Antieke Griekeland en Rome in Suid-Afrika

  • 8

Lees Maandag 7 Mei in Die Beeld die boekresensie deur Jo-Marie Claassen getiteld "Klassieke invloed tot vandag toe deurgetrek". Die boek onder bespreking is South Africa, Greece, Rome. Classical Confrontations. Die redakteur is Grant Parker. Jo-Marie Claassen is een van die bydraers.

Alhoewel ek self nog nie die boek gelees het nie, blyk dit uit die resensie dat die waarde van hierdie boek daarin lê om die vraag na die relevantheid van die nalatenskap van die antieke Griekse en Romeinse beskawing hier op eie bodem puik te beantwoord. So word byvoorbeeld gewys hoe Gerrit Viljoen (NP), Chris Hani en Pallo Jordan (ANC) tydens taai onderhandelinge met 'n teebreek ontdek hulle het 'n gemeenskaplike belangstelling in die Griekse drama Philoktetes

Ook is daar ’n verwysing na ons eerste swart klassikus Prof Davidson Don Jabavu van Fort Hare. 

Kultuur bly 'n dinamiese aspek van menswees. En daar is geen deel daarvan wat uniek aan een besondere nasie behoort nie. Dus is dit verblydend om te sien hoe die ryke kultuur van die antiekes ook hier op eie bodem relevant bly. In Europa het die klassieke Griekse en Romeinse kulture bygedra om 'n ryk gemeenskaplike kultuur daar te stel.  
Met behulp van die Romeinse kultuur is daar 'n mate van gemeenskaplikheid gevind tussen die Germane en die eertydse Romeinse burgers. Vandag is die Europese Unie (ten spyte van al sy moeilikhede, maar 70 jaar se vreedsame naasbestaan) 'n goeie voorbeeld wat bereik kan word deur die Romeinse voorbeeld; 'n moderne Pax Romana. 

Dalk het hierdie antieke kulture ook ons volksvaders in 1994 gedien as voorbeelde vir 'n Pax Africana Australis of Meridies.

Zhi

 

  • 8

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Zhi, jy sit die pot weer mis. Ek dink bv Kosovo, Croatia en Herzegovina net as enkeles, waar daar volksmoord was in die afgelope, volgens jou, 70 jaar vreedsame bestaan in Europa.
    Onlangs, burgeroorlog in Ukraine.

  • Salvé
    Die EU en die RR is/was/sal nie 'n paradys wees nie, maar ten spyte van struwelinge, grensgevegte (die Romeine het voortdurend grensprobleme en interne onluste belewe) etc bly die sosio-politiese orde nogtans voortbestaan. Owergesetsynde; die struwelinge in 'n klein hoekie van die EU (as daardie gebiede ooit deel was daarvan) het nie die sosio-politiese harmonie in die groter EU versteur nie. Dus die behoud van die Pax Romana en Pax Europalis sonder dat daardie geïsoleerde konflikte die eenheid kon versteur. Avé.

  • Wat nog steeds die gemeenskaplike kultuur van Europa is, is dit (sonder om nou onnodig in kleiner besonderhede in te gaan) wat Europa saambind om die EU daar te stel. Dit is weliswaar so dat daar krake is maar in die groter geheel verkeer die mense vreedsaam met mekaar en vind hulle tog oplossings vir hulle verskille.

  • Hans Richardt

    Die EU is nie op kultuur/sosiale gebaseer nie, maar wel op ekonomie, politieke korrektheid en militêre strategiese waarde geskoei.
    Zhi, skerp jouself op oor internasionale aangeleenthede. Bv Hongarye weier immigrante, juis om hul kultuur te behou. Pres Orban is openlik uitgesproke hieroor. Hy weier om EU se geforseerde etniese amalgamasie politieke korrektheid-agenda te aanvaar.
    So Zhi, hou op met politieke korrektheid hier.
    Die vraag is nog steeds onbeantwoord, waarom het Romeine liewer noord in Europa gekolonialiseer, as suid in woestyn en Afrika?
    Nederland het nooit SA gekolonialiseer nie, want Nederland kom eers in 1838 tot stand, nadat Brittanje reeds in 1801 begin het in SA. VOC was en is nog steeds openbare maatskappy. Politieke korrektes in SA buig feitlike geskiedenis om by VSA aan te pas.

  • Hans wil jy voorgee die Romeine was gekant teen Afrika en die woestyn? Antwoord daardie stelling/vraag van jou nie jou eie vraag nie? Die woestyn was/is 'n hindernis. Selfs die Sjinese beskawing het nie verder wes as die Gobi-woestyn gegaan nie, of het dit? Of moet ons eerder aanvaar dat die Romeine rassevooroordeel gehad het om eerder die beskawing na die blankes in die noorde te neem eerder as die swartes van die suide? So suggestie sal blote snert wees.
    Die blote punt wat ek probeer tuis bring is dat daar 'n gemeenskaplike kultuur (Greco-Romaans-Germaans) in Europa is wat die eenheid bewerkstellig of help bewerkstellig het. Ekonomie, politiek en militêr is fasette daarvan, maar op hulle eie sou dit nie tot so 'n eenheid gelei het nie. Sedert die Romeine was daar altyd 'n strewe met tye na 'n Europese eenheid (ander tye weer 'n strewe na afsonderlikheid). Daar was byvoorbeeld die ryk van Karel die Grote, die Habsburgers, die Spanjaarde, die Franse, Napoleon en ook Hitler toe die einste Hongare met wie jy spog die Nazis met ope arms ontvang het. Elders skryf ek dat observasie van die natuur die enigste waarheid is. Die heelal is ook voortdurend in ’n proses van verandering; ekspansie en ineenstorting. So gaan die EU nie hou nie net soos apartheid SA nie gehou het nie. Terloops, al opgemerk hoe tevrede sommige witmense met die eenvormigheid van die ou SA was maar daardie selfde eenheid as “bedreiging” beskou? Aai die mens bly maar ’n veranderlike wese.

  • Jo-Marie Claassen

    Dis vir my interessant dat my resensie van 'n boek oor Grieks-Romeinse invloede in Suid-Afrika sulke wye draaie kon gooi! Feit is, natuurlik, dat die Romeine wel deeglik ook in Noord-Afrika in beweeg het. Vele van veral die Latynse Kerkvaders was van Noord-Afrika, selfs die grote Augustinus. Daar was blykbaar min wit-swart rassisme by die Romeine: een van keiser Marcus Aurelius se mees geliefde onderwysers was Cornelius Fronto van Libië, wat homself 'n "Libiese Nomade" genoem het; die hoogaangeskrewe auteur van die Metamorphosis, die Latynse skrywer Apuleius, verwys na sy eie "kort, krullerige hare" en blas gelaat. Die suiwerste Latyn het in Noord-Afrika bly voortleef nadat die Europese Latynsprekers al hoe meer hulle eie dialekte, wat die Romaanse tale sou word, begin ontwikkel het; dit is eers met die uitbreiding van Islam met sy Arabiese tuisland en Arabies as ampstaal dat Latyn as ampstaal in die meeste Romeins-oorheersde gebiede in Noord-Afrika verdring is. Maar dit het alles min te make met die onderwerp van Parker se boek, Greece, Rome, South Africa. Daarin sal julle lees van die invloed van die Klassieke in Suid-Afrika tot vandag toe, van aspekte van ons argitektuur, tot ons politiek, opvoeding en regstelsel – en vele meer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top