O Gids!
Hoekom kon ek nie ‘n toekomsgids met my geboorte ontvang het nie?
Een wat kon vertel van al die aanslae wat ek in my lewe gaan kry (sodat ek daarop voorbereid kon wees) en watter besluite die regtes sou wees en watter om liewer te vermy; watter beroep ek moet volg en met watter man ek moet trou.
Wie sou die boek geskryf het en hoe sou ek dit bekom het?
Hoe sou die gids se omslag gelyk het? Lig van kleur of donker?
Sou daar ‘n foto van my opgewees het? ‘n Babafoto of dié van ‘n ou mens of dalk ‘n doodskis? Of dalk net my naam? Watter hiervan sou daarop verskyn? My nooiensvan of my getroude van? Of dalk net ‘n gewone hardebandboek?
Sou dit dalk al as e-boek beskikbaar gewees het? Sou ander mense ook daarin kon lees?
Wat sou gebeur het as ek aan disleksie gely het?
Hoe sou my kinders uitgedraai het as ek hulle volgens hulle boeke grootgemaak het?
Maar sou ek ‘n gids gehad het, sou ek nou nog staande gebly het? Sou ek nie al lankal ‘n einde gemaak het om al hierdie ervarings te vermy nie?
Graag sou ek ook ‘n gids vir my gedagtes gehad het. Dalk kon ek hulle sorteer - elkeen in sy eie vakkie. Daar is so baie gedagtes en herinnerings wat daar rondhang soos klere aan gebreekte hangers.
‘n Gids om mense te verstaan, sou ook nie te versmaai gewees het nie. Hoekom mense sekere dinge aanvang, gaan my verstand te bowe. As ek met so ‘n gids net ‘n bietjie meer insig in ander mense se gedagtes kon gekry het, het ek beslis met meer takt opgetree.
Ek het wel ‘n Gids ontvang. My foto is nie daarop nie, maar dis spesiaal vir my geskryf. Ek word daarin direk aangespreek as “my kind”. Hierin word ek vertel dat al neem ek die verkeerde besluite en doen ek verkeerde dinge, my Vader my altyd sal liefhê. Amen.
Wiesie van der Poll

