Antwoord op Angus se brief oor Afrikaans van 3 deser

  • 19

Beste Angus

Jy sê ek en jy beskou Afrikaans vanuit verskillende rigtings – volgens jou reken ek Afrikaans het sommer uit die lug geval en word nou in ’n groot mate deur Engels bedreig terwyl jy, daarenteen, Afrikaans sien teen ’n historiese en linguistiese agtergrond.

Eienaardige stelling; daar is mos niks wat sê dat, indien jy Afrikaans teen ’n linguistiese en historiese agtergrond beskou, die taal nie bedreig kan wees nie of hoe?  Om die waarheid te sê, jy met jou kennis van linguistiek moet dan juis bewus wees van die mate waarin Afrikaans deur Engels uitgeskuif en dus bedreig word.  Ook, hoe sal ek nou dink Afrikaans het sommer so uit die lug geval en dan deur Engels bedreig word?  Sou Engels dan nie in die eerste plek gesorg het dat Afrikaans nie uit die lug val nie?

Hoe dit ook al sy, daar is wel een aspek van jou stelling waar jy die spyker op die kop slaan en dit is dat ek van mening is dat Afrikaans deur Engels bedreig word.  Kom ons vat jou lyne, die wat jy nou tussen Amsterdam, Berlyn en Parys getrek het en trek een van 1870 af, die datum waarteen jy reken Afrikaans toe uiteindelik ‘uitkristallisseer’ het.  Nou in 1870 was daar geen Afrikaanse universiteite nie en teen 1966 rond was daar Tukkies, Kovsies, Maties, RAU (toe omtrent net begin reken ek), Kovsies, Pukke en ‘n halwe een in PE (ek dink die plek was tweetalig). 

Vandag is daar geen Afrikaanse universiteite nie.  Teen jou linguistiese en historiese siening van Afrikaans, lyk dit vir jou enigsins na vordering?  Daar is dus geen verhandelinge en proefskrifte meer in Afrikaans nie, in die hof word Afrikaans nie meer gebruik nie en alle besigheidstransaksies, kontrakte ens is in Engels, selfs al is dit Afrikaanssprekendes wat produkte van Afrikaanssprekende verskaffers koop.  In die semi-staatsinstansies word kommunikasie in Afrikaans VERBIED.  Kan jy dit glo, dat jy verbied word om in jou eie taal in jou eie land te praat en jy dink hierdie verandering is ontwikkeling en vordering?

Bogenoemde het tot gevolg dat Afrikaanssprekendes heeldag Engels praat en, logieserwys, verswak hulle taalvaardigheid wat betref hulle eie taal.  Gepaardgaande hiermee is KykNet en RSG aktief besig om Afrikaans te ondermyn.  As jy die radio aansit is die kans baie goed dat jy Engels hoor, een of ander minister of ’n ding met ellelange kommentaar oor een of ander onbenullige NSA-aangeleentheid.  Engelse inbellers, wat op die Afrikaanse programme ingeskakel is, praat Engels en kan jy glo die omroepers en -sters praat Engels terug.  Daar was al selfs van die gassprekers wat oorgeslaan het Engels toe met ’n oproep van ’n Engelssprekende inbeller.  O waar is nog ’n volk so gedienstig soos my volk?

Afrikaanse omroepers lyk my moet ’n Engelse kwalifikasie hê om aangestel te word want ’n groot gedeelte van hulle se Afrikaans is power en hulle slaan ook vreeslik graag oor Engels toe.  Een, nou die dag, het jou wrintiewaar nie eers die Harmansdrup-idioom geken nie; nog nooit gehoor van Harmansdrup nie.  KykNet is net so aktief met die verengelsingsprogram; Engelssprekende gaste gedurigdeur en die soort Afrikaans wat op die sepies gepraat word is afskuwelik, vol onnodige Engelse woorde.  Ek sien nou die dag op die nuus ’n onderhoud met ’n bruin vrou oor die groot brand daar in Somerset-Wes se omgewing en sy het normaal gepraat; nie één Engelse woord gebruik nie.  Hierdie sepiespraat is kunsmatig en aangeplak, selfs van die akteurs kom onnatuurlik voor met daardie soort gepratery.

Nog steeds by jou lyne; my oupa moes hier in 1870 rond gebore gewees het, juis die tyd waarin jy reken Afrikaans ‘uitkristalliseer’ het.  Hy het by ons gebly en ek was seker so vier of vyf toe hy oorlede is.  Ek kan nie onthou dat hy snaaks gepraat het nie; ek self het seker daardie tyd nog nie ordentlik gepraat nie maar ek kan nie onthou dat hy enigsins anders as my pa of ma geklink het nie.  My pa, in 1914 gebore, het gewone Standaardafrikaans gepraat en ek kan nie onthou dat hy ooit iets genoem het dat sy pa, die einste oupa waarvan ek praat, anderste Afrikaans gepraat het nie.  Jou stelling dat Standaardafrikaans bloot Kaaps is wat van Engelse besmetting gesuiwer is hou nie water nie.  Terloops, jou lyne-analogie werk nie; buurmanne van Berlyn tot by Amsterdam of Parys verstaan mekaar glad nie hier by die grense nie, nie eers die doeanebeamptes verstaan die toeriste nie.

Jy vergelyk telkens die agteruitgang van Afrikaans (‘ontwikkeling’ en ‘aanpas by omstandighede’ noem jy dit) met die ‘agteruitgaan’ van Nederlands wat toe uiteindelik Afrikaans tot gevolg gehad het.  Jy verloor uit die oog dat hierdie sogenaamde agteruitgang van Nederlands juis was as gevolg van hoofsaaklik gebrek aan kontak met Nederlands. Die agteruitgang of verengelsing hier is weer juis as gevolg van die noue kontak met Engels – Engels is nou die amptelike taal en Afrikaanssprekendes MOET eenvoudig heeldag Engels praat wat dan logieserwys veroorsaak dat Afrikaans agteruitgaan.

Hierdie ‘aanpas by omstandighede’ is ook ’n mite.  Wil jy nou vir my sê ’n Hollander of ’n Rus of ’n Engelsman kan nie hier, sê boer, nie omdat omstandighede anders is in Holland, Rusland en Engeland, hulle sal eers Afrikaans moet leer?  Absurd.  Net so absurd is die Engels in Afrikaans nou kamtig daar om ’n ‘vryer idioom’ aan Afrikaans te verleen soos jy beweer.  ‘Jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie’ is geensins ‘vryer’ as ‘jy’t genoem dat ons nie ’n toekoms saam het nie.’  Inteendeel, dis meer gebonde.  Iemand wat nie Engels ken nie sal nie die eerste sin verstaan nie; dis swak Afrikaans.

Jou laaste paragraaf van hoe ons almal deesdae sou praat is in die kol – steeds ’n bewys van die invloed van Engels en die powere Afrikaans teweeggebring deur die Engels wat heeldag in ons kele afgedwing word en dit nogal deur ons eie instansies soos RSG en KykNet.  Ek sê weer, neem die Engelse as voorbeeld, nie een van hulle meng hulle taal met Afrikaans in die mate wat ons die teenoorgestelde doen nie.  Is dit as gevolg van groter taaltrots by hulle, dalk net ’n beter gehalte mens, of dalk is hulle bloot net nie onderwerp aan ’n sameswering deur hulle eie instansies nie?  Werk maar self uit maar wat ’n feit soos ’n koei is, is dat Afrikaans besig is om te verskraal en na my mening kan dit kan net toegeskryf word aan ’n gebrek aan toegewydheid deur sy sprekers; Dit Is Nie Meer Ons Erns Nie.

Terloops, jou ‘baing kirislam by die hys se kant’ klink nou eg Kaaps vir my.  Dis baie mooi, nie soos die afstootlike geradbraakte Engfrikaans op die sepies nie (wat volgens jou Kaaps is).

Groetnis

Jan Rap

 

  • 19

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Wys asseblief vir my waar ek gesê het dat die vermenging van Afrikaans en Engels soos op die sepies, Kaaps is.

    Ek voer nie gesprekke met iemand wat alles verdraai wat ek sê nie.
    Groete,
    Angus.

  • Beste Jan Rap
    Jy gaan niks verder in die gesprek, as 'n mens dit so kan noem, vorder nie. Op 6 Januarie skryf ek vir hom dat sy sin: Wat Angus sê: “Sy’s amazing as dit by kos maak kom, en alhoewel sy ʼn beautiful babe is, verkies ek darem my vrou. My vrou het net die knack om my te laat goed voel as ek down in the dumps is," waarop ek toe geantwoord het dat ek net een kommentaar het van, “dit is nog vis nog vleis, nie Afrikaans of Engels nie.”
    Sy antwoord was toe: "Beste FC Boot,
    Jy slaan die spyker op die kop: dis nie Afrikaans of Engels nie. Sintakties is is Afrikaans, met Afrikaanse en Engelse woordeskat. Dis nog taal, want dit kommunikeer deksels goed by wyse van die spraakklanke gemaak deur die spraakorgane; dit moet dus taal wees. Kom ons noem dit voorlopig Engfrikaans. Afrikaans het ook so vis-nog-vlees begin. Dit was nie Nederlands nie, ook nie Maleis-Portugees, of Khoi, of Engels nie."
    Maar wat Angus nalaat om te sê is dat die fondament van Afrikaans die Nederlands van die tyd was, aangevul deur Nederlandse dialekte van die matrose ens, aangevul met woorde uit ander tale.
    Die volgende is kort uittreksel uit 'n artikel van die Afrikaanse taalmuseum:
    "AFRIKAANS het uit ’n wye verskeidenheid van bronne ontwikkel en sy wortels lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, Asië en Afrika. In 1652 het die VOC, die befaamde skeepsmaatskappy van Nederland, ’n verversingspos aan die Kaap gestig vir sy skepe op hul reis na en van die Ooste.
    Die mense aan die Kaap was van verskillende Europese lande afkomstig, byvoorbeeld matrose en die amptenary uit Nederland, vakmanne en huursoldate uit die Duitssprekende gebiede, Nederland en die Skandinawiese lande en die Hugenote uit Frankryk.
    Aangesien die taalbeleid van die VOC baie streng was en hulle gretig was om die Hollandse karakter van die Kaap te behou, is die mense almal verplig om Hollands aan te leer. Dit het ook gegeld vir die Khoi-groepe in die omgewing en die slawe wat uit Afrika en die Ooste ingevoer is.
    Die resultaat van hierdie beleid was ’n aanleerderstaal waarvan Hollands die teikentaal was. Party navorsers verwys hierna as ’n Kreoolse taal. Reisigers het reeds in 1671 aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word nie meer soos die taal van Europa klink nie. Die skryftaal was egter nog dieselfde.
    Teen die middel van die 18de eeu, was Afrikaans as ’n nuwe taal met ’n eie identiteit reeds aan die Kaap gevestig. Dit is Kaaps-Hollands genoem, maar het in party streke ook ander name gehad. Só het die taal van die Genadendal-sendingstasie by die Britse owerheid bekend gestaan as Genadendal Dutch. In die 19de eeu het Afrikaans in kontak gekom met Engels en die tale van die verskillende swart groepe in die binneland. Hierdie tale het ook ’n invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad."
    Dit is dus duidelik dat die grondslag van Afrikaans 'Hollands' was. Die Hollandse taal is dus aangevul met woorde uit ander tale en het ontwikkel tot Afrikaans. Daar het dus nie soos in Angus se voorbeeld 'n totale vermenging van tale plaasgevind nie en dit is die hoofrede dat Nederlanders nog steeds die Afrikaanse taal kan lees en verstaan.
    Hierdie EngAfrikaans waarvan Angus 'n voorstander is, omdat mense te lui is om nog Afrikaans nog Engels te gebruik is 'n vermenging van tale en nie 'n aanvulling van Afrikaans of Engels nie. Dit maak nie een van die twee tale 'n beter taal nie en eintlik moet jy goeie kennis van beide tale het om die nuwe taal te verstaan.
    Dit laat my dink aan die ou grappie toe die Engelsman vir die boer wou bedank vir sy gasvryheid en toe daar pleks van 'Baie dankie' daar 'n 'buy a donkey' uitgekom het waarop die boer met sy beste Engels geantwoord het:" Thank you very much sir, but I would rather buy a horse, they are much faster."
    Lekker dag.

  • Dit is soos jy sê FC, Afrikaans het grootliks uit 17-eeuse Nederlands ontstaan en Nederlands en Afrikaans is nog onderling verstaanbaar tot so 'n mate dat daar bewerings is dat Afrikaans nader aan Nederlands is as sommige van die dialekte in die onmiddellike omgewing.
    Angus kan nie die verskil sien tussen taalontwikkeling en taalvermenging nie en dit is eintlik waaroor ek en sy hele gesprek gegaan het. Hy verdedig Engfrikaans deur te sê dit is natuurlike taalontwikkeling en ek sê dit is bloot swak Afrikaans en simptomaties van die agteruitgang van Afrikaans.

  • Beste FC Boot,
    Weer eens slaan jy die spyker op die kop, maar ongelukkig, met die tweede hou, slaan jy jou duim raak.
    Dit is so dat die nuwe taal, nl Kaaps wat Afrikaans geword het, basies Nederlands was, met hoofsaaklik Nederlandse woordeskat en dan woorde ontleen aan ander tale. Mettertyd het die Nederlands ook sy fleksie begin verloor, hoofsaaklik weens gebrek aan kennis van die Nederlandse taal. Die nuwe taal die burgery is so effens in toom gehou deur die amptenary wat Nederlanders was en nog Nederlands gepraat het.
    Die sin wat jy aanhaal jy sintakties Afrikaans. Overgeset synde beteken dit dat die struktuur daarvan Afrikaans is, met Engelse woorde tussenin. Daarom word dit nog as Afrikaans beskou.
    Jy verstaan die hele gesprek verkeerd. Ek is nie 'n voorstander van enigiets nie. Ek wys maar net in watter rigting Afrikaans besig is om te verander. En lees nou mooi wat ek vir jou sê: hierdie verandering kan niemand keer nie, net soos niemand kon keer dat Nederlands aan die Suidpunt van Afrika Afrikaans geword het nie.
    Dit is so dat mense wat Afrikaans praat te lui is om "suiwer Afrikaans" te praat, daarom gebruik hulle die Engelse woord wat hulle beter ken. Die burgery aan die Kaap was ook te lui om suiwer Nederlands te leer en dit te praat. Die gevolg? 'n Nuwe taal, Afrikaans, het as gevolg uit hierdie luiheid ontstaan.
    Geen taal is staties nie. Almal is besig om te verander, want so pas hulle aan by die veranderende wêreld.
    Dit is nou maar so dat Afrikaans naas Engels en ander tale hier in Suid-Afrika gepraat word, en dat hulle mekaar gaan beïnvloed. Daaraan kan niemand iets doen nie, veral omdat taal hom nie in 'n blik laat druk, met die deksel bo toe nie. Daarby moet 'n mens onthou, die hoofdoel van enige taal is om te kommunikeer, nie om deur een of ander patriotiese wese besit te wees nie. Hierdie taalverandering klink nie altyd vir almal mooi nie, net soos die oorgang van Nederlands na Afrikaans ook nie vir almal mooi geklink het nie.
    Ek is vies vir Jan Rap omdat hy dit wat ek sê, verdraai, en so 'n grap maak van wat vir my 'n ernstige en interessante onderwerp is. Miskien sal ek maar tog antwoord op wat hy geskryf het.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek het tog maar besluit om jou te antwoord ten spyte van al jou slinkse draaitjies.
    Die enigste bedreiging wat daar vir 'n taal is, is dat dit in onbruik raak, want dan gaan dit dood. Dit raak in onbruik as dit nie gedurig gevoed word om aan te pas by omstandighede nie. Engels is nou maar die toonaangewende taal van die wêreld en ook in Suid-Afrika, en dit dien as voedingsbron vir Afrikaans. Ons is gedurig besig om Engelse woorde te vertaal, of nuutskeppinge in Afrikaans te maak vir Engelse woorde, of om Engelse woorde sommer so pens en pootjies in Afrikaans ingeburger te kry. Mettertyd troos ons ons daaraan dat dit nie 'n Engelse woord is nie, maar 'n leenwoord, en die volgende stap is dat ons dit nie eens meer as leenwoord sien nie. Met hierdie proses is daar niks linguisties mee verkeerd nie, want dis hoe alle tale maar maak. Dis hoe Engels, wat basies 'n Germaanse taal is, Romaanse woorde in sy woordeskat het. As jy vandag ALLE Engels uit Afrikaans haal, sal ons skaars met mekaar kan kommunikeer, so geradbraak sal dit wees.
    Ek sien die invloed op Afrikaans as verrykend vir die taal; jy sien dit as vernietigend.
    Jy sien die teenstand wat Afrikaans kry op politieke gebied as vernietigend. Ek sien dit as versterkend vir die taal, en ek grond my bewering op wat in die verlede gebeur het. Hier verskil jou en my siening, want jy steur jou nie aan wat in die verlede gebeur het nie. Jy steur jou nie aan hoe Afrikaans ontstaan het nie. Jy kyk vas teen die hier en die nou. Jy wil Afrikaans beskerm deur dit in 'n blik te druk, met die deksel toe. Niks mag dit beïnvloed nie, niks mag daarby kom nie, en die woordeskat daarvan moet staties wees.
    Die twee taallyne wat ek vir jou voorhou, een van Amsterdam na Berlyn, en die ander vanaf Parys na Berlyn, het te make met kommunikasie, en dis nie my lyne nie. Dis gedoen deur linguiste wat die kommunikasie daarlangs ondersoek het. Dit bewys dat jy taal nie kan afbaken nie. Jou Oupa se taal wys jou daarop: hy het nie “snaaks” gepraat nie. Selfs jou taal wat jy praat, is gedurig aangepas, of praat jy nog soos toe jy ʼn kleuter was? Hierdie taallyne bestudeer die kommunikasie van alle mense. Dit het niks te make met universiteite nie.
    Jy moet besef, Engels is die taal waarmee ons internasionaal kommunikeer, en dit is veral ook die wetenskaptaal. Dit sou veel help as ek as dierkundige my nagraadse tesis in Afrikaans skryf. Dit sou van geen nut vir iemand oorsee wees nie. Selfs hier in Suid-Afrika verstaan almal Engels of verstaan Engels beter as Afrikaans.
    Ek twyfel of jou pa wat in 1914 gebore is, juis Standaardafrikaans kon praat. Tussen die jare 1914 en 1950 moes ons maar kwaai uitroei aan die anglisismes. Dis makliker om Standaardafrikaans te skryf, want dan kan jy sit en wik en weeg. Selfs dan nog moet die skrywer op een of ander tyd bewus gemaak gewees het van die betrokke anglisismes, anders sien hy dit nie eens raak nie.
    As ek sê ʼn taal moet hom aanpas by omstandighede, dan bedoel ek nie ʼn boer op ʼn plaas nie. Kom ek verduidelik vir jou met ʼn eenvoudige voorbeeld. As jou oupa, wat in 1870 gebore is, vandag moet terugkom, sou hy kon kommunikeer sou hy kon kommunikeer in ʼn land van motors en vliegtuie en radio’s en televisie selfone telefone en selfone, ens., ens., met sy kombuistaal wat toe nog nie eens Afrikaans genoem was nie? Ek sal jou sê wat sal gebeur. Sy taal sou vinnig nuwe woordeskat bykry as gevolg van sy taalvermoë en binne ʼn japtrap sal jy geen verskil aan sy taal kan hoor nie.
    Jy verstaan nog nie kommunikasie deur middel van taal nie. As iemand sê: “‘Jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie,” dan praat hy met mense wat hom verstaan. Hy praat nie met Engelse of Russe of Japannese nie; hy praat met mense wat sy taal praat. Langenhoven het juis gesê dat Engels so maklik in Afrikaans voorkom omdat Engels nie vir ons ʼn vreemde taal is nie.
    Engelse meng tog hulle taal, maar nie in so ʼn mate as wat dit in Afrikaans voorkom nie. Engels se situasie is egter anders as Afrikaans s'n. Engels is al tweeduisend jaar oud, terwyl Afrikaans eers in 2075 tweehonderd jaar sal haal. Engels is ʼn wêreldtaal, terwyl Afrikaans maar net aan die suidpunt van Afrika gepraat word. Afrikaans het dus nog 2000 jaar nodig om Engels in te haal, wat, volgens Zeno se paradoks, nooit sal gebeur nie.
    Net soos feite gedurig besig is om te verander, so is Afrikaans ook aan die verander, en dis ʼn feit soos ʼn koei.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Kom ek stem saam met jou. Engfrikaans is swak Afrikaans wat agteruitgegaan het. Is die destydse Kaaps-Hollands nie ook maar swak Nederlands wat agteruitgegaan het nie? Gaan kyk maar na al die klagtes destyds oor hierdie taal wat hulle aan die Kaap praat en hoe dit Nederlands vermorsel.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    'n Mens moet onderskei tussen die spreek- en skryftaal. Nou lyk dit vir my dat jy wil hê
    dat die geradbraakte Afrireng wat op die ou einde soos dit nou aangaan engafri sal wees, omdat Engels soos jy sê: “Jy moet besef, Engels is die taal waarmee ons internasionaal kommunikeer, en dit is veral ook die wetenskaptaal."
    As dit die geval is maak jy eintlik 'n goeie saak uit dat alle onderrig ook moet plaasvind in die geradbraakte taal, want waarom sou 'n mens nou aangaan om mense te onderrig in 'n taal wat totaal van die spreektaal verskil.
    En die nuwe Afrieng water later weens die dominasie van Engels af sodat dit op die ou einde EngAfri gaan wees; Engels met hier en daar 'n Afrikaanse woord, gaan jou ook niks op akademiese gebied help nie.
    Wat jy sê dat die Afrikaans wat ons praat nie meer die taal van Jan van Riebeeck en sy mense is nie mag wel waar wees, maar dit was tog die fondament waar die nuwe taal gebou is.
    Daarom mag die Nederlanders sê dat dit 'n raar taaltjie is gemeet teenoor die huidige Nederlands maar dit tog verstaan en dit eintlik 'n “heel mooie taal” vind.
    Dat dit 'n “mooie taal” is te danke aan die fondament wat gelê is deur: “Aangesien die taalbeleid van die VOC baie streng was en hulle gretig was om die Hollandse karakter van die Kaap te behou, is die mense almal verplig om Hollands aan te leer."
    Jy het egter 'n ondersteuner in vroulief gekry, want sy sê as die Amerikaners kan sê:
    “I would have did my work”, Amerikaans Engels, kan jy maar sê wat jy sê, solank jy as kind “proper” English en “proper” Afrikaans as vak neem ingeval jy dalk later sê maar 'n BA-tale wil neem, kan jy maar praat soos jy wil.
    Interessant genoeg is daar 'n artikel te vinde onder http://www.witslanguageschool.com/NewsRoom/ArticleView/tabid/180/ArticleId/1/The-Mining-Sector-in-South-Africa-and-the-Search-for-a-Workplace-Language.aspx
    Navorsing daar het bevind dat: "Fanakalô has remained a workplace lingua franca for over a 100 years and present evidence suggests that it is still going strong. In a recent survey which I conducted in the Anglo Platinum mines, it remains the language of induction for all underground miners. In addition it is spoken by most underground miners."
    Tog is die oorbruggingstaal besig om sy einde te bereik want:
    What are the Wishes of the Workforce? http://www.witslanguageschool.com/NewsRoom/ArticleView/tabid/180/ArticleId/1/The-Mining-Sector-in-South-Africa-and-the-Search-for-a-Workplace-Language.aspx
    Ek is bevrees dat Afrikaans soos dit tans aangaan dieselfde paadjie as Fanakalô gaan loop.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Logika laat jou weer eens skandelik in die steek. Jou eerste vier paragrawe is net ʼn boel tjol. Al wat ek daaruit kan maak, is dat jy nie die betekenis ken van die woord ‘radbraak’ nie. As ek my Zulusprekende tuinier iets wil verduidelik dan is dit in geradbraakte Engels met baie gebare daarby. Geradbraak beteken gebrekkig. As iemand Afrikaans praat en hy gebruik tussenin Engelse woorde, is dit allermins gebrekkige taal. Die hoorder sal heel waarskynlik beter verstaan as sou hy nie Engelse woorde gebruik het nie.
    Jy beskou Afrikaans en Engels asof dit op gelyke voet is, en dit is beslis nie die geval nie. Engels het niks van Afrikaans nodig nie, terwyl Afrikaans bars om by te bly met vertalings van Engels. Afrikaans het Engels so nodig om te bly voortbestaan, dat Afrikaans sommer Engelse woorde netso oorneem sonder vertaling, sonder verafrikaansing.
    Ek het onlangs na Revue-programme op KykNET gekyk. Ek was eintlik verbaas om te hoor hoeveel Engelse woord die beoordelaars gebruik in hulle kritiek. Ek was netso verbaas om die aanbieders te hoor praat, en my mond het letterlik oopgehang toe onderhoude met die kinders gevoer word, hoeveel Engelse woorde hulle sommer netso in Afrikaans gebruik. Almal het mekaar egter deeglik verstaan; daar is nie ʼn kwessie van radbraak nie. Ek was jare laas in ʼn klaskamer, maar dit sal my nie verbaas as dit deesdae die taal van die onderwyser ook is nie. Dit het my verder ook meer en meer laat besef, dat as ʼn taal eers rigting ingeslaan het, keer nie ek of jy of watter taalindoena hom nie.
    En dit bring my by ʼn ander wanopvatting wat by jou heers. Jy dink ek is ʼn voorstander van taalvermenging, en ek is nie. Ek is maar net so ʼn toeskouer hiervan as jy en enigiemand anders. Al verskil is die taalkundige het begrip daarvoor.
    Dit kan so wees dat Jan van Riebeeck die fondament gelê het van die taal, maar hierdie fondament het al met sy skrywe in sy dagboek begin verbrokkel. So erg het hierdie verbrokkeling plaasgevind dat Kaaps, waaruit Afrikaans ontstaan het, uitgeskel is as kombuistaal. Dis is slegs deur veredeling dat gepraat kon word van die mooie taal.
    Jou slotsin sê vir my dat jy nie veel van Afrikaans dink nie, en dat jou vrou jou sal moet help met hoe tale ontstaan en ontwikkel.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Verstommende kommentaar wanneer jy skryf: "Engels het niks van Afrikaans nodig nie, terwyl Afrikaans bars om by te bly met vertalings van Engels."
    Google https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_English_words_of_Afrikaans_origin.
    Jy weet nie wat die oorsprong van radbraak is nie.
    "Radbraken
    Het radbraken stamt uit de middeleeuwen, maar werd tot in de 18de eeuw in Nederland uitgevoerd. De veroordeelde werd op een houten wiel gebonden en vervolgens sloeg de beul met een ijzeren staaf op de ledematen. Over het algemeen waren 8 slagen voldoende om alle botten te doen versplinteren. Waarna de negende slag, ook wel genadeslag genoemd, volgde in de hartstreek. De genadeslag was bedoeld om echt een einde te maken aan het leven van de veroordeelde. Echter, werd deze slag niet altijd uitgevoerd. De veroordeelde kon ook worden onthoofd of worden achtergelaten waarna pijn, bloedverlies, dorst en vogels uiteindelijk de dood lieten intreden.
    Het stoffelijk overschot werd na de executie met rad en al op een hoge staak tentoongesteld op het galgenveld. De bestuurders wilde op die manier een waarschuwing geven aan iedereen die eventueel ook kwaad in de zin had."
    En dit liewe Angus is presies wat jy nou doen, maar nie besef dat jy dit doen nie. Jy is besig om Afrikaans op 'n houtwiel van 'nuwe taal vas te maak en met Engelse woorde te slaan totdat dit versplinter is en uiteindelik 'n wrede dood sterf.
    Kyk maar na jou sin van: "Sy’s amazing as dit by kos maak kom, en alhoewel sy ʼn beautiful babe is, verkies ek darem my vrou. My vrou het net die knack om my te laat goed voel as ek down in the dumps is."
    Jy sê jy is net 'n toeskouer. Jy lig dus geen vinger op om Afrikaans van die radbraakwiel te red nie.
    En dan hoop jy dat uit die dood 'n nuwe taal sal verrys. Really old chap - I don't think so.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Engels het beslis niks nodig van Afrikaans nie. Verstaan goed. Dis ʼn wêreldtaal en pas hom aan by elke land waar dit gepraat word. Hier in Suid-Afrika het Engels heelwat Afrikaanse woorde by sy woordeskat gevoeg. Ek het self ʼn lys van 130 woorde, wat ek al by Engelssprekendes gehoor het, maar as ʼn mens die Oxford-woordeboek deurwerk, sal jy dalk duisende kry. Jou skakel gee maar net sowat 50 woorde. Hierdie Afrikaanse woorde word slegs hier gebruik, en is van nul en gener waarde in bv Australië of Sjina. Afrikaans, weer, kan nie bestaan sonder Engels nie. Afrikaans moet gedurig woorde vind vir Engelse woorde. Dikwels word van nuutskeppinge gebruik gemaak, soos Fanus Rautenbach se ‘bromponie’ vir ‘scooter’. Soms is dit ook maar ʼn mislukking soos ‘knormoer’. Baie woorde is ook verafrikaans, en deesdae word die woorde sommer netso oorgeneem as leenwoorde.
    Noudat jy weet waar die woord ‘ radbraak’ vandaan kom, moet jy dit ʼn stappie verder voer en kyk hoe dit gebruik word. ʼn ‘Gebroke taal’ is ʼn taal wat sleg kommunikeer, soos wanneer ek bv met my tuinier praat wat omtrent niks Engels en absoluut geen Afrikaans verstaan nie.
    Ek sou eerder sê om te verhoed dat Afrikaans nuwe woorde tot sy woordeskat toevoeg, is om hom aan ʼn houtwiel vas te spyker en te radbraak. Latyn is ʼn goeie voorbeeld. Dit kry geen nuwe woordeskat by nie, daarom is dit ʼn dooie taal. Niemand praat dit nie.
    Ek glo nie jy weet mooi hoe taal werk nie. Dis nie my skuld dat al hoe meer Engelse woorde in die Afrikaanse woordeskat kom nie. Ek beskryf maar net wat op die oomblik met Afrikaans gebeur. Luister maar hoe die mense om jou praat, en jy sal besef dat Afrikaans vinnig besig is om te verander. Niemand kan enigiets aan hierdie verandering doen nie; nie jy nie, nie ek nie, geen taalkundige of onderwyser nie.
    Ek dink ek het al melding daarvan gemaak. Ek het so ʼn paar Revue-programme op KykNET gekyk. Die beoordelaars se kritiek was deurspek van die Engelse woorde, so ook die aanbieders en die kinders met wie onderhoude gevoer is, se taal. Tog het ek die gevoel gekry dat almal mekaar so beter verstaan.
    Afrikaans het al so verander dat ʼn Pannevis of ʼn S J du Toit sal dink dis ʼn vreemde taal.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Van Nederland en die Nederlandse taal kan jy my niks nuuts vertel nie. Nederlands wemel van die Engelse woorde. Toe almal nog ywerig nuutskeppinge laat dit bars vervaardig het vir Engelse woorde, het die Nederlanders ewe rustig Engelse woorde sommer netso oorgeneem. Hulle was van mening dat Nederlands so 'n gevestigde taal is dat 'n Engelse woord geen skade kan berokken nie. As jy eendag daar gaan toer, kan jy gerus maar jou klere by die Drycleaners gaan ingee om dit te verfris.
    Jou skakel wil nie werk nie maar ek weet van Afrikaanse poësie wat in Nederlands vertaal is. Waarom dit juis vertaal moet word, weet ek nie. Ek het so 'n paar dae gelede nog poësie van Frederick van Eeden gelees wat in 1884 geskryf is, en verstaan dit maklik.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Nou toe nou, iemand wat in Nederland gebore is, in Nederland skoolgegaan het kan jou niks leer van die Nederlandse taal, nie. Ek was darem ou genoeg om te verstaan toe my Pa sê, ons trek Suid-Afrika toe. My familie is die verhaal van twee broers waarvan een die oorlogswolke wat oor Europa saamgepak het, gesien het en betyds padgegee het. Dit was die vader van Frans Boot, my neef wat met Marga van Rooy getroud was.
    En dan my Pa ,'n nasionalis soos min, wat in die stryd teen die Duitsers betrokke was. Hy was aan die grens gestasioneer in ’n die lugafweerafdeling. HY het nie baie daaroor gepraat nie, wat ek wel weet is dat hy op 'n stadium vertel het dat hul vir drie dae lank nie die son kon sien nie vanweë die kruitdampe en soos vliegtuie die grens oorgesteek het.
    Die lugafweerkanonne so verstaan ek is net teen 'n hoek ingestel en gevuur, amper soos jy met 'n haelgeweer om 'n bondel duiwe sou lostrek. Maar alles tevergeefs want toe die soldate sien hoe stede soos Amsterdam agter hul brand, het hul pad gegee om te kyk of hul families wat daar gewoon het, die bombardement oorleef het en te red wat daar te redde was. Die bombardement van Alepo is dus geen nuwe taktiek nie. Beide was bedoel om enige weerstand te breek en die verdedigers en plaaslike bevolking tot oorgawe te dwing.
    So kom hul dan op 'n verwoeste binnestad aan waar net 'n enkel naambord nog staan. Hul besluit toe om pad te gee na Engeland, om vandaar af die stryd voort te sit. Op pad Engeland toe, met talle ander soldate versteek in platboomsteenkoolbote, wat deur 'n Nederlands oorlogskip Engeland toe gesleep word, word die konvooi aangeval deur Duitse vegvliegtuie.
    Ongelukkig was die oormag Duitse vegvliegtuie te veel en besluit die kaptein noodgedwonge om die sleepkabels los te kap om weg te kom en die aanval te oorleef, terwyl, so vertel my oorlede pa, die staaldekke wat hul beskerm het, geklink het soos sinkplate in 'n haelstorm.
    Toe dryf die hele spulletjie terug kus toe, waar Duitse soldate op hul wag en beland hul in die tronk so swart soos negers en word aan die verskriklikste ondervraging en marteling onderwerp.
    Toe volg daar 'n tydperk waarvan hy nooit graag gepraat het nie. Wat ek wel weet dat hy aktief in die Nederlandse ondergrondse besetting betrokke was en dat heelwat Jode hul lewe aan die dapper manne verskuldig is, terwyl verraad om die Duitse besettingsmagte se guns te wen, aan die orde van die dag was.
    Kort na die verwoestende oorlog het my Pa besluit dit is tyd om sy broer se voetstappe te volg, maar ook omdat hy net na die oorlog kom kuier het om hom weereens te oorreed. Dit was die eerste keer dat ek my oorlede neef gesien het.
    Deur my en talle ander vloei die Geusebloed en ek verstom my dat talle Afrikaners so slapgat is dat hul net boedel oorgee en hul eie taal verkrag en toelaat dat ander woer-woer daarmee speel, op skool en Universiteit.
    Nou niemand sê dat dit jou skuld is nie maar wel dat jy ’n ywerige beoefenaar van die geradbraakte taal is. ’n Uitdrukking wat jy duidelik nie verstaan nie. Jy behoort mos te weet uit jou beroep dat net die sterkste sal oorleef en as jy toelaat dat Engels Afrikaans instroom, dan het jy mos soos jy self erken het ’n nuwe taal. Wel net soos daar nuwe spesies in die diereryk ontstaan, so ontstaan nuwe tale dan. Maar ’n nuwe taal beteken ook dat die ou taal net soos die ou dierespesies uitgesterf het.
    En enigiemand wat nie daarteen opstaan en aktief daaraan deelneem is dan eintlik maar net ’n taalmoordenaar.
    Want ’n taal wat die volgende kan oplewer verdien nie sulke behandeling nie.
    Winternag
    O koud is die windjie
    en skraal.
    En blink in die dof-lig
    en kaal,
    so wyd as die Heer se genade,
    lê die velde in sterlig en skade
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
    is die grassaad aan roere
    soos winkende hande.
    O treurig die wysie
    op die ooswind se maat,
    soos die lied van ’n meisie
    in haar liefde verlaat.
    In elk’ grashalm se vou
    blink ’n druppel van dou,
    en vinnig verbleek dit
    tot ryp in die kou!

  • Beste FC Boot,
    Jy mag wel in Nederland gebore en getoë gewees het, maar jy het nie agtergekom hoe baie Engelse woorde in Nederlands voorkom nie. Het hulle dan ook boedel oorgegee, en dit nogals sonder dat jy dit sou agterkom? Volgens jou mening moet moderne Nederlands dus ook 'n geradbraakte taal wees.

    As Afrikaans Engelse woorde tot sy woordeskat toevoeg beteken dit nie dat Afrikaans 'n geradbraakte taal word nie. Dit versterk net die taal se uitdrukkingsvermoë, soos dit met Nederlands gebeur het. Tale het nie grense soos Patriotte hulle dit verbeel nie. Alle tale neem woorde van ander tale oor. Dit is hoe hulle groei en oorleef.
    As nuwe tale gevorm word, beteken dit nie altyd dat die ou taal afsterwe nie. Nederlands het nie afgesterwe toe Afrikaans gevorm is nie. Duits bestaan nog ten spyte van sy baie dialekte.
    Volgens jou is feitlik elke Afrikaanssprekende 'n taalmoordenaar, want ek glo nie daar is een persoon wat die sogenaamde suiwer Standaardafrikaans praat nie. Ek het juis so twee maande gelede, toe ek verplig was om saam met my vrou se familie kerk toe te gaan, gehoor hoe die dominee dikwels 'actually' en 'amazing' en nog 'n paar ander Engelse woorde gebruik in sy preek.

    Ten slotte, 'n taal is 'n geluidstroom waarmee mense kommunikeer, en verdien niks.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Almal wat in Nederland gebore is is Nederlanders, maar net die wat in Holland gebore is, is Hollanders. Jou argument is hol, want die Nederlanders het net soos die Afrikaners slapgat teenoor hul taal geword.
    Jou argument dat Nederlands nie uitgesterf het nie, is betekenisloos, want die tale het op twee aparte kontinente ontwikkel tot wat dit vandag is. Ja tale neem soms woorde oor maar nie tot so 'n mate dat dit naderhand onherkenbaar word.
    Jy skiet jouself in die voet want elders skryf jy dat jy tog nog goed wat lank terug geskryf is kan lees en verstaan, wat tog 'n bewys is dat Nederlands en Afrikaans al het hul apart ontwikkel uit dieselfde taalstam, tog nie sover van mekaar verwyder is nie dat dit 'n totaal vreemde, onverstaanbare taal is.
    Maar nou lyk dit vir my asof jy probeer sê dat as een slapgat volk taalmoord pleeg,
    dan kan ander maar volg. Kom ons kyk na jou voorbeeldsin van: "Sy’s amazing as dit by kos maak kom, en alhoewel sy ʼn beautiful babe is, verkies ek darem my vrou. My vrou het net die knack om my te laat goed voel as ek down in the dumps is."
    Ek tel ongeveer 40 woorde waarvan agt Engels is. Dit is 20% en dan vertel jy sonder om te blik of te bloos dat dit nie saak maak as 'n paar Engelse woorde ingevoeg word nie. Teen die tempo is Afrikaans meer Engels as Afrikaans teen 2020!
    Nee taal is nie net 'n geluidstroom nie. Diere maak geluidstrome, maar die menslike geluidstroom is meer as dit.
    "Wat is taal? We gebruiken taal om te spreken, luisteren, lezen en schrijven. Zo maken we onze wensen kenbaar, vertellen, vragen we iets of uiten onze gevoelens.Het taalgebruik bestaat niet uit woorden alleen, ook gebaren, mimiek lichaamshouding, intonatie en tekenen zijn uitingen van taal."
    Jou slotsin van: “Ten slotte, 'n taal is 'n geluidstroom waarmee mense kommunikeer, en verdien niks,” is dus nog een in die lig van voorafgaande sinnelose kommentare, want as jy 'n taal nie koester en vertroetel nie, maak jy die deur oop soos tans, dat ander jou kultuur en geskiedenis vertrap en jou in 'n mengelmoes van volke reduseer tot niks en ontneem jou van die voorreg om in jou moedertaal onderrig te word.
    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Ek wou by jou weet of jy Nederlands met sy baie Engelse woorde ook as geradbraak beskou, want jy sê Afrikaans is geradbraak as gevolg van die baie Engelse woorde. Nou sê jy sommer my argument is hol. Watter argument? Ek het jou 'n vraag gevra.
    Jy het beweer dat as een taal uit ’n ander ontwikkel, dan sterf die ou taal, en ek het jou bewys dat dit nie noodwendig so is nie. Nederlands het nie uitgesterf agv Afrikaans nie. Die feit dat Afrikaans ontstaan het op 'n ander kontinent maak nie saak nie. Dit is juis hoe nuwe tale ontstaan: deur skeiding.
    'n Nuwe taal begin gewoonlik so: as gevolg van geografiese skeiding begin mense effens anders praat, en so ontstaan 'n streektaal. Met tyd raak die veranderinge groter en die streektaal word 'n dialek. Die dialek word naderhand 'n nuwe taal veral as mense dit begin skryf, en as 'n nuwe letterkunde daaruit ontwikkel. Dit beteken natuurlik nie dat die dogtertaal onverstaanbaar is teenoor die oorspronklike taal nie. Nederlanders en Afrikaners verstaan mekaar nog, maar ook maar net. As ek na 'n Nederlandse program op TV kyk, sukkel ek om die gesprek te volg.
    Lees weer mooi: ek het nie gesê taal is 'n geluidstroom nie. Ek het gesê taal is 'n geluidstroom waarmee mense kommunikeer. Net die mens het spraakorgane waarmee hy sinlose spraakklanke kan vorm wat verbind tot sinvolle woorde. Die sinvolle woorde verbind weer tot sinne, en so kommunikeer die mens.
    Nog verstaan jy nie. Ek sê nie sonder om te blik of te bloos dat die Engelse woorde in Afrikaans nie saak maak nie. Ek beskryf slegs wat gebeur met Afrikaans. Taalkundig gesien, daar moet tog 'n rede wees waarom een taal die woorde van 'n ander taal oorneem. Ek skryf dit toe aan die vervulling van 'n behoefte. Jy en Jan Rap skryf dit toe aan slapgattigheid. As die Engels wat in Suid-Afrika gepraat word, Afrikaanse woorde opneem, is dit agv slapgattigheid? Toe 17de eeuse Nederlands hier aan die Kaap 'n mag der menigte Maleis-Portugese woorde opgeneem het, was dit agv slapgattigheid? So 'n taalbeskouing is te oppervlakkig en dui op onbegrip vir taalontwikkeling.
    Jy wil hê dat 'n taal "gekoester en vertroetel" moet word. Jy laat my lag. So 'n taal sal nooit onafhanklik, op eie bene kan staan nie, en uiteindelik in die niet verdwyn. Kyk maar na Engels. Het dit koestering en vertroeteling nodig? Nee, Engels veg sy pad oop, waar hy ook al land, pas hy hom aan by omstandighede. Hier in Suid-Afrika het hy selfs al Sêouthefrieken Iengliesh geword, in Amerika is dit al Amerikaans, en jy kan sommer hoor aan sy klank of dit 'n Indiër of Japannees of Australiër is wat praat. Gelukkig is Afrikaans nie vertroetel nie, maar moes hy sedert sy bestaan nog hard om oorlewing veg.
    Groete
    Angus

  • Beste Angus
    Ek is bly dat ek daarin kon slaag om jou te laat lag. Maar wat is die feite? Volgens inligting vervat op Google is die posisie van Engels min of meer as volg:
    "We can estimate that there are definitely above 1.5 billion speakers of English globally. In 2015, out of the total 195 countries in the world, 67 nations have English as the primary language of 'official status'. Plus there are also 27 countries where English is spoken as a secondary 'official' language."
    Daarteenoor word beraam dat: "Afrikaans is also spoken in Botswana, Lesotho, Malawi, Namibia, Swaziland and Zambia. It is estimated that the total number of first language speakers of Afrikaans is 7.1 million but the numbers have been decreasing.”
    Die posisie van 'n aanverwante taal soos Nederlands is soos volg: “Worldwide, Dutch is a national language in Suriname (South America), Aruba and the Dutch Antilles (Caribbean). In total Dutch has 23 million mother tongue speakers. On top of that, there are also 4 million people worldwide who speak Dutch as a second or foreign language.” Daar is dus ongeveer 40.5 miljoen mense wat of Nederlands of 'n aanverwante taal praat, waarvan net oor die 7 miljoen hulself aan die Suidpunt van Afrika bevind. Hierby kan nog ongeveer 6,4 miljoen Belge gevoeg word wat 'n variant van Nederlands praat.
    Met dit as agtergrond Angus is jou houding teenoor Afrikaans heel verstaanbaar, want jy is tog meer Engels as Afrikaanssprekend. Engels of 'n variant daarvan sal dus nog vir baie jare 'n taal wees waarin jy jouself vanweë jou agtergrond sal tuis voel wêreldwyd.
    Nou kom jy en sê dat Afrikaans ook woorde uit ander tale oorneem. Dit is natuurlik waar, maar dit is persentasie-gewys so klein dat die nie die basiese taal oordonder nie en dit onherkenbaar maak. Dit is beslis nie 20% Engels soos in jou voorbeeldsin nie.
    Dan maak jy die volgende stelling, wat my laat lag: "Kyk maar na Engels. Het dit koestering en vertroeteling nodig? Nee, Engels veg sy pad oop, waar hy ook al land, pas hy hom aan by omstandighede."
    Wat jy nou nie daarby sê nie en verswyg om jou argument te pas, is dat dit die taal van een van die grootste koloniale magte was wat die wêreld nog gesien het, en Engels oral en ook plaaslik in mense se kele afgedruk het.
    Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
    In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal fermoor.
    Ag, hoe word ons folk ferbaster, daartoe werk ons leeraars saam.
    Hollans nog in seek’re skole: is bedrog, ’n blote naam!
    Wi hom ni laat anglisere, word geskolde en gesmaad.
    Tot in Frystaat en Transvaal al, oweral diselfde kwaad.
    ‘Dis fooruitgang’, roep di skreeuwers, ‘dis beskawing wat nou kom!
    ~ C.P. Hoogenhout ( - oor die verengelsing na die Tweede Anglo-Boereoorlog, in Die Afrikaanse Patriot, 1880)
    Jy skryf: “Gelukkig is Afrikaans nie vertroetel nie, maar moes hy sedert sy bestaan nog hard om oorlewing veg.” Ja dit moes hard veg om uit die greep van verengelsing te ontsnap, en dit is juis waarom bewegings soos Afrikaanse Taalgenootskap (afgekort ATG) op 13 Desember 1905 op 'n kongres in Pretoria onder leiding van Gustav Preller gestig is.
    Tans is ons presies terug in die posisie waar die mense was, want Engels word weereens in feitlik alle regeringsinstansie, skole en universiteite in mense en studente se kele afgedruk. Dit is ook duidelik uit sekere uitlatings dat selfs universiteite hul self nie geroepe voel nie om Afrikaans te red nie.
    Die ironie van die saak is dat die regering in hul erns om die land te dekolonialiseer hul tog oorgee aan die taal van die grootste koloniale magte wat die wêreld nog gesien het. Elders is daar geskryf dat: “Language is powerful; language is power. Language is a change-creating force and therefore to be feared and used, if at all, with great care, not unlike fire.” (Lakoff 1990: 13)
    Jy Angus speel dus met vuur wanneer jy 20% Engels in Afrikaans invoeg en dan praat van ’n nuwe taal, want soos jy nou aangaan dompel jy Afrikaans weereens in ’n oorlewingstryd.
    Lekker dag.

  • Tokkie Swarts

    Ek hoop Angus Buchan is gelukkig om my taal Afrikaans af te kraak, as 'n geradbraakte taal af te maak. Hy wat elke Sondag in Engels op KykNet preek, hoop hy kan voor God kom buig, terwyl hy sekere mense se tale, veral in hierdie geval my taal Afrikaans afkraak.

  • Angus, ek lees nou jou stukkie van 23 Januarie 2017 raak waar jy vra of Afrikaans ook nie maar Nederlands is wat agteruitgegaan het nie. Dit kan 'n interessant debat wees of 'n taal agteruitgaan as hy bietjie van die grammatika afskud - Nederlandse grammatika is bietjie eenvoudiger as dié van Duits en Engelse grammatika is aansienlik eenvoudiger as die Duitse of Franse, Engels se brontale kan jy maar sê.
    Wat Afrikaans betref wat besmet word met Engelse woorde: Dit is agteruitang, hierdie geradbraakte manier van praat verarm Afrikaans. Engelse woorde word lukraak gebruik om Afrikaanse woorde te vervang; die spreekwyse is nie 'n 'variant' of dialek nie; dit is bloot swak Afrikaans.
    Jy kry nou maar eenmaal nie die begrip 'agteruitgang' teenoor 'verandering' onder die knie nie.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top