Antwoord op Angus se teenreaksie

  • 0

Beste Angus

Die “kastige” definisie tussen leenwoord en indringerwoord is toe nie ’n definisie nie, dis net ‘n beskrywing, ’n verduideliking. Jy sukkel om die verskil te sien, so hier is ’n verdere verduideliking (wat ek reeds sedert miskien meer as ’n jaar terug by herhaling aan jou gegee het): ’n Leenwoord sal jy in ’n Afrikaanse verklarende woordeboek kry. Die Engelse woorde wat volgens jou nou Afrikaans so verryk (wat ek indringerwoorde noem) sal jy NIE in ’n Afrikaanse verklarende woordeboek kry nie, maar wel in ’n Engelse verklarende woordeboek.

Om op te som – woorde in ’n Engelse verklarende woordeboek is woorde behorende tot die Engelse taal en woorde in ’n Afrikaanse verklarende woordeboek is woorde behorende tot die Afrikaanse taal. Om te toets of die sin “as ek vir my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik” enige vreemde woorde bevat soek elkeen in die Afrikaanse woordeboek op en dié wat NIE daarin voorkom nie moet jy dan onderstreep (hulle is nie Afrikaans woorde nie). Soek nou die woorde op wat onderstreep is in die Engelse verklarende woordeboek en as jy hulle dan daar vind is hulle Engelse woorde. Miskien bietjie moeite maar dit gaan jou baie help om die verskil tussen leenwoorde en wat ek indringerwoorde noem, te verstaan.

Jy’s reg; ek het ’n derde taal gehad op skool en dit is op dieselfde manier aangebied as wat die tweede taal aangebied is. In al twee die vakke was daar ’n grammatikaboek en dan voorgeskrewe leesboeke. Is daar fout daarmee? Daar was nie sprake van “wette van Mede en Perse” nie, net grammatikareëls wat jy onder die knie moes kry om die taal te kan praat.

Daar is geen ander manier om ’n taal te leer as om die grammatika en die woordeskat onder die knie te kry nie. Of jy nou die grammatika (en die woordeskat) aan moedersknie leer, of volgens die Berlitzmetode, of volgens wat jy die “verkeerde” grammatika-vertaalmetode noem of watter metode ook al, jy leer die grammatika. Die kortpadmetode is natuurlik daardie taal se grammatika dmv ’n boek of leermeester.

Jy sê “die grammatikus bestudeer die taal en hy beskryf die werking daarvan”. Wat probeer jy hier sê? Ek kan vir jou een ding sê, mense het tale gepraat lank voor enige grammatikus dit bestudeer het. Miskien bedoel jy grammatici bestudeer en beskryf dan in die proses om ’n taal te standaardiseer? Ek weet nie, jy sal moet uitbrei hierop.

Jy vra of iemand vir my voorgeskryf het om te sê “I am” ipv “I is” en of dit my taalgevoel is wat dit bepaal. Ja natuurlik word dit voorgeskryf deur Engels se grammatika. Taalgevoel het weinig met grammatika te doen behalwe in dié sin dat jy die grammatika maklik aanleer, ’n aanleg vir tale dus as jy ’n taalgevoel het. Al is jou taalgevoel 11+ op ’n skaal van 1 tot 10 sal jy nie “ek is honger en as julle nie nou vir my kos gee nie gaan ek na ‘n nder restourant toe” in Russies kan sê nie; daarvoor moet jy die woordeskat hê en die grammatika ken.

Ek ken ’n sendeling wat een of ander Midde-Afrikataal van ’n baie primitiewe stam moes aanleer. As hy nie grammatika-lesings van ander sendelinge gehad het nie sou dit hom jare geneem het as hy net bloot tussen hulle moes gaan sit en die taal “absorbeer” – jy kan eenvoudig nie ’n ander taal leer sonder om die grammatika en die woordeskat te leer nie.
Waar my taalgevoel wel inskop, en my laat gril soos wanneer ’n erdeskottel oor sand gestoot word, is by die aanhoor van ’n sin soos “usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle.” Ek dink jy voel dieselfde; jy het mos al gesê hierdie soort ding is vir jou “gruwelik lelik”.

Jy sê “Afrikaans is juis gestig as gevolg van ’n renons wat mense gehad het in Engels.” Angus, ek weet van g’n taal wat “gestig” is nie behalwe nou miskien die kunsmatige tale soos Esperanto (Dr Zamenhof) maar selfs dan twyfel ek of mens van “stig” kan praat. Buitendien, Afrikaans, nou wel nie in die huidige vorm nie, is gepraat lank voor daar ’n Engelsman op die horison verskyn het. Dit is absurd om te beweer Afrikaans het ontstaan as gevolg van ’n afkeer van Engels en/of Engelse – gaan kyk maar bietjie na die Afrikaanse taalgeskiedenis.

Die wonderlikhede van Engels wat jy so besing is waar maar dit geld vir alle tale. Het jy nie self hier, ’n brief of twee terug, gesê geen taal kan bo ’n ander gestel word nie, so iets? Selfde met Afrikaans; hoftaal, akademiese taal, wetenskapstaal ens en dis juis my betoog – met Engels nou die amptelike taal, en die regering se vyandigheid jeens Afrikaans, is dit ons Afrikaanssprekendes se plig om die indringing van Engelse woorde, en dus die verskraling van Afrikaans, te stuit.

Afrikaans kan nie Engels word nie; Afrikaans word verswak deur die taal swak aan te wend (Engelse woorde, sintaksis ens) en uiteindelik vervang Engels maar vir Afrikaans (vgl jou stelling oor die kinders wat Engels is maar die ouers is Afrikaans). Jy’s die ou wat gesê het Afrikaans word verryk deur uit Engels te “put” en ek het vir jou gesê daar’s nie so ’n ding nie; Gaelic het bv nie ’n sterk taal geword deur ’n geputtery uit Engels nie; Gaelic is dood want hy’s vervang deur Engels.

Jy sê Engelse woorde in Afrikaans kan nie die taal laat verdwyn nie. Wel, seker nie een of twee of tien of honderd nie, maar dit is simptomaties van van ’n onverskilligheid van Afrikaanssprekendes jeens hulle taal en uiteindelik is die taal so geradbraak dat dit nie meer gepraat word nie – Afrikaanssprekendes sit hulle kinders in Engelse skole of maak die kinders Engels groot en binne ’n geslag of twee is Engels die Myburghs, Van Wyks, Van der Merwes, Bosmans ens se huistaal.

Jy sê Oudengels was Germaans en was verryk deur Franse woorde. Dis nou ’n bietjie ander deuntjie as jou oorspronklike stelling dat Engels verryk is deur Latynse woorde wat via Frans (en voor dit die religie) ingekom het.

Wat die Iere betref, hulle praat ook Engels in Ierland maar die voorbeeld was om jou te wys dat kultuur, en dus taal, deel van jou identiteit is; nie bloot geluide wat jy met jou mond en keel maak om te kommunikeer nie soos jy beweer.

Jy sê ek stry met alles wat jy sê. Indien dit waar is, geld dieselfde nie ook vir jou nie (jy ken mos die tango-storie)? Dit is in elk geval nie waar nie; laat ek vir jou opsom wat ek sê:

Ek sê jy kan nie ’n taal praat as jy nie die grammatika (en natuurlik die woordeskat) ken nie. Jy stry daaroor; praat van hoe verkeerd die “grammatikavertaalmetode” is en wie weet wat nog.

Ek sê Afrikaans gaan agteruit met al die Engelse woorde wat al hoe meer gebruik word. Jy stry daaroor; jy reken dis die begin van ‘n nuwe taal.

Ek sê Afrikaans word verswak en verskraal deur al die Engelse woorde. Jy stry en beweer die Engelse woorde verryk Afrikaans al verdwyn die oorspronklike Afrikaanse woorde in die “vergetelheid”.

Ek sê die Engelse woorde is NIE leenwoorde nie maar indringerwoorde. Jy stry (lyk my jy weet nie regtig wat ’n leenwoord is nie, maar hierbo het ek nou vir jou ’n oefeninkie gegee om einste te bepaal).

Of stem jy saam met wat ek sê?

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top