Beste Angus
Jou opmerkings van 27 Augustus onderaan my brief van 25 Augustus 2015 verwys.
Jy sê in Elsas is Frans en Duits “mooi opgemix”. Dit is nie so nie; Elsassies is ‘n dialek, daar is nie sprake van Standaardduits gemeng met woorde van Standaardfrans, of andersom, nie. Indien daar wel gevalle is waar so iets voorkom praat hulle bloot slordige Duits of slordige Frans, mengeltaal met ander woorde en nie Elsassies nie. Hier is ’n voorbeeld van Goethe se bekende ‘Erlkönig’ in die Elsas-dialek:
Wer ritt eso spoot durch Nacht un Wind?
Dis isch e Babbe mit sim Kind,
Er het sine Knäkes fescht an sich g'schniert,
fur dass er net kejt un as er nit friert.
As verwysing, hier is die oorspronklike Duits:
Wer reitet so spät durch Nacht und Wind?
Es ist der Vater mit seinem Kind;
Er hat den Knaben wohl in dem Arm,
Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm.
Soos jy kan sien is daar nie Standaardfrans in nie, dit is nie Frans en Duits gemeng nie maar n dialek (wat wel deur Frans beïnvloed kon gewees het maar nie Duits gemeng met Frans nie). In Elsas praat hulle dus nie Duits en Frans “mooi opgemix” soos jy beweer nie.
In Suid-Afrika praat hulle wel Afrikaans en Engels “mooi opgemix”; dus mengeltaal, NIE‚ ’n dialek nie. As daar wel ’n dialek van Afrikaans genaamd Kaaps in die Kaap is, is dit uit hoofde van sekere grammatikale afwykings, ander uitspraak, sekere sintaktiese variasies en so aan maar nie weens die feit dat Engelse woorde links en regs ingegooi word nie. Wat jy “Kaaps” noem is deurspek met woorde uit Standaardengels. Jou “Kaaps” is bloot ’n mengeltaal. Ek het al voorheen gesê dat ek nie ontken dat daar wel ’n streektaal soos Kaaps is nie (ander aksent, effens gewysigde grammatika soos gebrek aan infinitief na die modale hulpwerkwoord ens) maar Afrikaans gemeng met lukrake Engelse insetsels (sinsnedes, woorde) is mengeltaal.
Voor jy nou weer gaan huil oor “lukraak”; met lukraak bedoel ek die spreker is nie konsekwent nie. Hy sal nou “goal” gebruik en vyf minute later “doelwit” om nou maar ‘n voorbeeld te noem.
Angus, ek verstaan hierdie stelling van jou nog steeds nie so lekker nie; ek haal jou aan:
“Grammatici het Afrikaans bestudeer, en die struktuur daarvan ontdek en dit is aan kinders geleer sodat hulle Afrikaans korrek kan skryf en praat. Dis waarom ek beweer dat AB-Afrikaans sy bestaan te danke het aan skoolonderrig.”
So, volgens jou, het kinders nie reg gepraat voordat Changuion vir hulle ’n grammatika vir Afrikaans geskryf het nie en, na hierdie grammatika nou deur Changuion geskryf is, het die kinders anders as hulle ouers gepraat. Is dit wat jy sê? Verder, grammatici het die “struktuur” bestudeer en toe die grammatika geskryf, so voor dit was daar nie grammatika nie; die kinders (en hulle ouers) het grammatikaloos gepraat. Maak nie sin nie.
Angus, niemand skryf vir ’n aal ’n grammatika nie (behalwe nou kunsmatige tale soos byvoorbeeld Dr Zamenhof met Esperanto ens); hulle stel dit bloot ten boek, die grammatika (afgewater, gesofistikeerd of hoe ook al) is reeds daar. In die lig hiervan maak hierdie volgende stelling van jou dan ook nie sin nie: “Onthou, ’n grammatikus kan enige taal neem, die struktuur daarvan bestudeer, en ’n grammatika vir daardie taal skryf. Die rede daarvoor is dat die dieptestruktuur van alle tale universeel is.”
Ek weet ook nie mooi wat jy met “struktuur” bedoel nie. Het struktuur te make met goed soos of die byvoeglike naamwoord na die selfstandige naamwoord kom soos Frans of voor die snw soos Afrikaans en Engels, of die werkwoord laaste kom soos in Afrikaans of na die onderwerp soos in Engels ens ens? Indien wel, is dit nie maar dan deel van die grammatika nie?
Ek verstaan ook nie mooi hoekom jy aanhoudend sê grammatika is “deskriptief” nie. As jy ’n vreemde taal gaan leer dan koop jy ’n boek wat aan jou voorskryf hoe jy daardie taal moet praat, met ander woorde, soos die boekies ‘Teach Yourself Latin/Spanish/ wat ook al byvoorbeeld, vertel jou hoe die grammatika werk van daardie taal, skryf dus aan jou voor hoe om daardie taal te praat, voorskriftelik dus.
Om terug te kom tot die mengeltaalkwessie. Mengeltaal is wanneer jy twee tale meng, maak nie saak wat die oorsprong van, of wat die invloed van ander tale (wat leenwoorde, afgeleide woorde ens betref) op enige van die tale wat gemeng word is of het nie. As Engels ’n groot Romaanse inspuiting in 1066 gekry het, gaan dit geen Engelsman wat nie Frans ken nie enigsins help as iemand Engels praat en elke tweede of derde woord is ’n Franse woord nie; die Engelsman gaan dit bloot nie verstaan nie. So is dan wat baie mense onder ‘Kaaps’ verstaan nie Kaaps nie; dit is bloot slordige mengeltaal vanweë die baie Engelse woorde daarin.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Na al die ellelange korrespondensie oor taal, verstaan jy nog nie hoe taal werk nie. Jy hou aan my ʼn stukkie 19de eeuse Elsassies voor om te “bewys” hoe die inwoners van Elsas vandag praat. Dis mos belaglik, om die minste daarvan te sê. Ek gaan mos nie Klaas Waarsêer se geskrifte gebruik om vir iemand te wys hoe mense vandag Afrikaans praat nie?
Elsas was eens deel van Duitsland met Duits as amptelike taal. Die inwoners het Elsassies gepraat wat ʼn dialek van Duits was. Soos enige taal, het dit onder die invloed van ander tale begin verander, tot so ʼn mate dat die hedendaagse inwoners sal sukkel om Middeleeuse Elsassies te verstaan. Nie alleenlik toon dit sterk Jiddisje invloed nie, maar sedert Elsas deel van Frankryk geword het, met Frans as die amptelike taal, is die woordeskat daarvan verryk met aanpassings van Franse en Engelse woorde. Die inwoners verstaan nog Duits, maar baie van hulle is onwillig om dit te praat, en verkies om liewer Frans of Engels te praat met vreemdelinge.
Die stukkie Elsassies wat jy aan my voorhou, bevat niks Frans nie, maar dis nie ʼn bewys hoe mense vandag praat in Elsas nie.
Streng gesproke, is Kaaps nie ʼn dialek van Afrikaans nie, soos ek in ʼn vorige skrywe verduidelik het. Uit Nederlands het, om verskeie redes, ʼn nuwe taal, nl Kaaps of Kaaps-Hollands, ontstaan. Hierdie Kaaps het onder invloed van Engels nog verder verander en hieruit het Afrikaans tot stand gekom. Kaaps het so “ongesuiwer” bly voortbestaan, terwyl Afrikaans deur taalpuriste gesuiwer is. Alle invloed van Engels moes teen wil en dank uit die taal geweer word. Hierdie suiweringsproses duur tot vandag toe nog voort.
Die woord “lukraak” is ʼn goeie voorbeeld van so ʼn suiweringsproses. Die woord “random” het te Engelserig geklink en “sonder uitsoek” te lomp. Toe maak een of ander slim ou die woord “lukraak” uit bestaande woordmateriaal. Intussen is ʼn ene Jan Rap besig om die betekenis daarvan so te verander: lukraak: ʼn proses waarvolgens ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik word.
Teen hierdie tyd is ek seker: om die woord “grammatika” aan jou te verduidelik, is futiel. Jy sal dit in der ewigheid nooit verstaan nie. Jy glo maar daaraan dat ʼn mens eers die grammatika van ʼn taal moet leer om dit te kan verstaan en praat. Volgens jou moet babas en kleuters eers die grammatika onder die knie kry voordat hulle kan praat.
Daar is twee maniere waarop ʼn taal aangeleer word: deur blootstelling aan die taal, en deur die grammatika-vertaalmetode. Babas en kleuters leer taal deur daaraan blootgestel te word, sonder om te verwys na selfstandige naamwoorde en werkwoorde en sinsontleding en naamvalle. Vreemde tale word dikwels aangeleer deur middel van die grammatika, soos bv Duits op skool. Afrikaans en Engels as tweede taal is aanvanklik dmv die grammatika-vertaalmetode aangebied, met minder sukses. Eers toe die direkte metode, nl blootstelling aan die taal gebruik is, het tweedetaalonderrig vooruitgegaan. As jy natuurlik ʼn vreemde taal wil leer sonder dat jy daaraan blootgestel is, kan jy dit deur die grammatika daarvan aanleer.
Jou verduideliking van ʼn mengeltaal verstaan ek nie. Jy spuit nie een taal in ʼn ander in nie. Tale raak vermeng as gevolg van interaksie tussen sprekers, en so word leenwoorde oor en weer gebruik, totdat hierdie woorde deel word van die ander taal. Jy hoef nie kennis te hê van ʼn ander taal om daardie taal se woorde te kan gebruik in jou eie taal nie. Ek ken baie Engelse wat nie ʼn woord Frans verstaan nie. Ek ken ook baie Afrikaanssprekendes wat nie ʼn woord Maleisies of Portugees verstaan nie. Dit verhoed hulle nie om te weet wat ʼn sambreel is nie.
Groete,
Angus
Interessant hoe dit geheel en al puristies normaal is om Afrikaanse woordeskat by Duits en Nederlands te leen en steel, maar hoe dinge blykbaar 'n unbearable mengelmoes word wanneer Afrikaanse woordeskat by Engels, Maleisies, Portugees en isiZulu geleen en gesteel word. Ek wag nog om daardie aardskuddende studie te lees van hoe historiese Afrikaners se obsessie met rasse-purisme (Peter Sellers se handjie in Dr. Strangelove!) ingespeel het op hulle standaardisering van die Afrikaanse taal.
Etienne, as jy bietjie dink oor die storie sal dit vir jou glad nie snaaks wees dat dit in die haak is om by Duits en Nederlands te leen en te steel maar taboe is ten opsigte van Engels. Duits en Nederlands is nie 'n bedreiging vir Afrikaans nie; die Afrikaanssprekende sit byvoorbeeld nie heeldag en Duitse TV-kanale kyk soos die geval met Engels nie. Duits of Nederlands is ook nie die amptelike taal van SA nie; Engels is en Afrikaanssprekendes praat soveel Engels in hulle daaglikse omgang dat hulle nie meer ordentlike Afrikaans kan praat nie. Buitendien, Engels is in 'n ander sleutel om nou 'n musiek-analoog te gebruik; Engelse uitspraak en woorde in Afrikaans klink, behalwe gedienstig, ook baie kok.
Jy is ook verkeerd dat daar weerstand teen woorde uit Maleis, Portugees en Zoeloe is want insgelyks is nie een van hierdie tale 'n bedreiging vir Afrikaans nie.
Terloops, hoekom praat jy van 'isiZulu'? Jy sal tog nooit sê my kind neem Deutsch en English op skool nie, jy sal praat van Duits en Engels. So hoekom isiZulu?