Antwoord op Angus se kommentaar van gister

  • 1

Beste Angus

Die Geschichte hörte sich nun wieder anders an!* Jy het nou al so rondgespring tussen struktuur en grammatika en leenwoorde dat jy self nou verdwaal is lyk dit my. Jy het al op ’n stadium gesê grammatici bestudeer die struktuur en skryf dan ’n grammatika vir daardie taal. (in my opvolgbrief het ek jou gevra of ‘struktuur’ nie maar deel van die grammatika is nie). In dieselfde brief sluit jy af met (oor Maleis-Portugese invloed) “dit vorm ’n inherente deel van Afrikaans. Dit kom presies ooreen met jou [Jan Rap se] uitkenning van ’n leenwoord al dan nie, en daarom bevraagteken ek ook hierdie skrywe van my [Angus s’n].”

Jy skryf ook (jou kommentaar 25-8) dat sekere woorde uit Maleis-Portugees gebruik word wat “nie deur die spreker uitgeken as komende van Maleis-Portugees nie. Dis Afrikaanse woorde.” Dis mos presies wat ek al voorheen vir jou gesê het toe ek die verskil tussen leen- en vreemde woorde verduidelik het; ’n leenwoord is al so ingeburger dat die spreker nie eers weet hy’s aan ’n ander taal ontleen nie.

In jou nuutste kommentaar praat jy nou wéér van my ‘reël’ vir ’n leenwoord waar jy, lyk dit my, nou weer die kat aan die stert beet het. My reël sou nou wees dat, as jy weet uit watter taal die woord ontleen is, is dit nie ’n leenwoord nie. Laat ek nou weer die verskil tussen ’n leenwoord en ’n vreemde woord verduidelik: ’n Leenwoord is al so in die taal ingeburger dat sprekers nie eers weet waar die woord vandaan kom nie. Dit sluit mos nou natuurlik nie uit dat as jy weet waar die woord vandaan kom dit nie ’n leenwoord is nie. Die Engelse weet byvoorbeeld ‘apartheid’ en ‘voetstoots’ kom uit Afrikaans en ons weet ‘establishment’ kom uit Engels maar dis woorde vir begrippe waarvoor die onderskeie tale nie ordentlik-beskrywende woorde gehad het nie. Dit is leenwoorde, dit vervang geen woorde nie maar is bykomende woorde.

Vreemde woorde aan die ander kant, met ander woorde mengelwoorde, is woorde uit ander tale wat die reeds bestaande woord in daardie taal vervang sommer uit mode of moedswilligheid of wat ook al. Vreemde woorde sal dan ook net verstaan word as die een met wie gepraat word daardie vreemde taal ken. Dit is dan ook sommer woorde wat lukraak ingegooi word: Die ‘Kaapses’ byvoorbeeld het nie ’n stel spesifieke Engelse woorde, sê 953 van hulle, wat hulle gedurige gebruik nie; hulle gebruik ENIGE Engelse woord en dan somtyds ook nie.

So, ek sê weer, die ‘Kaaps’ daar onder en ook die mengeltaal hierbo is bloot slordige taalgebruik vanweë die vreemde woorde daarin. Dis mos maklik om te verstaan.

Terloops, jy kom weer met jou huishulp-storie wat 4 tale praat maar niks van grammatika weet nie. Dis onmoontlik, as sy nie die grammatika ken nie sal sy nie daardie tale kan praat nie. Die van daardie tale wat sy nie perfek praat nie is omdat sy nie die grammatika perfek ken nie, soos byvoorbeeld in my geval met Afrikaans en Engels. ‘Taal’, kan jy sê, is die versamelwoord vir grammatika (sluit sintaksis en struktuur in) en woordeskat. Die spreker, soos jou huishulp en jou Duitse vriend, hoef nou wel nie die grammatikaterme te ken nie maar om die taal te praat moet jy die woordeskat hê en die grammatika ken.

Groetnis
Jan Rap

NS *Uit die liedjie “Drei Chinesen mit dem Kontrabas”.

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    ʼn Pragtige liedjie; jammer dat jou stem daarby dit vals laat klink. Die storie het nie verander nie. Wat ek eens beweer het, bly nog staan: elke taal het struktuur. Grammatici bestudeer daardie struktuur, en beskryf dit. Daardie beskrywing word die grammatika van daardie taal genoem.
    Taal is, ten spyte van die gemak wat ʼn kleuter dit aanleer, geweldig kompleks. Geen grammatikus kan die struktuur daarvan volledig beskryf nie – slegs gedeeltes daarvan. FA Ponelis se lywige Afrikaanse Sintaksis raak-raak maar net so aan die onderwerp. M de Villiers se Afrikaanse Klankleer is maar net ʼn inleiding tot die fonetiek, en so kan ek vir jou letterlik honderde boeke opnoem wat die taalstruktuur van Afrikaans beskryf. Almal is natuurlik grammatikaboeke, want grammatika kry jy net in boekvorm omdat dit geskryf is.
    Grammatika kan uitgeken word aan tegniese woorde wat gebruik word. ʼn Grammatikaboek wat die klankstelsel van ʼn taal beskryf, sal bv praat van konsonant, vokaal, diftong, vokalisering, assimilasie, assibilasie, metatesis, ens. ʼn Grammatika wat die sintaksis van ʼn taal beskryf, sal praat van woordsoorte, selfstandige naamwoord, werkwoord, voorsetsel, naamwoordstuk, werkwoordstuk, verbindingsadjunkte, ontkenningsvorme as kwantors, passiewe en kopulakonstruksies, bysinspedante, nominaalkonstruksies, ens. Grammatika wat die semantiek beskryf, sal praat van betekenis, betekenisverandering, sinonimie, antonimie, woordeskat, eiegoed, leengoed, nuutskepping, leenwoorde, ens.
    Geen mens ken ʼn taal se grammatika volledig nie, en die meeste sprekers van ʼn taal, glad nie. Dis nie nodig vir die kroegbesoeker om te weet dat adjektiwiese voorsetselgroepe optree as kopulapredikate as hy wil sê dat sy mededrinkers “deur die blare” is nie.
    Enige taal het ʼn struktuur en is maklik vir die mens met sy taalvermoë om onder die knie te kry. Grammatika is ʼn beskrywing van daardie struktuur en net vir die student.
    Taal is nie ʼn versamelnaam vir sintaksis en struktuur soos jy beweer nie (sjoe, eina!).
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top