Antwoord op Angus se kommentaar onderaan my brief van 1 deser

  • 2

Beste Angus

Baie dankie dat jy my wil leer hoe ’n verklarende woordeboek werk; mens is nooit te oud om te leer nie so baie dankie, ek waardeer.  Dit het egter niks met ons bespreking te doen nie.  Ek het aanbeveel jy gebruik woordeboeke om tussen ’n leenwoord (maw ’n ingeburgerde Afrikaanse woord) en ’n Engelse woord wat (slordiglik) in Afrikaans ingegooi word te onderskei.  Laat ek weer verduidelik:  Indien jy ’n woord in ’n Engelse woordeboek kry en nêrens in ’n Afrikaanse woordeboek nie is dit ’n Engelse woord en die gebruik daarvan in Afrikaans is swak Afrikaans.  Dis mos maklik of hoe?

Woorde soos belhamel, sondebok, dapper, huidiglik, braaf en so meer was hier rondgegooi as woorde wat verkeerdelik gebruik word, hetsy vanweë Engelse invloed, hetsy uit onkunde (gebrek aan Afrikaanse taalvaardigheid).  Indien hierdie nie goeie voorbeelde was nie is dit bloot dit, swak voorbeelde maar dit verander niks aan die feit dat verkeerde gebruik naderhand as korrek aanvaar word en dan as sodanig in ’n woordeboek opgeneem word nie.

Dit is waar die hele storie begin het: Ek het gewys op die anomalie dat woordeboeke as riglyne vir korrekte taalgebruik aangewend word maar, terselfdertyd, neem woordeboeke ook woorde op wat gedurig, en deur baie, verkeerd gebruik word.  Soos ek al opgemerk het, dit is net ’n interessantheid; ek het niemand beledig nie.  Daar is nog baie sulke verskynsels.  Byvoorbeeld, as die polisie hulle werk 100% doen het hulle nie meer werk nie want dan is misdaad uitgeroei.  Of as die mediese wetenskap alle siektes uitroei het dokters nie meer werk nie. So iets.

Ek het nie eintlik reaksie daarop verwag nie, miskien hier en daar iemand wat ook dink dit is ’n eienaardigheid of iets van die aard. Jou reaksie egter was soos ’n “geskarrel in ’n hoenderhok” om jou nou aan te haal, presies waarvan jy my beskuldig.  Dit het gewissel van beskuldigings dat ek nou sou wou hê Afrikaanssprekendes moet woordeboeke raadpleeg voor hulle praat, lesings oor die ontstaan en doen en late van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, jou siening omtrent sinonieme en nog so paar ander goed.  Deurentyd het jy nog ook ’n eienaardige beheptheid ten toon gestel omtrent die gebruik van ‘ons’ teenoor die Nederlandse ‘wij’.  Praat van ’n geskarrel.

Jy wil pertinent weet of Afrikaanssprekendes maar mengelwoorde mag gebruik as hulle Afrikaans praat.  Weer eens, min met die eintlike onderwerp te make maar dis altyd vir my lekker om oor wye kwessies te gesels so hier gaat ons: Natuurlik mag hulle maar hulle moenie, nie as hulle goeie Afrikaans wil praat nie (ek skram weg van die term ‘suiwer Afrikaans’ want, om die een of ander rede, is dit blykbaar nie pk nie).  Neem maar weer die Engelssprekende as riglyn; dié wat goeie Engels praat gebruik nie Afrikaanse woorde tussenin nie.

Jy sê “slegsê, leuens en verdraaiing is tekens dat [ek] die stryd verloor”.  Dit is darem mos nou nie billik nie Angus. Dit is nou na aanleiding van die aanmekaarskrywery; ek sou eers gesê het ‘een-woord-een-begrip’ en later, na jou wyse instruksie, van ‘samestellings’ gepraat het.  Ons Afrikaansonnie het dit destyds so gebruik, altyd gesê ‘een begrip, een woord’.  Hy kon seker netsowel gesê het ‘samestellings word aanmekaar geskryf’; selfde ding, dis maar soos ek dit al die jare onthou het.  Soos ‘taai konfyt’ beskryf die konfyt maar ‘vyekonfyt’ is ‘n enkele begrip. ‘Taai vyekonfyt’ beskryf weer die vyekonfyt. 

Buitendien, watter ‘stryd’ praat jy van?  Jy kan tog nie met my stry oor los- en vasskrywe nie want dit is ’n feit soos ’n koei dat mens in Afrikaans (en Duits en ek vermoed Nederlands en Wallies – vgl daardie lang dorpsnaam - ook) begrippe vas skryf waar, in Engels, jy dit los skryf.  Ook is dit ’n feit dat, as jy Engelse woorde in Afrikaans gebruik jy nie ordentlike Afrikaans praat nie – dis nie ’n opinie nie; dis per definisie, x gemeng met y is nie x of y nie.  

Ek vind jou stelling, dat ek nou, en ek haal jou aan, “ ... vir Panda en almal hier op SêNet moet bewys dat [ek] my man kan staan” hoogs amusant.  Dit is nou ’n klinkklare bewys van wat eintlik in jou kop aangaan naamlik dat jý die ou is wat dink hier’s ’n gehoor wie se agting jy nie wil verloor nie.  Buitendien, soos ek jou reeds gesê het, hier’s g’n stryd aan die gang nie; ek het bloot ’n paar feite konstateer.

Jy wys my op ’n teenstrydigheid – jy sê aan die een kant is (vir my) ’n woordeboek ’n toetssteen (mooi woord, dankie) of ’n woord ’n leenwoord is maar aan die ander kant wil ek weet wie gee woordeboekmakers die mandaat om verkeerde woorde op te neem.  Maar dis dan presies wat ek aan die begin gesê het!  Ek het op die interessante teenstrydigheid gewys dat, woordeboeke wat as riglyn vir korrekte taalgebruik daargestel is, woorde wat aanhoudend verkeerd gebruik word dan opneem en dit dan voortaan as reg beskou word.  Op ’n puntjie van orde egter, met die nou dat jy vir my skyn ’n probleem gehad het met die onderskeid tussen ’n leenwoord en ’n Engelse woord, het ek die gebruik van woordeboeke vir jou aanbeveel.

Ten slotte, jy beskou die sin “jy moet ’n relationship establish met die vendor as nie Afrikaans of Engels nie maar as ‘Afrikaaps’. Nou sê my, hoekom word hierdie Afrikaaps in Afrikaanse sepies en openbare forums soos LitNet gebruik en nie in Engelse sepies of openbare forums nie?

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Heel waarskynlik moet ek jou geheue so bietjie verfris. So ʼn ruk gelede het jy beweer dat woordeboekmakers “verkeerde woorde” in hulle woordeboeke opneem. Ek wou toe by jou weet of jy my voorbeelde daarvan kan gee. Jy het die HAT (1965) genoem en beweer dat ‘sondebok’ verkeerdelik as sinoniem vir ‘belhamel’ daarin aangetoon word. Ek het aan jou bewys dat dit nie so is nie, en nou het dit egter, volgens jou, niks met ons bespreking te doen nie. (Ek sou darem wou weet of jy nog dink dat die HAT ‘sondebok’ en ‘belhamel’ as sinonieme beskryf, soos jy beweer.)
    Volgens jou, gaan die bespreking oor hoe om leenwoorde uit te ken. Hierdie einste woordeboek wat jy beskuldig het van “verkeerde woorde” opneem, word nou gebruik om te onderskei tussen ingeburgerde woorde en Engelse woorde wat “slordiglik” in Afrikaans ingegooi word.
    Vir die predikant, of radio/televisie-aanbieder, of onderwyser, mag dit nogal nuttig wees, maar wat van die massas Afrikaanssprekendes? Moet hulle met woordeboeke onder die arm rondloop?
    Ek glo ook nie sommer enige “reël” wat iemand vir my voorhou nie. Kom ons toets dit. So ʼn ruk gelede het jy beweer dat “establishment” so ʼn ingeburgerde leenwoord in Afrikaans is. Die woord is nie in die HAT opgeneem nie. Dit kom net in die Engelse woordeboek voor. Volgens jou woordeboektoets is dit dus nie ʼn leenwoord nie, maar dan sê jy weer dit ʼn leenwoord. Nou, hoe gemaak?
    Jou tweede paragraaf hierbo, is net so verwarrend. Jy sê ‘sondebok’, ‘belhamel’, ‘dapper’, ‘braaf’ en ‘huidiglik’ “was hier rondgegooi”. Waar was hulle so “rondgegooi”? In geen woordeboek word hulle so “rondgegooi” nie, wat dit ook al beteken. Natuurlik is hulle in woordeboeke opgeneem – dis dan Afrikaanse woorde wat behoort tot die Afrikaanse woordeskat. ‘Huidiglik’ kon ek nêrens in ʼn woordeboek kry nie, en dis jammer, want dit is ʼn goedgevormde Afrikaanse woord, niks daarmee verkeerd nie en waarvan die gebruiksfrekwensie daagliks toeneem.
    Miskien skryf ek nog oor die verskynsel wat jy beskou as die verkeerde gebruik van woorde. Ek sal beslis dan Engels as riglyn gebruik, soos jy gevra het. Gee vir my asseblief voorbeelde van die “verkeerde woorde” wat volgens jou in woordeboeke opgeneem is. Sê ook in watter woordeboek jy dit gekry het.
    Samestellings en “een-begrip-een-woord” is nie dieselfde ding nie. Jy moet daardie onnie van jou voor stok kry, en jou skoolgeld terug eis. ʼn Samestelling is die verbinding van twee of meer woorde om heeltemal ʼn nuwe woord te vorm: koffie, beker = koffiebeker. Dis een van die produktiefste maniere om nuwe woorde te vorm. ʼn Sin is ook een begrip: Die man eet kaas.
    Die sin: “jy moet ’n relationship establish met die vendor” is eintlik maar Afrikaans. (Ek het maar ʼn flou grappie probeer maak deur dit Afrikaaps te noem.) As ʼn woord uit ʼn ander taal bv in ʼn Afrikaanse sin gebruik word, is dit Afrikaans, en die woord is ʼn leenwoord. Ons leen hom aanvanklik miskien eers tydelik, maar soos wat die gebruiksfrekwensie daarvan toeneem, word dit ʼn Afrikaanse woord. ‘Baadjie’ is bv ʼn Maleis-Portugese woord, maar soos wat dit al meer in Afrikaans gebruik is, het dit ʼn Afrikaanse woord geword.
    Hierdie sin word dus in ’n Afrikaanse sepie gebruik, want dit is Afrikaans, en daarom kom dit nie voor in Engelse sepies nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top