Beste Aingeal
Iewers staan daar op ’n klip geskryf: "Die dood is maklik. Na ses maande raak dit ietwat meer kompleks. ’n Jaar later is dit iets romanties."
Mense sterf elke dag. Dit blyk iets heel natuurlik te wees. Die waarheid is egter dat geen mens die verloop van die dood ken nie. Hoe natuurlik ook al, mense wat iemand na aan hulle sien doodgaan het, weet van die gat wat dit in jou hart los.
Die enigste sekerheid rondom die dood is die wete dat dit vir ons almal wag. Iemand wat saam met ons nou hier lees het dalk minder as ’n uur oor, ’n ander moet nog lank, lank, lank wag.
Is die dood maklik vir die dooies, maar om te sterf moeilik vir ons almal? Waarom is ons so bang vir die dood? Jaag kommer oor die dood nie die lewe uit ons uit nie? Hoekom vrees ons die dood maar bou ons hoop daarop? Hoe kan ons vandag lewe met ’n ewige hoop vir ’n more? Hoe kan ons oorvloedig lewe in hierdie oomblik wat so gou deel word van die verlede?
Maar Aingeal, Angus deel hierdie wonderlike wysheid uit Richard Dawkins se Unweaving the Rainbow:
We are going to die, and that makes us the lucky ones. Most people are never going to die because they are never going to be born. The potential people who could have been here in my place but who will in fact never see the light of day outnumber the sand grains of Arabia. Certainly those unborn ghosts include greater poets than Keats, scientists greater than Newton. We know this because the set of possible people allowed by our DNA so massively exceeds the set of actual people. In the teeth of these stupefying odds it is you and I, in our ordinariness, that are here.
Daar is niks wat ons kan doen om die dood te verhoed nie, tog soveel wat ons kan doen om ons van die lewe te weerhou. Miskien moet ons die lewe meer met ons harte beleef. Miskien moet ons die geheim van die dood met vertroue in ons Hoër Hand aanvaar. Miskien moet ons net weer die betekenis van ons eie lewe ondersoek, hoe om ons eie lewe oorvloedig te ervaar. Miskien moet ons net ons denke herstruktureer, ons mites weer vertel in die patroon van ons Hoër Hand se mite, die mite wat vertel hoe die dood ingesluk is in oorwinning.
Mites is nie fiksie of leuens nie. Dis die vertolking van ons bestaan met ons harte. Mites maak ons lewe eg, maak ons vry, laat ons lewe. ’n Mite wat lewe in oorvloed bring is die mite dat ons Hoër Hand ’n natuurlike mens geword het, gesterf het, en weer uit die dood opgestaan het. Die natuurlike menswording van ons Hoër Hand verdryf vrees. Dis ’n mite totdat ons Hoër Hand self dit ’n feit maak in ons harte.
Aingeal, dankie vir jou moed om jou hartseer so met ons te deel.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn

