jou al voorheen die antwoorde hierop gegee: dit het vertak omdat dit in aanraking met ander tale gekom het, soos bv Maleis-Portugees. Fleksie het begin verdwyn en nuwe woorde het bygekom, terwyl Nederlandse woorde in die vergetelheid verdwyn het. So erg was die verandering dat taalkundiges verskriklik gemor het oor die swak Nederlands. Uiteindelik is dit uitgeken as ʼn nuwe taal en Kaaps of Kaaps-Hollands genoem.
As iemand wat lief is vir Afrikaans is die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans iets leliks, maar dit is “myns insiens” wat praat, en “myns insiens” is onwetenskaplik. As iemand wat so ʼn bietjie Taal bestudeer het, weet ek dat dit die gang van enige taal is om te verander, anders is dit ʼn dooie taal. Ek besef dat Engelse woorde nie die taal kan skaad nie, maar slegs verryk. As Afrikaans agteruitgaan as gevolg van Engelse woorde, dan is dit in elk geval nie die moeite werd om dit te probeer beskerm nie. Dan het dit nutteloos geword, en moet ons maar liewer oorskakel na Engels wat nie stik aan vreemde invloed nie.
Groete
Angus


Kommentaar
Ek't gelees tot by "tesis vir sy doktersgraad". En nie verder nie.
Beste Angus
Jy sê:
"Dan het dit nutteloos geword, en moet ons maar liewer oorskakel na Engels wat nie stik aan vreemde invloed nie." Daar is 'n inherente luiheid by mense, want dit is makliker om die 'produk' van ander se denke te gebruik as om self die grysstof in te span.
En dit is nie net tot Afrikaanssprekende beperk nie, ook Nederlanders is lief daarvoor.
Moenie deur mekaar raak nie, nie almal is Hollanders nie, net party maar almal is Nederlanders. Hollanders praat 'n dialek soos die ander stamme, daarom is Afrikaans nie suiwer 'n afstammeling van Nederlands nie, maar wel van die verskillende dialekte wat die nedersetters gepraat het.
Daarom praat baie Kapenaars nog van 'ik' en nie 'ek' nie. Jou betoog vir die invoer van Engelse woorde het dalk ook met jou inherente luiheid te doen, want jy is tog meer Engels as Afrikaanssprekend.
Ek glo nie 'Her Majesty the Queen' sal baie ingenome met my wees nie as ek die
"Queen’s of King’s English' so opneuk met Afrikaans soos jy graag met Afrikaans
doen.
Beste FC Boot,
Dankie vir die inligting; ek sal nie weer deurmekaarraak met Nederlanders en Hollanders nie.
Waar kom jy daaraan dat ek wil "opneuk" met Afrikaans? Ek beskryf maar net wat met die taal gebeur. Ek het nie Afrikaans gemaak nie, en ek het nie vir Afrikaanssprekendes gesê hulle moet gebruik maak van Engelse woordeskat nie. Al wat ek sê is dat dit in alle tale gebeur dat vreemde woorde daardie taal se woorde verdring. Dink maar aan hoe baie Maleis-Portugese woorde Hollandse woorde verdring het. (Ek het niemand nog hoor kla oor 'baadjie' nie.)
Praat van Queen's English? Kyk maar hoe die Amerikaners en Suid-Afrikaners en Australiërs en Japannese en Chinese en Taiwannese en wie weet wie nog, dit opneuk.
Groete,
Angus
Beste Raed-na-Gael,
Veels geluk! Jy vorder fluks!
Groete,
Angus
Beste Angus,
Jy skryf:
" Ek beskryf maar net wat met die taal gebeur."
Wat met die taal gebeur, gebeur maar net omdat mense inherent lui is. Hoekom nou 'n nuwe woord skep as jy een uit 'n ander taal kan neem sonder om daaroor na te dink.
Nou skryf jy verder: " Kyk maar hoe die Amerikaners en Suid-Afrikaners en Australiërs en Japannese en Chinese en Taiwannese en wie weet wie nog, dit opneuk."
Jy sê egter nie hoekom hulle dit opneuk nie? Hulle neuk dit op omdat hul taalonderrig gebrekkig was en niemand hul reggehelp het nie.
Dit maak die opneukery vir die leser en hoorder natuurlik soveel makliker as jy die voortou daarin neem.
Beste F C Boot,
Dink jy al die miljoene Afrikaanssprekendes is taalkundiges wat voortdurend, dag na dag, neologisimes kan skep? Die behoefte aan nuwe woorde word daagliks groter, want Afrikaans het nog nie eens sy kinderskoene ontgroei nie.
Die 'opneukery' van 'n taal, is hoe die leek taalontwikkeling sien. Kyk net hoe is Hollands 'opgeneuk' deur oa gebrekkige onderwys en taalonderrig, en die produk daarvan is Afrikaans.
Jy moet net hoor hoe ek en my Zulusprekende tuinier Engels 'opneuk', want as ons dit nie doen nie, trek hy al my blomme saam met die bossies uit en kap my papajabome af saam met die klimop. Dis uit nood en die graagte om te kommunikeer, dat Engels orals so 'opgeneuk' word, en ek kan nie juis Queen's English met hom gesels nie. Volgens jou moet ek hom reghelp met Engels, terwyl my roosbome daaronder ly.
Onderrig in 'n taal is ook nie altyd die antwoord nie. Ek het vier jaar op skool Duits geleer, en twee jaar op universiteit, en jy moet hoor hoe 'neuk' ek die Duits op as ek met my Duitse vriend in sy taal wil praat.
Groete,
Angus