Afrikaans en Afrikaner

  • 6

Met Afrikaner, word hierin bedoel die vorige Kolonialis; die Kaaplander; die Voortrekker; die republikeinse Boer en vandag se Afrikaner. In teenstelling word die vermenging van Koi, San, Maleier; vandag se Bruinman, as Afrikaanses, (hulle keuse) aangesien.

Afrikaans het grootliks sy oorsprong aan die Afrikaanses te danke, en die Afrikaanses se fisiese ontstaan grootliks aan die Afrikaner te danke. Waar daar samehorigheid tussen die twee hoort te gewees het, weens die deling van dieselfde taal, het dit nooit geskied nie. Die ongeluk lê in die geskiedenis waar die verdeling tussen die twee op meester- en knegbasis geskied het, met die dienooreenkomstige geskiedkundige differensiasie tussen die twee hoe die taal aangewend word.

Die Afrikaner het geskiedkundig die middele gehad om Afrikaans te verfyn tot die taal wat dit vandag is, die Afrikaanses nie, en hulle was ongelukkig ook nie deur die Afrikaner daarin betrek nie, inteendeel, geskiedkundig doelbewus uitgesluit. Waar Afrikanergetalle voorheen by verre die meerderheid was, is die Afrikaanses se getalle vandag ’n skrander meerderheid, met die vooruitsig dat Afrikaners ’n groterwordende minderheid in die toekoms gaan wees, vergeleke met Afrikaanses, wat die taal gaan besig. Afrikaners is merendeels verstedelik; Afrikaanses merendeels plattelands. Dus dek die Afrikaans van die Afrikaanses ’n baie groter geografiese gebied in beide Suid-Afrika en Namibia, as die Afrikaans van die verstedelikte Afrikaner.

Vir my is dit ooglopend wie in die toekoms die algehele wenner in die taalstryd gaan wees indien die Afrikaner nie vining die goeie trou van die Afrikaanses kan wen nie, om sodoende in ’n posisie te kan wees om Afrikaanses te beïnvloed tot die Afrikaner se meer suiwer vorm van Afrikaans.

Dat Afrikaanses soos Michael le Cordeur, Danny Titus en ander opruiend teenoor Afrikaners voorkom, is dit van uiters belang dat Afrikaners hulle verdra met die vooruitsig vir uiteindelike samesmelting van die twee kulture in een gesamentlike kultuur (en asseblief reggesindes, moenie hierin meer as die woord “kultuur” lees nie!). Dat dit wel tans geskied onder Afrikaners wat tel, is bemoedigend vir die toekoms.

Ek het Leon Lemmer se rubriek gelees, http://praag.co.za/?p=33627 , wat ek interessant non rassisties en objektief bevind, nieteenstaande dat ek persoonlik ‘n ander siening oor die onderwerp huldig soos deur myself hierbo uiteengesit. Sy rubriek is die moeite werd om te lees.

  • 6

Kommentaar

  • Jaco

    Jy het vergeet om te noem dat 'n Afrikaner per definisie 'n christen is. Ek moes destyds uit die Afrikanerbond bedank omdat ek nie meer kon verklaar dat ek 'n belydende christen is nie.

    Ek dink natuurlik hierdie mistieke Afrikaner wat jy probeer omkring is 'n hersenskim wat nie werklik bestaan nie - behalwe in sommige mense se verbeeldings!

    Groetnis
    Thomas

  • Thomas

    Dankie vir jou respons.

    Jy het ooglopend 'n traumatiese ondervinding mbt "Afrikaner" gehad wat betreurenswaardig is. Feit bly staan dat daar 'n oorwig getalle blanke Afrikaanssprekendes is wat hulself as Afrikaner beskou, myself as gay ateïs inkluis.

    Dat die Afrikaner "per definisie" onder die ou bedeling macho heteroseksueel Christen moontlik was, is "per definisie" vandag beslis nie meer waar nie.

  • Jaco

    Terwyl ons sommer los praat oor die term Afrikaner.

    Ek beskou myself as 'n Afrikaner omdat my begrip daarvan wentel om sekere waardes van hardwerkendheid, vol inisiatief en waagmoedigheid. Die probleem is dat die hoofstroom Afrikaners die begrip gekaap het (as gevolg van hulle getalle-oorwig) en terme soos christen en blank daaraan koppel. Omdat dit tradisioneel die siening was, en omdat mense moeilik vernuwe, is dit vandag steeds die heersende paradigma in Afrikanerkringe.

    Dit bly vir my steeds 'n raaisel dat die christelike godsdiens aanspraak maak daarop dat naasteliefde 'n grondbeginsel is maar dan tree hulle totaal liefdeloos teenoor gays op. Ek het nog nooit van 'n ateïs gehoor wat gays veroordeel of verwerp nie maar godsdienstiges is heeldag besig met oordeel en vuurspoeg.

    Groetnis en hou aan skryf.
    Thomas

  • Beste Jaco,
    'n Nugtere en raak siening van die taalkwessie.
    Ek het egter 'n probleem met die sogenaamde Afrikaanses wat jy wil hê 'n "meer suiwer vorm van Afrikaans" moet aanleer. Bedoel jy met Afrikaanses, ook die Kaapssprekendes? Kaaps en Afrikaans is afsonderlike tale wat (ook evolusionêr gesien) al verder van mekaar dryf. Om nou Kaaps te probeer vervang met Afrikaans is so goed as om te sê dat Afrikaners hulle taal moet prysgee vir Engels.

    Groete,
    Angus

  • Angus
    Ek het beide jou en Jan se bydraes mbt Afrikaans met belangstelling gelees, en moet bieg dat ek nie naastenby die mas teenoor jou sal kan haal mbt die onderwerp nie.
    My benadering is eerder ideologies as taalkundig, en as sulks sal dit seker nooit haalbaar wees nie.
    Die bruinmens en blanke wat so baie in gemeen met mekaar het, veral die Afrikaanse taal en bloedverwantskap, leef steeds verby mekaar, wat te bejammer is. Die bruinmens het 'n groter seer as die swarte teenoor die blanke, juis as gevolg van hierdie verwantskap en die optredes van die blankes teenoor hulle in die verlede. (Ek sal meer gekwes voel indien my ouboet my te na sou kom, as die geval sou wees met 'n buitestander).
    Mbt Kaaps? Jy sal my beter kan inlig. My persoonlike waarneming is dat dit 'n dialek van Afrikaans is, soos wat die geval met die Namakwalands, Malmesbury, ens. dialekte is wat streekgebonde is.
    Die "patois"-woorde (nie in 'n neerhalende konteks bedoel nie) wat eie aan Kaaps, Namakwalands, ens. is, is na my mening outomaties deel van die globale Afrikaanse woordeskat. Wat ek ook agtergekom het is dat veral waar Engelse woorde gebruik word, dit nie konsekwent gebruik word nie. In 'n soortgelyke sin sal een persoon 'n Engelse woord gebruik, en 'n ander in dieselfde gemeenskap die gebruiklike Afrikaanse woord en selfs dieselfde spreker sal met 'n ander geleentheid dit omwissel.
    'n Persoonlike mening is dat Afrikaans en Kaaps, met die Engels daarin buite berekening gehou, werklik weinig van mekaar verskil. Die onlangse bewuswording dat Kaaps 'n aparte taal van Afrikaans is, word ideologies aangewakker deur persone in die bruin gemeenskap wat niks met die blanke Afrikaanssprekende te doen wil hê nie.
    Kaaps was altyd daar en sal altyd daar bly, en daar is geen begeerte of behoefte om Kaaps enigsins tot niet te wil maak nie. Sover my kennis strek, is dit nie formeel soos Afrikaans opgestel vir skool-onderrigdoeleindes nie, dus hoort Standaardafrikaans steeds daar in gebruik gehou te word; vir die wyle in elk geval. In Engeland is streeks-dialekte, soos Cockney (London), Mancurian (Manchester), Tyke (Yorkshire), Manx (Isle of Man) ens vir honderde jare in gebruik, sonder om ooit verder as dialek te gevorder het nie, en is meer onverstaanbaar vir die gemiddelde Engelsman (beide in aksent asook woordkeuses) as wat Kaaps vir die Afrikaner is. Inteendeel, hierdie dialekte het groter aanspraak op die definisie “taal” as wat Kaaps het. Wikipedia definieer dialek as “Dialects can be defined as sub-forms of languages which are, in general, mutually comprehensible".
    Indien Kaaps as formele aparte taal deur SA Statistiek erken word, dan pleks dat Afrikaans die derde mees gesproke taal in SA is, word beide afsonderlik gerelegeer tot van die mindere gesproke tale soos Ndebele as voorbeeld, wat beide vir die toekoms in SA erg gaan knou, en wat lekker in die ANC se kraal sal pas.

  • Thomas
    Dit is verblydend om te sien dat jy wel trots is op jou Afrikanerskap, en soos jy in jou respons laat deurskemer het dat Afrikaners sekere besonderse unieke positiewe eienskappe besit soos doelgerigtheid, ’n werksetiek koester, en ek sê daarby, in verhouding met hulle getalle hulle stempel ook positiefs onuitwisbaar op Suid Afrika getjap het. Een Afrikanerreus in die besonder het sy stempel op die wêreldtoneel verewig, die gevolge waarvan steeds vandag te bespeur is, en hier verwys ek na Jan Christiaan Smuts, opsteller van die VVO se voorganger (league of nations) se “charter”; vader en hoofstigter van die VVO. Dan nie gepraat van dr Chris Barnard wat die Afrikaner ook in wêreldgeskiedenis verewig het nie.
    Gen Smuts se biograaf HC Armstrong skryf soos volg oor hom: “'In his universe there appeared to be no need nor even room for God.’ Dit in ’n tyd toe die Afrikaner godsdienstig enger as selfs later in Verwoerd se tyd was. Dit word algemeen aanvaar dat Gen Smuts ’n ateïs was, en nieteenstaande het hy ’n groot aanhang onder godsdienstige Afrikaners gehad. Jan Smuts self skryf die volgende: “I have been made to appreciate the Natural Man, freeing me from many theological and conventional preconceptions due to my early very pious upbringing. It was a sort of liberation ... Sin ceased to dominate my view of life, and this was a great release as I was inclined to be severely puritanical in all things.”
    In teenstelling tot Jan Smuts, was daar Jan Hofmeyr, Afrikanerwonderseun, ’n intellektuele reus, ’n diep Christen, en weet jy wat? Die twee was hegte vriende nieteenstaande die hemelsbreë verskille wat tussen die twee se lewensbeskouinge bestaan het.
    Solank die Christen nie my lewe wil omkantel nie, leef ek gelukkig saam met hulle. In die bestek van my beroep ry ek die Vrystaat en Suidelike dele van die ou Tvl plat en het te doen merendeels met konserwatiewe Christene. Hulle ken my, weet ek is gay en ateïs en ek het nooit ’n probleem of slegte verhoudings met enige van hulle gehad nie, inteendeel, altyd gasvry deur almal ontvang en deur hulle vriendelik getrakteer.
    Ek dink dat op die ou einde gaan dit oor hoe ek mense behandel en met hulle verkeer, ongeag verskille in mekaar se lewensbeskouinge wat deurslaggewend is.
    Om die Bybel te gebruik. Twee meer verskillende mense kon jy nie teëgekom het nie as die profeet Daniel en koning Nebukadnesar. Die koning, ’n heiden en onrein in die oë van Daniel se God en Daniel ’n eunuch, in die laagste rang in die Babiloniese sosiale status. Tog lees ’n mens tussen die lyne die twee was geheg aan mekaar nieteenstaande.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top