Anderkant die ego-ideaal: Eckhart Tolle se A New Earth

  • 0

Titel: A New Earth
Outeur: Eckhart Tolle
Uitgewer: Penguin
ISBN-nommer: 9780141017822
Publikasiedatum: Maart 2008

Ek het my lelik vasgeloop met Eckhart Tolle se boek. Ek kon dit aanvanklik maar net nie lees nie. Dit het nie saak gemaak hoe hard ek probeer het nie, om een of ander rede het ek die boek keer op keer neergesit voordat ek behoorlik daarmee op dreef kon kom. As ek nie ‘n resensie moes skryf nie, het ek seker vroeg al die aftog geblaas. En dit ten spyte daarvan dat hierdie internasionale topverkoper hoog aangeslaan word deur niemand minder nie as Oprah Winfrey en Koos Kombuis!

Ek het aanvanklik gedink my weerstand is maar ‘n gevolg van my afkeer van populêre selfhulp-boeke, daardie ekkerige, selfbehepte genre van 7-punt-planne wat so sinies kapitaliseer op mense se onsekerhede. Maar dit was baie gou duidelik dat Tolle nie so maklik hiervan beskuldig kon word nie. Goed, soos die legio populêre sielkundiges en groeighoeroes is Tolle ook besig om sy fortuin te maak deur te koop te loop met ‘n boodskap van persoonlike groei en verlossing. Wat inhoud betref is daar by Tolle egter ‘n belangrike verskil. Sy boodkap is, anders as so baie van die selfhulp-literatuur, gerig téén die uitbou en fortifisering van dinge soos die selfbeeld – of die "ego", in Tolle se terminologie.

Tolle beskou ego as enige identifikasie met vorm: met materiële objekte, met ideologieë en denksisteme, of met die woorde wat ons gebruik om ons ervarings en wêreld te beskryf. Die verraderlikste identifikasie van almal is met die woorde ek, my en myne. "The word 'I' embodies the greatest error and the deepest truth, depending on how it is used" (p 27). Wanneer ons "ek" sê in die kontekste van eienaarskap, begeerte en identifikasie met die liggaam, lewe ons vanuit die perspektief van die ego, nie vanuit ‘n outentieke ervaring van die self nie. Die illusionêre sin van identiteit wat ons voortstu in ons daaglikse bestaan, laat ons blindweg lewe. Dit lewer ons, die mense om ons en selfs ons natuurlike omgewing, uit aan lyding. Die ego is vir Tolle die bloudruk vir ‘n disfunksionele lewe. Vrees, gierigheid en magsug kan almal herlei word na ‘n diepgesetelde kollektiewe delusie, ‘n verstokte staat van bewussyn wat weier om buite die fortifikasies van die ego te beweeg.

Hierdie identifikasie met vorm, en dus die mate waarin ons vasgekeer is in die modaliteit van die ego, kenmerk volgens Tolle ook tradisionele godsdienste (en daarom tref hy die onderskeid tussen godsdiens en spiritualiteit). Godsdiens is byna by uitsondering vormgodsdiens:

Some churches, sects, cults, or religious movements are basically collective egoic entities, as rigidly identified with their mental positions as the followers of any political ideology that is enclosed to any alternative interpretation of reality (p 19).

Met ander woorde, ego manifesteer nie net op die vlak van die individu nie, maar ook in die kollektiewe strukture en instellings van ons samelewing. "Here it becomes obvious," sê Tolle, "that the human ego and its collective aspect as 'us' against 'them' is even more insane than the 'me', the individual ego, although the mechanism is the same” (p 73).

In breë trekke kan ‘n mens nie anders nie as om met hom saam te stem, maar tog is sy samelewingskritiek hier en elders erg problematies. Deur kollektiewe en maatskaplike fenomene, soos oorlog, te reduseer tot ‘n analise van die ego, omseil Tolle die spesifieke historiese en politieke faktore wat daartoe bydra dat ons wêreld lyk soos dit lyk. Tolle oorspeel sy hand deur dit wat wel waardevol is in sy werk te wil verhef tot ‘n soort "one size fits all" analitiese sleutel. Is dit ‘n geval van ‘n ooridentifikasie met die vorm van ‘n spesifieke diskoers, met ander woorde, ‘n oomblik waar die ego ‘n rol begin speel in Tolle se werk? Hoe ook al, ‘n mens sluk swaar aan groot stellings soos: "We are coming to the end not only of mythologies but also of ideologies and belief systems" (p 21).

Tolle se meer "eksistensiële" kritiek op die ego-gedrewe lewe is egter oortuigend, en dit word heel leesbaar en met relevante voorbeelde aangebied. ‘n Mens wil saam met hom die vraag vra oor ons spesie:

Can they defy the gravitational pull of materialism and materiality and rise above identification with form that keeps the ego in place and condemns them to imprisonment within their own personality? (pp 5–6)

Tolle glo vas die ego gaan verdwyn – dat ‘n nuwe aarde, soos die titel van die boek aankondig, op ons wag. ‘n Nuwe aarde sonder die strukture, instellings, regerings en korporasies van ouds, blyk dit. Tolle gaan so ver as om te sê dat die boodskap wat ons in sy boek lees, soortgelyk is aan dié van wyses soos Jesus en Boeddha, maar dat die wêreld toe nog nie gereed was vir ‘n bewussynsverskuiwing weg van die ego nie. As gevolg van ‘n kwasi-evolusionêre verskuiwing is ons vandag glo op die punt waar ego óf sal verdwyn óf, indien nie, ons onsself sal vernietig. Ons mag wel onsself vernietig, maar ek is darem nie so seker van hierdie skynbaar epogale verskuiwing weg van die ego nie. Ek dink Tolle kan ons ‘n paar nuttige lewenslesse leer sonder die voorbodes en profesieë.

Ten spyte daarvan is daar heelwat te put uit hierdie boek. Dit is ten minste verfrissend om iets vanuit die populêre kultuur te lees te kry wat téén die ego stelling inneem. Op die voorblad van die jongste Fair Lady word die leser byvoorbeeld aangemoedig tot self-liefde: “Love your body!” staan daar in groot letters. Tolle bied ‘n nuttige en intelligente korrektief op hierdie soort aandrang op die belangrikheid van die self en identifikasie met die liggaam.

Ek het hierdie resensie begin deur my aanvanklike weerstand teen Tolle se boek te noem. Ook dit kan gelees word as ‘n ego-reaksie: my ooridentifikasie met my eie vooroordele oor ‘n sekere soort literatuur, dalk, wat ook maar ‘n verheffing van vorm bo inhoud en proses is.

Wat Tolle hier sê, word egter nog steeds die beste verwoord deur Paul Auster, in sy roman Mr. Vertigo:

Deep down I don’t believe it takes any special talent for a person to lift himself off the ground and hover in the air. We all have it in us – every man, woman, and child – and with enough hard work and concentration, every human being is capable of duplicating the feats I accomplished as Walt the Wonder Boy. You must learn to stop being yourself. That is where it begins and everything else follows from that. You must let yourself evaporate. (p 278)

· Desmond Painter doseer sielkude aan die Universiteit Stellenbosch.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top