Beste Jan,
Al wat ek van jou vra, is om konsekwent te wees. Ek verwys na jou brief.
Sewentiende eeuse Nederlands het aan die Suidpunt van Afrika in aanraking gekom met allerhande ander tale: Portugees, Maleis-Portugees, Khoisantale, Engels, Zulu, Xhosa, Sesotho, Frans, Duits, ens hieruit het ’n nuwe taal, Afrikaans, ontstaan. Hierdie taal het later die plek van Nederlands hier in Suid-Afrika geneem. Dit is vir jou ’n pragtige taal en jy vergelyk dit met ’n vlinder wat uit ’n papie gekruip het.
Hierdie selfde pragtige Afrikaans, kom in sy meer gevestigde vorm noodwendig in aanraking met Engels, omdat dit, naas Engels, een van die land se tale is. Noodwendig moet hier mos nou ook weer ’n nuwe taal hieruit te voorskyn kom. Volgens jou is dit egter nie ’n vlinder nie, maar noem jy dit drekafrikaans.
Die Nederlanders het Afrikaans seker ook maar dreknederlands kon noem; dit is in elk geval uitgeskel as ’n kombuistaal.
Dan beskuldig jy my daarvan dat ek nie verstaan nie. Ek verstaan glo nie die verskil tussen leenwoorde en F. Marx se “gatlekwoorde” nie. Dan steek jy my so ’n prekie af oor wat leenwoorde eintlik is. Kom ons beskou dit naderby.
Eerstens: ek weet wat leenwoorde is. Ek het jare gelede ’n taamlik yslike studie daarvan gemaak. Oor die optrede van leenwoorde het elk al vir jou gesê dat absolute sinonimie deur taal verwerp word. Jy het jou daaraan afgevee, of dit dalk nie verstaan nie, vandaar jou tirade oor die verskil tussen leenwoorde en gatlekwoorde, soos jy dit noem.
Kom ek neem een woord om vir jou te demonstreer hoe leenwoorde werk. Jam x konfyt.
Watter eerste in Afrikaans was, kan ek nie sê nie, maar die twee woorde het naas mekaar bestaan. Taalpuriste wou toe hê dat jam ’n anglisisme is en daarom uit die taal verwyder moes word. ’n Hewige polemiek het ontstaan en uiteindelik is die ontdekking gemaak dat jam en konfyt amper dieselfde betekenis het, maar dat daar tog verskille ook is. Albei woorde bestaan dus in Afrikaans, omdat hulle sinonieme is wat nie presies dieselfde betekenis het nie.
Jam was dus ook maar eers ’n “gatlekwoord” voordat dit ’n leenwoord geword het en daarom ’n Afrikaanse woord. So was byna (ek herhaal: byna) alle leenwoorde eens op ’n tyd “gatlekwoorde”. Hiervolgens moet Afrikaans mos ’n gatlektaal wees, want Engels se gat is gelek, Frans se gat is gelek, Duits se gat is gelek, Zulu se gat is gelek, Xhosa se gat is gelek, om die waarheid te sê, amper al die tale in die wêreld se gatte is gelek om Afrikaans te vorm.
Jy het mooi probeer met jou treinspoor-analoog, maar taal werk nie presies so nie. Die spoor bestaan uit staalstawe en dwarslêers, en soos dit bultop en bultaf gaan, kom niks verder by nie. Soos taal voortstu, kom nuwe woorde, nuwe uitdrukkings, klankverandering, woordbetekenisverandering, ens by. Gedurig verander dit om aan te pas by die milieu waarin dit funksioneer.
Nee, jy is verniet bekommerd dat woorde wat Engels klink my sal mislei. Ek is deeglik bewus daarvan dat Engels en Afrikaans verwante Germaanse tale is. Ek is ook deeglik bewus daarvan dat Engels ’n allemintige invloed het op Afrikaans het omdat dit tale is wat in Suid-Afrika naasmekaar gepraat word. So subtiel is die invloed dat dit soms moeilik is om dit raak te sien. Ek hou ’n spesiale boek daarvoor aan en het al ’n paar duisend opgeteken. Sal jy tee of koffie neem? Jy vat ’n groot kans. Daar is ’n klop aan die deur. Moenie die speler afsit nie. Gaan deur met jou plan. Hy het die brief opgeskeur. Ek antwoord jou brief. Hy speel kitaar. Ek is angstig om te gaan. Dis ’n stywe vraestel. Hy is goed in tale. Hy was laaste week afwesig. Hulle behoort die prys van brandstof te sny. Hy skryf elke tweede maand ’n brief. Hy is by verre die slimste. Hy is van sy kop af. Hy praat oor ons koppe. Die tennisspeler slaan ’n mooi rughandhou.
Jan, jy moet daaroor slaap, of is dit net ’n storm in ’n teekoppie?
Groete,
Angus


Kommentaar
Mensig!
Julle laat my met nuwe oë na Afrikaans kyk.
Waardeer ...
Hello Angus
Hi Angus
Angus, ek dink jou geskiedenis feite is nie reg nie. Vir die tydperk 1652 tot 1700 is Zulu [Zoeloe], Xhosa en Sesotho nie ter sprake nie. Die Europeërs en Xhosas het eers sowat eenhonderd en twintig jaar na Van Riebeeck se aankoms kontak gemaak. Voor dit was die enigste plaaslike inwoners wat 'n rol gespeel het die Khoi, wat glo "soos Kalkoense hanen gepraat het"! (sorry, dis nie my mening nie maar die van Van Riebeeck.) Die Boesmans kan buite rekening gelaat word. Die besonderhede van die nasies wat die Kaap in hierdie tyd per skip besoek het is aangeteken, maar ek dink die rol van die Engelse was toe besonder klein. Die Hollanders het nie verniet met hulle Goue Eeu gespog nie en dit is eers later dat die Engelse en toe die Britte op die oseane oorheers het. Verder kan ek ook nie juis help nie, behalwe dat ek gehoor het dat in die VOC se besittings en op hulle skepe 'n vereenvoudigde vorm van Nederlands gepraat is en dat dit 'n rol in die ontstaan van Afrikaans kon gespeel het. Miskien is daar lesers wat vir ons 'n hedendaagse beeld oor die ontstaan van Afrikaans kan gee. Ek sal nie soos Wouter maak en my storie met 'Dankie' afsluit nie , maar eerder: Asseblief!
George
Beste George
Beste Willie
Trienie, papier (virtule papier in hierdie geval) is geduldig. Jy glo tog vir seker nie wat Angus geskryf het ten opsigte van daardie magdom tale waarvan Afrikaans nou sou opneem om aan te pas nie.
Niemand vra Trienie om te glo nie. Sy kan mos self naslaan en self uitvind dat Afrikaans leenwoorde het uit Engels, Hottentots, Frans, Duits, Latyn, Sotho/Zulu/Xhosa, Portugees, Maleis-portugees, en selfs Japannees. Natuurlik is dit om aan te pas, te kommunikeer, hoedan anders?
Angus, dankie vir jou reaksie, op my reaksie. Ek is meer as tevrede met jou tweede weergawe. Sou net graag wou sien dat iemand wat onlangs nog na die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans gekyk het, ons op die hoogte van die huidige stand van sake bring. Groetnis.
George