Afrikaans is 'n lewende taal (vir Jan Rap)

  • 10

Beste Jan,

Dis hoe my Ierse onnie my geleer het om ’n Afrikaanse brief te begin; ek kon nog nooit aanpas by nuwe omstandighede en Haai, of Hi sê nie. Nie dat ek dink dis verkeerd nie, inteendeel, dit klink mooi.  As my vriende vir ’n vleisbraai by my huis opdaag, hoor ek dit dikwels. “Hi, guys”, of “Haai, julle ouens.”

So van aanpassing gepraat, jy stem dus saam dat ’n taal, en Afrikaans in besonder, gedurig besig is om te verander omdat dit by nuwe omstandighede moet aanpas. Nou wil ek by jou weet, hoe daardie veranderinge plaasvind? ’n Woordjie van ’n ander taal hier, en ’n woordjie daar, of is die aanpassing  struktureel? Wat sou jy sê is dan toelaatbaar sonder dat dit as vermenging van tale gesien word?

Die enigste doel van taal is om informasie te kan oordra, om te kan kommunikeer. ’n Mens kan alleenlik ’n taal wat dit nie goed kan doen nie, ’n swak taal noem, en vermenging van tale vind met ’n doel plaas: om te kan kommunikeer. “Ek klim op my baaisiekel en gaan vis en tjips by die Griek se keffie koop”  kommunikeer baie beter as “Ek klim op my fiets en gaan vis en aartappelskyfies by die Griek se kafee koop.” Klink vir jou (en vir my) aaklig, maar as jy Dawkins se Selfish Gene noukeurig lees, sal jy verstaan waarom dit so aaklig klink.

Van woordeskat gepraat:  my lysie wat ek gegee het, het sommer so “uit die kop” gekom; ek sal dus nie pa staan vir woorde soos  “braaf”, “brutaal” en “angstig” nie. Die vraag is egter: waar kom hulle vandaan? Uit Engels via Nederlands, of sommer direk uit Engels. Dat ons dit anders gebruik as Engels, maak nie saak nie. Wat saak maak is die vorm en waarvandaan kry Afrikaans dit? Dit is ’n kenmerk van ’n taal dat hy soms  ’n leenwoord nie presies gebruik soos die taal waarvandaan dit kom nie. Dink maar aan “affêre” en dan is dit nog vervorm ook. Hoe hierdie woord in Afrikaans gekom het, is ook ’n raaisel. Het dit van Frans via Engels gekom, of het dit direk van Frans? Dan maak jy ook ’n fout met “introducé”. Daar is so ’n Afrikaanse woord Met dieselfde probleem as “affêre”. Dan bestaan daar nog “introduksie”, “introduseer” en selfs “geïntroduseer”.

Die Kaapse episode het natuurlik nie werklik gebeur nie. Ek gebruik dit maar net om te demonstreer hoe iemand wat “suiwer Afrikaans wil besig” eers goed moet dink voor hy praat. As ek wil sê “ek moet nou skouer aan die wiel sit”, gebruik ek nie dalk ’n anglisisme nie? Eens op ’n tyd het ’n puristiese onderwyser my geleer dat jy moet sê “die hand aan die wiel lê”, of “die skouer daaronder sit”. Dis nou suiwer Afrikaans! Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is nie partikulier met wie ek omgaan nie. Dit kos nogal dink as jy wil sê wat jy wil sê op suiwer Afrikaans, en kan ’n mens praat van ’n “partikuliere onderneming”? Is dit goeie Afrikaans? Of moet ek eers in die woordeboek daarna gaan soek?

Wat evolusie betref: aanpassing word deur mutasie bewerkstellig, en indien die aanpassing werk, word niks weggegooi nie.

Wat die verwantskap van tale betref: alle tale is verwant aan mekaar al is dit ook hoe verlangs. Kelties is ’n Indo-Germaanse taal en daarom ook ’n Germaanse taal. Kyk hier.

Jy het nie gehou van my siening oor die verskil tussen my en jou siening ivm taal nie. Hoe is hierdie een?

Vir jou is Afrikaans kwesbaar omdat dit nog nie ’n sterk taal is nie, en daarom gaan dit verswelg word deur Engels en uiteindelik verdwyn.

Vir my is Afrikaans ’n sterk, gespierde taal wat hom kan aanpas by alle omstandighede, en net soos Nederlands, Spaans, Duits, Engels, Zulu, Xhosa, Grieks, Japannees, Sjinees, ens sal bly voortbestaan as ’n volwaardige taal. Kontak met ander tale sal hom net  kommunikeerbaarder maak.

So van Duits gepraat. Nou die dag is ek saam met my Duitse vriend na die Duitse klub. By ontvangs dog die dametjie toe ek is Duits en vra wat vir my wat geklink het na “Was ist Ihr Van?” Toe sy sien ek verstaan nie mooi nie vra sy “Ihr Name? Ihr Familiename?” Dit het my net aangespoor om fyn te luister hoe die Duitsers praat, en ek sê jou, dit het gewemel van Afrikaans en Engels. Moenie vir my sê hulle het nie Duits gepraat nie. Ek het opgeteken wat ek kon onthou, maar dit vir ’n ander dag.

Groete

Angus

  • 10

Kommentaar

  • Haai Angus. Ek kan in my kouse kak as iemand my groet met Haai of Hi. Jy het seker gehoor van  die seemeeu wat oor die see gevlieg het. Hy sien toe 'n Haai en skree Haai, Haai. Die Haai kyk toe op na hom en skree terug, Seemeeu, Seemeeu.

  • Hi  Angus

    Ek wil maar net sê ek is 100% in agreement met jou. Ek kop nie wat die outoppies se problem met Afrikaans is nie. Soos hulle anyway dit op skool leer is 'n complete joke. Niemand praat meer so nie en ek's nie eers so sure of hulle  ooit so gepraat het nie. Nobody kan in 'suiwer' Afrikaans 'n ding sê soos wat jy genuine meen nie. Daar is nie genoeg vocabulary in Afrikaans nie of dis sulke opgemaakte woorde. Try om 'n rugby game of enige sport in 'suiwer' Afrikaans te explain. Dis plain en simple impossible Check maar self op die sport channels. Perhaps is dit omdat 'suiwer' Afrikaans eintlik net 'n religious taal is en beste werk in die  kerke. For sure sal dit  ook nice wees as LitNet en Die Burger in gewone Afrikaans wil skryf soos hulle klaar in baie magazines maak en soos announcers en actors in tv2 se 7e Laan en Kyknet  praat. Afrikaans werk even less as dit by enige iets met emotional content kom. After all, soos jy self scheme, om die Taal te kan  praat en properly te communicate is al wat important is. As die script writers van 7e Laan kan skryf soos mense praat kan ander skrywers van boeke en poetry dit ook doen.

    Willie

  • Hello, 
     

    F Marx, (Willie) is sekerlik korrek dat op sy ergste is dit hoe dit lyk, en is dit glad nie vreemd nie, dit is nie heeltemal 'normaal', maar dit ook nie onverstaanbaar nie, natuurlik, aangesien die meeste persone tweetalig is. 

     
    Wat beteken hierdie dan? 
     
    Is al hierdie 'Engelse woorde', nou woorde wat oor tyd omvorm gaan word?  

    Baie dankie

    Wouter
  • Dis seker net reg dat ek F Marx se briefie aan Angus in Engels vertaal:

    Dagsê Angus 
    I just want to tell you dat ek stem saam met jou, een honderd persent.  I just can't fathom what the geezers se probleem met Engels is nie.  How they learn it in school is buitendien 'n totale grap.  Nobody talks like that anymore en ek is nie so seker that they ever talked like that in elk geval.  Niemand kan in 'pure' English waarlik hulle gedagtes uitdruk nie. There is just not the woordeskat so, instead, they use fabricated words. Just probeer to verduidelik rugby or any sport in 'pure' English.  Onmoontlik, finish en klaar.  Kyk but self the sportkanale.  Miskien this is because 'pure' English actually is only 'n godsdienstaal and can work only in churches.  Vir seker it will be lekker if LitNet and The Star use common English as many tydskrifte already do and like aankondigers and akteurs talk in TV2 and 7de Laan and KykNet.  Buitendien, as you yourself beweer, to talk The Language and to kommunikeer behoorlik are the only things van belang.  Indien the draaiboekskrywers of 7de Laan can write the way people talk then other writers of books en digkuns can do the same.

  • Ek weet nou nie of F Marx my been trek ... ag, verskoon tog, laat ek eers my grammatika- en woordeboek nadertrek.

    Ek weet nie of hy die draak steek nie, maar as hy dit doen, is hy nader aan die kol as wat hy dink. Die taalonderwyser/ puris sal hom natuurlik 0/10 gee, maar vir kommunikasie kry hy 100%. Dis mos wat ? mens met taal doen! Dis die begin van ? nuwe streektaal, wat na honderde jare miskien ? dialek van Afrikaans genoem sal word en na nog honderde jare dalk ? nuwe taal. Dis min of meer hoe Afrikaans sy ontstaan te danke het uit 17de eeuse Nederlands. Presies waar en hoe kan niemand met sekerheid sê nie, maar hedendaagse Afrikaans lyk nie meer soos dit gelyk het met sy ontstaan nie.

    Hedendaagse Nederlands ook nie. Volgens Jan Rap se “taalteorie” het Nederlands in Suid-Afrika verdwyn omdat Afrikaans dit oorgeneem het. Êrens verduidelik hy mos dat die Iere en die Skotte nou Engels praat, want Engels het hulle tale oorgeneem. F Marx se kommentaar is Afrikaans. As ? mens in gedagte hou dat enige lewende taal  homself genereer, of laat ek liewer sê dat die mens die ingebore vermoë het om taal te genereer, dan is die struktuur daarvan Afrikaans. ? Goeie oefening sal wees om dit oor te skryf in “suiwer Afrikaans” en te kyk of dit nog so goed kommunikeer. Onderstreep dan sommer woorde wat enige verband het met ander tale.  

  • Ek moet darem byvoeg:  geen taal duld absolute sinonimie nie, ook nie hierdie veronderstelde ontwikkelende taal nie. Baie van hierdie Engelse woorde sal dus nie vastrapplek in Afrikaans kry nie.

    Wouter, ek weet nie. Soms vervorm 'n woord, ander kere weer, sal net die uitspraak daarvan verander, maar op een of ander manier sal hy verafrikaans, of verengels of verduits.  Ek woon in Durban (nie Dubin nie) en dis vir jou 'n affêre (ook anders gebruik.) Die Duitsers in Suid-Afrika praat van Vanne i.p.v. Familiename (dis enkelvoud).
  • Hello Angus

     
    Jy het my geantwoord met hierdie frase van jou, 'Dis die begin van ? nuwe streektaal, wat na honderde jare miskien ? dialek van Afrikaans genoem sal word en na nog honderde jare dalk ? nuwe taal. Dis min of meer hoe Afrikaans sy ontstaan te danke het uit 17de eeuse Nederlands'. 
     
    Dit bied 'n metode om dalk die ontwikkeling wat Marx (Willie) uitgelig het te verduidelik en 'n daadwerklike voorbeeld van hierdie 'samesmelting' te bevestig. 
     
    Natuurlik is dit vir my onmoontlik om te bevestig of om te voorspel maar dit sou werklik opwindend gewees het in die ontwikkeling soos dit geskied vasgepen kon word en die tendense voorspel kon word en daar bevestig kon word, 'ja, dit, hierdie en die ander is besig om te gebeur en kan gevolg word'.  
     
    Baie dankie
     
    Wouter

     
  • Hello 
     

    Angus, maak 'n opmerking oor die struktuur is Afrikaans wanneer Willie se paragraaf in oorweging gebring - is ek die enigste een wat dit as vloeiend ervaar het terwyl die vergelykende 'Engelse paragraaf' nie so glad loop nie?

     
    Wat is daar aan die gang?
     
     
  • Beste Wouter

    Dis waar, Willie se paragraaf kommunikeer uitstekend en baie beter as die "Engelse" paragraaf. Afrikaans en Engels is beide Germaanse tale wat in Suid-Afrika naas mekaar funksioneer saam met nog ander inheemse tale. Om te kan kommunikeer, sal daar noodwendig heelwat woelinge op taalgebied plaasvind. Ek sien Afrikaans se pad vorentoe soos volg, (onthou net, ek is nie 'n taalkundige nie): Algemeen Beskaafde Afrikaans, soos wat Jan Rap voorstaan, sal daar altyd wees, en daaruit kom 'n hele aantal streektale wat mettertyd sal ontwikkel in dialekte van Afrikaans. Om 'n paar te noem: Kaaps, Griekwa-Afrikaans, Sesotho/Zulu/Xhosa-Afrikaans (wat ek met my huishulp en tuinier, afkomstig van Harrismith, praat), Willie se Afrikaans.
    Aan die anderkant is daar AB-Engels, wat ons kommunikasiemiddel in RSA is en moontlike streektale wat daaruit ontwikkel, en soms nie so goed kommunikeer nie, soos Jan Rap se vertaling hierbo bewys. So 'n Engelse streektaal wat wel goed kommunikeer, is Fanagalo, basies Engels met Nguni-strukture en woordeskat.
     
    Ek lees weer onlangs Herman Charles Bosman se verhale waarin oom Schalk Lourens die verteller is. As dit darem nie Afrikaans is nie, dan weet ek nie. 
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top