Titel: Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal
Samesteller: Anton F Prinsloo
Uitgewer: Protea Boekhuis
Formaat: Slapband
ISBN: 978-1-86919-265-5
Hierdie leser se eerste werklike ervaring van "annerlike Afrikaans" was Die Grikwas (sic) en hul bure (1943) van JF Jacobs in die Nasionale Pers se nooit volprese reeks Kennis vir almal. Het dit nie tyd geword om van hierdie titels vir herpublikasie te oorweeg nie?
Ons gesin, Pa vooraan, het Griekwa-uitdrukkings in ons spraak opgeneem, van ? uitroep soos "Aits-erre-etse!" af tot "Staan troei!" en "Ietsegeit" toe. Maar streektaal, familietaal en skoolterrein-taal (soms baie obseen) het my eweseer geboei, en enkele jare gelede het ek ? versamelinkie van Stormbergse taal aan die redakteur van die WAT oorgemaak.
En nou het dr Anton Prinsloo ? uitgebreide bydrae tot herinneringsliteratuur in Afrikaans gelewer met sy dik boek kontreiwoorde getiteld Annerlike Afrikaans. Wat deurentyd opval by Prinsloo se verklarings, is die plesier wat hy aan sy taak gehad het. Kontreitaal, soos byvoorbeeld plekname, en die volksname van plante en diere, kan na die noemer nostalgie herlei word; ja, ook disse soos slinger-om-die-smoel, skilpad, skaap-se-kluitjies, pofadder, haksel, en talle ander. Kontreitaal, het Boerneef ons geleer, is "troostaal van gister", en is ? stuwal teen die "trap- en vertrappers" van kosbare erfgoed.
Hoe seer Boerneef, Van Wyk Louw, George Weideman, Thomas Deacon en ander skrywers, maar veral digters, die kontreiwoordeskat van Afrikaans uitgebrei het, kan plek-plek aan Prinsloo nagegaan word; hier net enkele voorbeelde: aksenawel, borrendynsvol, erdman ("ertman" by Van Wyk Louw), beenbek; katpootjie maak; eenspaaierig; souerig; moerak.
Prinsloo sou gerus ook méér kontreiboeke kon byhaal, soos dié van MER, om een voorbeeld te noem. Sy skryf onder andere oor senerette (uit die Engels "sand rats", ? eufemisme vir "prostitute"); bergkatjietee (vir die bolplantjie "painted lady"); en tyk (matrasoortreksel).
Digters soek altyd knaend na ? titel vir ? nuwe bundel, een wat aksenawel reg is. Dikwels leen hulle ? woord of sinsnede by buitelandse digters, maar hier kan "annerlike Afrikaans" hulle tot hulp wees. Ek het algaande poëtiese titels aangeteken: droefplaas (vir begraafplaas); dolfhout (? mooi titel vir die versamelde verse van Dolf van Niekerk - dolfhout word, terloops, ook Namibiese kiaat genoem); hartseerson (vir ondergaande son); hoogsee (hoogwater); jakkalsdou (motreëntjie); klipkaroo (soort Karooveld gekenmerk deur oopgewaaide ontblote sandsteenlae, ens); diepvoordags (douvoordag).
Annerlike Afrikaans het ? voordeel waarop selfs dr Prinsloo nie kon reken nie, en dis dat sekere woorde soortgelyke woorde kan aktiveer. Enkele voorbeelde: ? Dorsvolksny (brood) het in die Stormberge ook ? skawagtersny geheet, en "blikviool" het my aan ? optekening van Dirk Mostert herinner:
Die ou kopkool en die jong kopkool,
hiert vir die nôientjies van die velviool!
"Duiwelstwak", weer, het in my kontrei "duiwelsbrood" geheet.
Nog ? wins van Annerlike Afrikaans is dat Prinsloo nie wegskram van rassistiese woorde nie, en hulle ook nadruklik so benoem. Onthistorisering lê nie op die pad van die woordeboekmaker nie.
Maar daar is ook etniese uitdieping in Annerlike Afrikaans; vir my die mooiste, en ook ontroerendste, voorbeeld staan op bl 128 onder die lemma heitsi-eibib, met ? string variante van dié woord daarnaas. Kliphope langs die pad in Namaland, Hereroland, Namibië sou die graf van die god Heiseb kon wees, en wie verbystap, plaas ? klein offerande op dié graf, ? takkie, die blare van ? boom, ? bietjie twak. In ? dokumentêre prent oor Noord-Afrika kon jy dié gebruik herhaal sien, maar die offerande is nou bloot nóg ? klippie. Dié gebruik kom ook in Tibet voor: wie by ? klipstapel in die veld verbyloop, plaas nóg ? klip op die stapel.
Miskien kan Prinsloo in ? volgende uitgawe taalkundige notas by woorde van etniese herkoms insluit. "Bonghôl" is afgelei van "imbongolo", die Xhosa vir "donkie", en ook is dit ? tipiese Xhosa-gebruik om "haar" te gebruik, verwysend na ? man, en "hom" verwysend na ? vrou. Hier sal ? werklike Xhosakenner moet help, en vir eens en vir altyd ? eienaardige taalpatroon help verklaar.
Prinsloo se voorbeelde by drie- en vierlettergreepwoorde is skraps, maar hy vermy hulle darem ook nie. Ek wil met enkele aanvullings kom. ? Waardige tant Lettie du Toit het altyd na ? aanstellerige jong man as ? "poep-en-jis" verwys. Het ons dalk hier die Afrikaans vir "popinjay" wat so dikwels by Shakespeare voorkom? Pisvoet (bl 460) is ook die naam van ? skuifeldans ("shuffle"), dalk ? wrede toepassing van die pynlike kondisie waarna Prinsloo verwys. In my kinderdae is ? lastige kind bestraf met dié uitdrukking: "Loop poep op ? lappie en ruik daaraan." ? Kind het hom so geskaam dat hy hom dadelik uit die voete gemaak het.
Party uitdrukkings kom kennelik van ver af. Op bl 148 is daar die uitdrukking: "Van huitjie tot beentjie." My ma het altyd gepraat van iemand wat iets "van stukkie tot beentjie" vertel, maar baie jare later kom ek weer op dié uitdrukking af, en wel by Klaas Waarzegger.
Ten slotte, ? opmerking wat ten koste van myself gaan wees. Ek het ? verhaal geskryf wat die kontreiverhaal wou parodieer, en het dit "Die huisgerief" genoem. Nou staan daar by Prinsloo op bl 148: "huisgerief - ervare vrou wat hubare jong mans by hul huise inlei in die geheime van geslagsgemeenskap."
Het ek nou ? niebestaande gebruik die wêreld ingestuur, en hoe gaan ek my eie ligsinnigheid gekanselleer kry?
By al die deugde van Annerlike Afrikaans slaan ek die kreatiewe stimulering wat van hierdie woordeboek uitgaan, die hoogste aan. Dit stig dink- sowel as gevoelsreaksies, soos poësie altyd moet. Ook volkspoësie.