Antwoord op Angus se "sappige taal"

  • 2

Dagsê Angus

Jy's 'n glibberige kalant. Kom ek wys jou hoekom:

Die idee sweef rond onder die apologete vir swak Afrikaans dat Afrikaans nie sal verdwyn solank hy nog gepraat word nie. As bewys dat tale, ten spyte van die feit dat hulle gepraat word, oorgeneem kan word deur 'n ander taal het ek die Keltiese tale in die VK as voorbeeld gebruik.

Jy sê in 'n daaropvolgende brief dat, volgens "Jan Rap se teorie", Nederlands in Suid-Afrika deur Afrikaans oorgeneem is.

Ek sê vir jou dis loutere onsin; dis soos om te beweer 'n skoenlapper het sy papie oorgeneem. Jy't dit blykbaar nie verstaan nie, ek lei af jy't gedink ek beskryf die 'skoonheid' van die taal en ek moes weer aan jou verduidelik dat iets wat voortvloei uit iets anders nie daardeur 'oorgeneem' is nie. Nog 'n voorbeeld, vir die wis en die onwis: 'n Pasgebore baba neem nie die ma oor nie want, na die geboorte, is altwee nog daar.

En waaragtig, daar kom jy in jou nuutste brief weer met die storie dat ek " ... so mooi verduidelik [het] hoe Engels die Britse eilande ingeneem het, en nou, ewe skielik, wil jy dit nie as “Jan Rap” se teorie aanvaar dat ’n taal ’n ander taal kan inneem nie." Laat ek weer eens vir jou verduidelik: Engels het nie UIT die Iere en Skotte se moedertale ontstaan nie; Engels, 'n Germaanse taal, het daardie Keltiese tale (ook iets waarmee jy nog sukkel, die feit dat die Keltiese tale nie Germaanse tale is nie) verdring, oorgeneem, net soos Engels tans besig is om Afrikaans (EN Zoeloe, Xhosa, Sotho ens) te verdring. Nederlands hier het Afrikaans geword, Engels in die VK het die Skotte en Iere se tale oorgeneem.

Dan vra jy my in een van die vorige briewe om konsekwent te wees maar jy verduidelik nie waar jy dink ek nie konsekwent was nie. Ek vra jou daarna en in jou laaste brief vertel jy jy verduidelik dit WEER EENS en jy vervolg met 'n stuk geskiedenis. Nou wat nou, waar is dieu verduideliking waarvan jy gepraat het?

Jy is reg waar jy sê 17de eeu se Nederlands het met ander tale in aanraking gekom en het van daardie tale se woorde opgeneem maar soos ek jou gesê het, Afrikaans is nie 'n mengsel van daardie tale nie; jy sal nie een van daardie tale se sintaks in Afrikaans herken nie en die woorde vanuit daardie tale maak 'n klein persentasie van die Afrikaanse woordeskat uit. F Marx se moedswillige stuk drekafrikaans bevat 'n groot aantal Engelse woorde en nie een van hulle is leenwoorde nie; sommer net tipies Engelse woorde wat 'n tweedetaalspreker, iemand wat nie eintlik Afrikaans kan praat nie dus, sou gebruik het.

Jy hou aan sê jy weet wat 'n leenwoord is maar alle aanduuidings is dat jy dink F Marx se stuk is vol leenwoorde. Dit is nie leenwoorde daardie nie, dis nie eers anglisismes nie, dis sommer gewoon Engelse woorde wat Afrikaanse woorde vervang omdat Marx nie die Afrikaanse woorde ken nie.

Jy reken Afrikaans sukkel om te kommunikeer, vandaar die 'leenwoorde' wat F Marx gebruik het. Jy is seker die eerste ou wat ek teëkom wat dink sy taal is ontoereikend. Sou NP van Wyk Louw se Raka, of Die Beiteltjie, beter in drekafrikaans gewees het, of sou Breyten se poësie beter gewees het as hy lukraak Engelse woorde ingesmyt het? Dink jy Afrikaners kon nie hulle gedagtes ordentlik uitdruk voor hulle met die Engelse in aanraking gekom het nie? Natuurlik nie man.

'n Leenwoord vul 'n leemte, 'n woord (woorde in die geval) soos laissez faire byvoorbeeld. 'n Drekwoord word gebruik in plaas van 'n bestaande word soos 'involve' in plaas van 'betrek', 'even' in plaas van 'selfs', 'ten o' clock' in plaas van 'tienuur', 'eleven' in plaas van 'elf' ens.

Jy sê taal se "...doel ... is om te kommunikeer, net dit." Verkeerd. Daar is digkuns, prosa, vermaak ens. Jy mag nou wel aanvoer dat dit ook kommunikasie is maar die feit bly staan, taal is veel meer as net die oordra van boodskappies. Jy sê ook 'n taal verdra nie sinonieme nie wat ook onsin is; sinonieme maak 'n taal ryk. Jy beweer drekafrikaans word ingespan omdat die Afrikaanssprekende die leemte aanvoel. Verkeerd, die Afrikaner is gedienstig, wil nie golfies maak nie, is nie trots op sy taal nie (die dreksprekers nou) terwyl die Engelsman oor die algemeen minder slordig is wat taalgebruik betref. Hy vind dit nie nodig om die Afrikaner te beïndruk nie waar die Afrikaner tog te gretig is om Engels soos 'n Engelsman te praat. En, as deel van hierdie anglofiliese bou, verkrag hy sommer sy taal ook met Engelse woorde, soos Woody Allen sy eie bril stukkend trap.

Dit is so dat Afrikaans buigbaar en sappig is (seker ander tale ook) maar hoe buigbaar ookal gaan hy stagneer en doodgaan as ons toelaat dat Engels hom oorneem.

Groetnis

Jan Rap

NS Ek gaan vir so tien dae oorrivier wees (oorsee is te duur en te ver) so, as ek nie reageer nie is dit net tydelik, DV.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek skryf weer vir jou 'n aparte brief, want ek glo nie hier is plek in hierdie Reageer/Post a comment vierkantjie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top