Antwoord op Angus se brief van Maandag 25 deser

  • 1

Beste Angus

In jou kommentaar onderaan my brief van 23 Junie sê jy spelreëls “ ... is mensgemaak en kan verander word.”  My antwoord aan jou was dat dit wel die geval is maar, sou daar ’n nuwe reël gemaak word, is dit bindend; daar moet voortaan so gespel word.  Nou kom jy en sê vir my presies dieselfde (so al asof ék die ou was wat gesê het spelreëls is mensgemaak en kan verander word).  Verder wonder jy hoekom ek ‘so daaroor kla’.  Ek kla nie daaroor nie, ek het bloot op jóú stelling geantwoord (’n antwoord waarmee jy saamgestem het so waar kla ek nou?).

Jy sê “Nêrens het ek [Angus] nog ooit beweer dat die mens nie abstrak dink nie, soos jy beweer.” Ek het nooit so ’n bewering gemaak nie; jy het op ’n kol gesê ek kan nie abstrak dink nie waarop toe, na aanleiding van sekere stellings van jou, gesê het dit lyk vir my of jý die ou is wat nie abstrak kan dink nie.  Daar is g’n sprake daarvan dat ek ooit gesê het ‘die mens’ kan nie abstrak dink nie.  Dit lyk vir my jy lees SêNet op tye wanneer jou konsentrasievlak nie te vars is nie.

Met ‘tangensiaal verkas’ bedoel ek bloot dat jy die geneigdheid tot erge aandagafleibaarheid toon; ons sal praat oor onderwerp A en jou reaksie daarop is ’n moerse storie oor onderwerp B, of jy lê woorde in my mond, byvoorbeeld dat ek beweer die mens kan nie abstrak dink nie. 

Jy sê “Die woord ‘belhamel’ word selde deur Afrikaanssprekendes korrek gebruik vir die leier van die kwaadstekers. Verkeerdelik word ‘sondebok’ gebruik ... “  Ek weet, dit is mos wat ek vir jou gesê het.  ‘Kliënt’ en ‘klant’ word NIE korrek gebruik soos jy beweer nie, ‘kliënt’ word oor die algemeen verkeerdelik gebruik as sou dit die betekenis hê van die Engelse ‘customer’, die korrekte woord daar is ‘klant’.

Jy sê “Alle tale wat bestaan, kommunikeer ewe goed binne hulle grensgebiede.” Weer eens, ek weet; dis mos wat ek vir jou gesê het.  Ek het daardie stelling gemaak na aanleiding van jou stelling dat Engels ‘beter kommunikeer’.  Die feit dat mens makliker met Engels in sekere vreemde lande, veral Europese en voormalige Engelse kolonies, regkom is ’n heel ander saak en nie te betwis nie.  Terloops, ook nie altyd nie; in Praag moes ek my vrek sukkel met my matriek-Duits van vergange se jare, want die gasvrou kon nie Engels praat nie maar wel Duits. 

So, die feit dat Engels meer ‘posgevat het’ soos jy dit stel het ek nog nooit betwis nie maar dit het met hierdie debat weinig te make; ons korrespondensie in hierdie verband het begin toe ek op die teenstrydigheid wat ek ten opsigte van, noem dit maar die woordeboekwese, gewys het.  Jou stelling dat Afrikaans jou ‘bokkerol’ buite die land se grense help is dus ook irrelevant (en buitendien nie die waarheid nie).

Ek gebruik nie ‘lukraak’ om ’n ‘Engelse woord in Afrikaans te omskryf’ soos jy beweer nie.  Wat daardie betrokke sprekers doen is om op lukrake wyse bestaande Afrikaanse woorde met Engelse woorde te vervang.  Daar is geen vaste patroon nie; hy sal nou byvoorbeeld ‘doel’ met ‘goal’ vervang en later wel ‘doel’ in ’n ander sin gebruik maar dan ‘geleentheid’ met ‘opportunity’ vervang.  Die mengel-Afrikaans wat hierdie persone gebruik het geen resep nie; dis lukraak (miskien verstaan jy die Engels beter, ‘random’).

Dit is ook onsin dat hulle die Engelse woord gebruik omdat hy nou korter sou wees; partykeer is hy korter en dikwels is hy ook langer soos ‘opportunity’ teenoor ‘geleentheid’ of ‘dabbeljoe-dabbeljoe-dabbeljoe’ teenoor ‘wee-wee-wee’ of ‘reverberation duration’ teenoor ‘naklankduur’. 

Wat vermenging van tale betref:  Op 11 Julie, in jou kommentaar onderaan my brief, sê jy “Vermenging van tale is die begin van ’n nuwe taal.”  Jy gaan selfs so ver as om te sê dit is “ ... hoe Afrikaans, en trouens elke ander taal ontstaan het.”  Dit is mos nou nie waar nie Angus; wil jy nou vir my sê in België is ‘n nuwe taal besig om te ontwikkel omdat van die Vlaamssprekers partykeer Franse woorde ingooi, of in Kanada ontwikkel ‘n nuwe taal omdat van die Franssprekendes daar Engelse woorde gebruik en andersom?  En hoe lank neem so ’n vorming van ‘n nuwe taal?

Wat van al die grensgebiede waar tale in noue aanraking met mekaar is, dink jy daar is nuwe tale aan die ontwikkel?  Wat daar gebeur is mense praat slordig; hulle kontamineer hulle eie taal met vreemde woorde.  Net soos wat hier met Afrikaans gebeur; hier is nie ’n nuwe taal aan die ontwikkel nie, hier is bloot net ’n klomp mense wat slordig praat. Om die waarheid te sê, die mengeltaal hier verteenwoordig nie die begin van ’n nuwe taal nie, maar die verdringing, en uiteindelike vervanging, van Afrikaans met Engels.

Ek het nou nie tale op universiteitsvlak soos jy studeer nie maar ek twyfel sterk aan jou stelling dat Afrikaans deur vermenging met ander tale  ontstaan het.  Watter ander taal of tale?  Daar was wel (en is steeds) invloede deur ander ander, soos met meeste tale op aarde die geval is maar Afrikaans is definitief nie ’n mengsel van twee tale nie (allermins Maleis-Portugees as ’n deel).

Jy wil weet hoe ek die verskil tussen vermenging en beïnvloeding sien en hoe die een meer tale kan verwek as die ander.  Wel, die verskil tussen vermenging en beïnvloeding sê jy ken jy (aparte woorde en kan in ‘n woordeboek nageslaan word soos jy sê).  Die vraag hoekom die een meer tale kan verwek as die ander is ’n eienaardige vraag, want wie het gesê die een verwek meer tale as die ander?  Wat jou miskien deurmekaar maak is dat ek gesê het dat, sou jou stelling waar wees dat taalvermenging ’n nuwe taal tot gevolg het, sal daar in die toekoms baie meer tale as nou wees.  Die teendeel is egter waar, tale word minder soos veral Engels, Spaans en Portugees ander tale verdring en vervang.

Jy maak nou ’n storie van die leenwoordkwessie.  Op ’n stadium het dit geblyk dat jy nie die verskil tussen ’n mengelwoord (’n anglisisme meestal) en ’n leenwoord ken nie.  Ek het uiteindelik vir jou ’n eenvoudige manier gegee om te onderskei tussen die twee:  ’n Leenwoord is ’n vreemde woord wat opgeneem word in ’n spesifieke taal as daar nie ’n woord voor bestaan in daardie taal nie. Byvoorbeeld ‘apartheid’ of ‘voetstoots’ wat vanuit Afrikaans in Engels opgeneem is. 

’n Mengelwoord is ’n woord uit ’n vreemde taal wat weens slordigheid (miskien ook onkunde?) gebruik word in die plek van ’n bestaande woord in daardie taal, byvoorbeeld ‘opportunity’ in plaas van ‘geleentheid’.  Om dit maklik te maak vir jou het ek gesê as jy die vreemdlykende woord in die verklarende Afrikaanse woordeboek kry dan is dit ’n ingeburgerde woord, hy bestaan in Afrikaans (die term ‘leenwoord’ beskryf ook so ’n woord).  Indien jy daardie woord NIE in die verklarende Afrikaanse woord kry nie maar slegs aan die Engelse kant van ’n tweetalige woordeboek dan is dit ’n vreemde woord, ’n mengelwoord en die gebruik daarvan verteenwoordig slordige geradbraakte Afrikaans.  Dis mos nou nie so moeilik nie of hoe?  Hoe sal ek nou, soos jy beweer, deur hierdie verduideliking ’n ‘mandaat aan woordeboekmakers gee’ om te bepaal wat ’n leenwoord is?

Jou gevolgtrekking dat ek ’n ‘paar skrywes terug’ ontevrede met woordeboekmakers was en nou skielik ‘  mandaat gee is heeltemal van die wa af.  Ek het bloot op, wat vir my na ’n teenstrydigheid gelyk het, gewys.  Soos ek ook destyds na ’n teenstrydigheid verwys toe ek genoem het dat, gedurende ’n maansverduistering, die skadu van die aarde die maan van agteraf ingehaal het.  Iemand hier, ek dink dit was Panda, het my toe daarop gewys dat die maan van wes na oos om die aarde wentel, dus geen anomalie.  Die woordeboekding bly egter nog vir my ’n teenstrydigheid (totdat iemand hier dalk ’n verduideliking kan gee).

En nou, wat jy die amusante deel noem, is werklik amusant naamlik jou verklaring dat ek wil hê ALLE Afrikaanssprekendes moet met twee woordeboeke rondloop net omdat ek JOU probleem opgelos het.  Angus, ek het aan jóú verduidelik hoe om te onderskei tussen slordige taal en gewone Afrikaans; ek glo nie ALLE Afrikaanssprekendes het jou probleem nie.  Buitendien, meeste van die wat wel slordig praat weet baie goed wanneer hulle dit doen; luister maar hoe dikwels word sinsnedes soos ‘verskoon die Engels’ of ‘ek ken nou nie die Afrikaans hiervoor nie’ (of die aaklige ‘...ek ken nou nie die Afrikaans vir dit nie’) gebruik.

Miskien het ek dit biejie sterk gestel toe ek gesê het ons moet ons kollektiewe vinger uit ons kollektiewe gat trek.  Ons moet dalk maar net die voorbeeld van ons Engelssprekende medeburgers volg en bietjie taaltrots aan die dag lê, want let maar op, nêrens en nooit verkrag hulle Engels so soos baie van ons Afrikaans verkrag nie.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Jy het die indruk geskep dat jy kla oor die spelreëls en die woordeboeke, want jy wou weet waar kry woordeboekmakers hulle mandaat om sommer woorde in te voeg en woordelyste te maak. Dit klink mos of jy vra wie gee hulle die reg daartoe.
    Jy sal maar weer jou kol moet gaan soek want jy het op 'n kol beweer dat die mens slegs abstrak dink, en nie deur middel van taal nie.
    Die feit dat jou gasvrou nie Engels kon praat nie, het geen linguistiese waarde nie. Eers as jy met so 'n paar duisend gasvroue nie oor die weg kon kom, in 'n sekere streek met Engels nie, dan sê dit iets.
    Wat 'lukraak' betref, moet jy vir my kan aantoon waarom Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word, telkens semanties in die sin pas as hulle dan, soos jy beweer, lukraak gekies is.
    Jy maak alles sommer af as onsin as dit jou nie pas nie. Ek het gesê Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word, is soms korter as die Afrikaanse woord. Dikwels omseil dit 'n moeiliker grammatikale konstruksie.
    Jy beskou taalontwikkeling op die kort termyn. Nuwe tale ontstaan oor tydperke van eeue. Waar twee tale bymekaar kom, ontstaan nuwe tale. Afrikaans is 'n uitsondering omdat dit so snel ontstaan het. Geen taal wat ons ken het sommer so vanself sy ontstaan gehad nie. (Ek praat natuurlik nie van tale gemaak deur taalkundiges nie.)
    Ek weet presies wat 'n leenwoord is en wat 'n anglisisme is. Ek het al lankal terug deeglike studies daarvan gemaak. Ek het boeke vol aantekeninge oor hoe mense praat, en hoe hulle woorde gebruik. Soos my buurman altyd sê: "ek ken van."
    Taal laat hom egter nie so voorskryf nie, en dis dan dat Engelse woorde in Afrikaans gebruik word sonder dat daar eers besin word of dit nou juis wettige leenwoorde is of onwettige anglisismes. Taal is nie 'n ding wat jy in 'n blik druk met die deksel bo toe nie. Nuwe tale, soos Afrikaans, het al ontstaan uit onkunde, want die eerste funksie van taal is om te kommunikeer. Eers daarna word dit aangewend vir die letterkunde, word dit die onderwerp vir studie en ontleding deur linguiste d.m.v. grammatika, en word dit volksbesit waarop die mens trots is.
    Ek volg nie mooi hoe die maansverduistering kan dui op 'n teenstrydigheid in 'n woordeboek nie. As jy my mooi kan verduidelik, kan ek dalk help.
    Ek twyfel of jy my Afrikaans slordig kan noem, en dan noem jy dit nogal my probleem. Ek verwelkom eintlik sulke persoonlike aanvalle van iemand met wie ek stry of debatteer. Dis die eerste teken dat so iemand die stryd begin verloor.
    Ek glo nie die meeste Engelse het juis 'n taaltrots nie. Hulle kommunikeer sommer maar gewoonweg.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top