Oom ryk Kerneels kom mos maar altyd hier in en dan sit ons en wonder. Oor mense en tyd en die sterre en sommer oor alles. Hy praat, want hy kan maar praat. Want selfs die mense praat van hom as Ryk Kerneels, die man wat homself uit armoede uitgewerk het tot een van die top 100 in die land. Of so hoor ek.
Nietemin, Oom Ryk Kerneels vertel annerdag vir my oor die ou dae. Die arm dae. Die dae toe dinge nog maklik en skraps en (durf ek sê gelukkig?) die pad baie smal was. Ons praat oor die ekonomie en hoe groot manne deesdae blyk nie so groot is nie, want daar is deesdae al meer veilings en jy wonder wanneer die wolwe by jou deur gaan kom staan en huil. So jy lag nie vir hulle nie want jy is tot nou toe nog bloot gelukkig.
Oom Kerneels beduie vir my van die ou dae en ek hoor Ra Mavenster se stem eggo. Want sien: Die verskil tussen mens en mens was veel groter as vandag. Daai tyd was jy of arm of jy was ryk. Ongeag jou ras of geslag. Hy praat ver terug want hy kom pas van ’n veiling af. Bankrotveiling. Ek sien die ou voel nie lekker nie en ek gooi nog ’n dubbel Skotse water wat hy in een sluk afsluk en hy beduie vir my dat hy nie drink om te geniet nie. Die goed is nie gemaak daarvoor nie en diegene wat anders beduie probeer grênd wees. Ek drink om dronk te word. Beduie hy en ek stry nie met hom nie, ek teug bloot nog ’n sluk. Hy vra my of ek al ooit vanilla geruik het in ’n glas en ek probeer my bes verduidelik en hy beduie dat as mens vanilla wil ruik maak jy ’n bottel essense oop en jy ruik daaraan en die reuk wat jy kry as jy lank en diep ruik om die glas sal jou dalk die idee gee van vanilla en bessies en rose en ander geure.
"Gooi nog een." Hou hy die glas in my rigting.
"Weet jy hoe ons hanteer is toe ek en jou pa klogoete was? Pa het ons met ’n mandjie vis gestuur na ******** toe maar ons mog nie by die voordeur klop nie. Ons moes omstap agterdeur toe en selfs dan mog ons nie klop nie. Ons moes staan en wag tot iemand ons raaksien. En dan moes ons grond toe kyk want mens mag nie vir ’n klas mens in sy gesig kyk nie. Weet jy, ek het eendag ’n halfuur by die ryk ****** (die kleinseun was annerdag nog ’n Big Brother grootmeneer) gestaan en wag. Hulle het my gesien en my laat staan en wag. Want ons was nie hulle klas mense nie." Hy vat-vat so aan die leë glas met die reuk van Skotse waters en ek vat die glas stil by hom en gooi die gewone twee tots met een blok ys.
"Weet jy, ek het daai einste plaas vanmiddag gekoop. Ek gaan daai huis regmaak soos hy behoort te lyk. Destyds as kind waar ek so moes staan by die agterdeur en die antie my uit die venster bekyk het en net so laat staan, het het ek gedink daai venster hoort nie daar nie. Dis die eerste ding wat gaan waai, daai venster. En die deur. Ek het klaar gedink aan ’n ander deur. Wat gaan aan met jou? Is die bottel leeg?"
Ek hoor later dat hy fanaties was om die plek te koop. Die mense sê dat die miljoene wat hy vir die huis (want dis al wat oorgebly het van die eens modelplaas) betaal het, ’n mal prys is. Ek vra hom wat hy met die kasarm gaan doen want blyplekke het hy meer as genoeg en die plek is oud al is die vloere geelhout en die mure klip.
"Regmaak. Regmaak en dan kan mense kom bly daar. Sonder om by die agterdeur te kom staan en wag."
oester

