Antwoord op Angus se kommentaar onderaan my brief van 6 deser

  • 2

Beste Angus

Daardie groot woorde wat jy so rondgooi laat my dink jy verwar linguistiek met grammatika. Om ’n taal te kan praat moet jy die woordeskat hê en jy moet die grammatika ken, anders kan jy hom nie praat nie. As jy, onder andere, nie weet hoe om te verbuig en te vervoeg nie, nie die lydende vorm of die subjunktief kan gebruik nie, nie die woordorde reg inspan nie ens kan jy daardie taal nie praat nie.

Natuurlik, soos ek al vele male gesê het, jy hoef nie die grammatikaterme te ken nie; jy hoef nie te weet ek gebruik nou ‘n byvoeglike bysin, of die bedrywende vorm of wat ook al om die grammatika korrek te kan gebruik nie. Om die waarheid te sê, ’n groot persentasie Afrikaanssprekers sal jou nie eers kan sê wat ’n byvoeglike bysin is nie alhoewel hulle dit elke dag gebruik. Moedertaalsprekers, byvoorbeeld, kry die grammatika al aan die spreekwoordelike moedersknie onder die knie, lank voor hulle die begrip op skool raakloop. So, om ’n taal te praat moet jy die grammatika van daardie taal ken en natuurlik die woordeskat ook hê en in die sin dan is ‘taal’ die versamelnaam, kan jy sê, van grammatika en woordeskat.

Jy sê “Grammatici bestudeer daardie struktuur [van taal], en beskryf dit. Daardie beskrywing word die grammatika van daardie taal genoem.” Ek gebruik jou woorde: Sjoe, eina! Die BESKRYWING van die struktuur (wat jy ook al met ‘struktuur’ bedoel) kan nou mos nooit die grammatika van daardie taal wees nie. Hoe het die ouens die taal gepraat voor ’n ‘grammatikus’ die struktuur beskryf het en dus volgens jou die grammatika daargestel het? Die grammatika en die woordeskat IS die taal en het bestaan lank voor enige grammatikus op die horison verskyn het. Hy kan dalk ‘n grammatikaboek skryf maar dis maar net die opteken van iets wat reeds bestaan.

Groetnis
Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Nee, ek verwar nie linguistiek met grammatika nie. Grammatika is ʼn vertakking van die linguistiek wat te make het met die sintaksis, morfologie, semantiek en van ʼn taal en taal in die algemeen. Dit beskryf die struktuur van taal, toon die logika van die van taalstruktuur en daarom is grammatika ʼn kleinboetie van die logika.
    Ek sien jy het ʼn probleem om die term “struktuur van ʼn taal” te verstaan. Skaf vir jou die boekie, Language and its structure van Langacker aan. As jy dit deurgewerk het, sal jy ʼn beter begrip daarvan hê. Struktuur het die betekenis van samestelling: die bou daarvan en hoe alles aanmekaar gesit is.
    Grammatika is dus die studie van hoe woorde in ʼn taal aanmekaar skakel om sin te maak.
    Ek moet jou darem geluk wens. Verskoon tog die argaïes anglisistiese uitdrukking, maar ek dink die pennie het uiteindelik geval. Jy skryf: “Hy (die grammatikus) kan dalk ʼn grammatikaboek skryf maar dis maar net die opteken van iets wat reeds bestaan.”
    Hier slaan jy die spyker op die kop: die grammatikus beskrywe wel “iets wat alreeds bestaan.” Van toeka se tyd af probeer ek aan jou verduidelik dat die grammatika DESKRIPTIEF is, maar jy het dit nou eers verstaan. Daardie “iets wat reeds bestaan” is die struktuur van die taal, die wyse waarop die taal aanmekaar gesit is. Om die struktuur, die “iets wat alreeds bestaan”, te begryp en te verstaan, moet dit deur middel van taal beskryf word, en daardie taal is die grammatika van die taal. (Gramma beteken skryf.) Soos wat die grammatikus daardie “iets wat alreeds bestaan” beskryf, verstaan hy die “iets wat alreeds bestaan “ al beter en beter, en so evolueer die linguistiek.
    Hierdie vae “iets wat alreeds bestaan” van jou kan ook anders omskrywe word as net die struktuur van taal. Dit kan ook beskryf word as die taalvermoë van die mens. Chomsky noem dit die “deep structure of language.” Studie van hierdie dieptestruktuur vorm nogal ʼn belangrike deel van Chomsky se generatiewe grammatika.
    Die wonder van taal lê juis daarin dat die kind hierdie ingewikkelde dieptestruktuur van taal onbewustelik kan baasraak, terwyl geleerdes in hulle studies nooit die bodem daarvan sal kan bereik nie. Die studie van die struktuur van Afrikaans lê nog braak.
    Hier wil ek jou net herinner daaraan wat ek al in die verlede aan jou verduidelik het. Die grammatika is wel deskriptief, maar taalonderwysers gebruik dit soms preskriptief om veral tweedetaal aan mense te leer. Dit staan bekend as die grammatika-vertaalmetode. Ek het bv. Duits op skool so geleer. Dis waarom ek nie ʼn gesprek in Duits kan voer nie. My niggie, daarenteen, wat met ʼn Italianer getroud is, praat vlot Italiaans, sonder dat sy ʼn woord van grammatika gehoor het.
    Enige taal, selfs mengeltaal, het ʼn struktuur. Die beskrywing van daardie struktuur is die grammatika van die taal. Grammatika is ʼn vak wat bestudeer moet word, soos Logika, Wiskunde, Dierkunde, Plantkunde, ens. Waar Plantkunde plante bestudeer, so word taal se struktuur, daardie “iets wat alreeds bestaan”, bestudeer.
    Om saam te vat: taal moet gestruktureerd wees, anders is dit onsin. ʼn Taal hoef nie noodwendig ʼn grammatika te hê nie, trouens daar is nog baie tale in die wêreld wat nie ʼn grammatika het nie, want linguiste het nog nie by hulle uitgekom om hulle te bestudeer en een te skryf nie. Hierdie tale het egter ʼn struktuur, en word gebruik om te kommunikeer. Linguiste sal, as hulle hierdie tale bestudeer, vind dat die strukture daarvan baie ooreenkom met tale waarvan die grammatikas al wel geskryf is, vanweë, wat Chomsky noem Universal Grammar, ook bekend as UG.
    En dan die grappie van die maand: jy skryf “Die grammatika en die woordeskat IS die taal en het bestaan lank voor enige grammatikus op die horison verskyn het.”
    Ek ken ook so een: Brood het bestaan lank voor enige broodbakker op die horison verskyn het.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Vir die linguis beteken die term grammatika die wetenskaplike ondersoek na die struktuur, die bou, van ʼn taal en taal in die algemeen. Dit sluit in die studie van die sintaksis, die morfologie, semantiek en ook fonologie in. Grammatika is ʼn studievak net soos Wiskunde, Dierkunde en Psigologie.
    Vir die nie-taalkundige het die woord grammatika ʼn populêre betekenis van ʼn stel taalreëls waarvolgens gepraat en geskryf moet word.
    Ek skryf bogenoemde ter verduideliking, want ek sien dat jy, ten spyte van my gelukwensing, nog nie die term grammatika verstaan nie. Hier verwys ek na jou laaste paragraaf hier bo.
    Die beskrywing van ʼn taal se struktuur, hoe hy saamgestel is, sy bou, kan niks anders as grammatika wees nie. As ek die struktuur van ʼn sin soos “Die man lees ʼn boek” beskryf, dan sal dit deur middel van grammatiese terme wees. Ek sal wys op die posisies van woordsoorte: lidwoord, selfstandige naamwoord, werkwoord. Die onderwerp- en voorwerpposisie sal uitgewys word (wat ooreenkom met eerste en vierde naamvalsposisies van ouer tale soos bv Duits). Die verbinding naamwoordstuk (die man), en werkwoordstuk (lees ʼn boek), sal getrek word om die onderbou en bobou van die sin in verband met mekaar te verkry, ens.
    Ek herhaal: streng gesproke het taal nie ʼn grammatika nie, dit het ʼn struktuur. Eers as die struktuur beskryf is deur ʼn taalgeleerde, dan het die taal ʼn grammatika. Die struktuur, hoe ingewikkeld ook al, word maklik baasgeraak deur die spreker. Dit maak nie saak hoe dom of slim hy is nie – hy moet net nie breinskade opgedoen het nie.
    Die grammatika van enige taal is onvolledig, ten spyte van die geweldige hoeveelheid literatuur. Die studie van Afrikaans se struktuur kan nog ʼn oneindige aantal M- en D-verhandelings oplewer. Dit is ook die geval met enige ander taal, selfs Kaaps, wat jy so verag. Ek sou graag so iets wou aanpak, veral met Kaaps, maar ongelukkig moet ek gedurig op hoogte bly met wat vir my kos op die tafel sit, en het dus nie tyd daarvoor nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top