Chomsky se Transformasionele Generetiewe Grammatika is goed bekend: ’n taal genereer homself.
Ek maak vanoggend so ’n draai by my buurman; daar is dit die ene bedrywigheid. Dis skoolvakansie, en sy twee bulletjies woel en werskaf met duiwe, fietse en honde. Kom hulle die slag in die huis, moet hulle ’n rekenaar deel, want Pa het dit nie so breed om vir elkeen een te kan bekostig nie.
“Ek wil die rekenaar gebruik,” skree Emile vir sy boetie. “Het jy al uitgelog?”
Haastig kom Willem die huis binnegestorm. “Wag, wag!” keer hy gou. “Moenie my uitlog nie, ek is besig om ’n fliek te download. Minifiseer dit sommer net.”
“Minifiseer?” wil ek weet.
“Ja, Oom. ’n Mens kliek net op die regterkantse boonste hoek se minusteken, dan is dit geminifiseer.”
Geminifiseer! Daar het jy dit nou, kompleet met Afrikaanse voor- en agtervoegsel, en binne Afrikaanse konteks. Moet my nou net nie vertel hierdie kinders praat Engels of geradbraakte Afrikaans nie.
Ek is seker Noam Chomsky sou sommer groot byvoegings gemaak het by sy TGG-teorie as hy dit kon hoor.
Groete
Angus


Kommentaar
(Glimlag!)
Dankie vir die gebruik van 'not 'n wiel', 'n gesegde wat ek lank laas gehoor het.
Beste dr. Edna S. Deudney-Prinsloo,
Dankie dat jy my skryfsel van jare gelede aan die vergetelheid ontruk. Intussen het tye verander. Nou het elkeen ten minste een selfoon, en daarby 'n desktop, 'n skootrekenaar, tablette, x-bokse en ek weet nie nog wat nie. Op Stellenbosse Universiteit wil Big Brother 'n Newspeak trek, maar Afrikaans sal not 'n wiel uitsterf.