Ek lees in Beeld dat "... Afrikaans is [weliswaar] onder die NP-bewind bevorder, maar die taal het ’n lang geskiedenis voor die NP gehad." Onsin, Afrikaans is nooit bevorder onder NP-bewind nie, tensy 'n poging om iets aan die lewe te hou as bevorder geld.
n'D' (na 'demokrasie') is Afrikaans deur die owerheid afgejak, afgeskaal en afgelag, laasgenoemde onder andere deur van sy eie sprekers. Engels is só gestoot dat 'n groot gros Afrikaners maar boedel oorgegee het en begin opgradeer het Engels toe, stroom-af begin dryf het deur, onder andere, hulle kinders in Engelse skole te sit.
Gevolglik gaan Afrikaans agteruit; die kinders praat dit onder mekaar omdat hulle in Engelse skole is en die ouers se sintaks is moer toe omdat hulle dit by die werk en by SARS en die poskantoor praat. Hierdie verrotting begin oral manifesteer, selfs radio-omroepers en TV-kontinuïteitsaankondigers trap klei.
Daar is omtrent nie 'n gas of 'n inbeller wat nie die sinsnede " .. ek weet nou nie wat die Afrikaans daarvoor is nie ..." en dan 'n Engelse woord gebruik. En die omroeper of –ster help hom nie reg nie, nie uit hoofde van sy of haar goeie maniere nie maar weens onkunde; hy/sy weet ook nie wat die Afrikaans is nie. Hoe anders? Die amptelike taal is dan al lankal Engels en al waar Afrikaans nog gepraat word is om die etenstafel en dan is dit nog geradbraak ook.
As mens Afrikaanssprekendes uitvra hierna, dit is nou hoekom hulle so kompromitteer (eintlik kapituleer) is die standaardantwoord "skrik wakker, dis die 21ste eeu". So, Afrikaans wat teen groot weerstand gevestig en uitgebou is deur mense wat bloed gesweet het, moet nou versaak word bloot omdat die tyd aanstap? Slapgat is nie die woord nie.
Hulle beskuldig jou ook dat jy 'n sogenaamde taalbul is, iets wat, lyk dit my, in taal die ekwivalent van 'n Biblepuncher in godsdiens is. Natuurlik is die waarheid allesbehalwe; mens is ontevrede oor dit 'n kruiperigheid weerspieël wat vir ons Afrikaanssprekendes een moerse verleentheid is.
So vroeë 90's het ons een nag een ma se politieke stryery om 'n braaivleisvuur (toe was die skrif al lankal teen die muur) en ek, tot groot vermaak van die skare, vertel toe dat as so'n ding soos die nuwe SA realiseer sal dit die einde van Afrikaans as ampstaal beteken en gevolglik die einde van Afrikaans. "Nooit!" skree die blinkogiges toe en maak verdere geluide wat, sover ek kon uitmaak, neerkom op broederskap, samesyn, vriendskap, leeus wat saam met lammers wei en wit duiwe met olyftakkies aan die hemeltrans.
Nou dat 'n klomp wakkergeskrik het, is dit dalk moontlik om Afrikaans te red. Stap een sal wees om jou kind uit die Engelse skool te haal, hy herwin dalk die nasietrots van sy oupa of oupagrootjie wat daadwerklik vir vryheid geveg het. Stap 2 is om op te hou om Engels in die Afrikaanse kerke te sing. Stap 3 is om altyd eerste Afrikaans te praat; jy kan altyd oorslaan Engels toe as die klerk of amptenaar jou nie verstaan nie maar sorg dat dit Engels met 'n hewige Afrikaanse aksent is. Stap 4 is dat alle dominees namens hulle gemeentelede alle verskonings ten opsigte van sogenaamde apartheid terugtrek en hulle diepe spyt uitspreek teenoor die Afrikanervolk dat hulle dié in ellende en geweld gedompel het deur einste (verskoning vir apartheid). Stap 5 is dat alle Afrikaanssprekendes vir 'n Afrikaanssprekende party stem. As daar teenswoordig nie een bestaan waarmee hulle tevrede is nie kan hulle een stig; die punt is net dat hulle moet ophou om gods water oor gods akker te laat loop.
Jan Rap

