Beste Jan Rap,
Jy het nog so mooi verduidelik hoe Engels die Britse eilande ingeneem het, en nou, ewe skielik, wil jy dit nie as “Jan Rap” se teorie aanvaar dat ’n taal ’n ander taal kan inneem nie. Dan trek ek my woorde terug. Die feit bly egter staan: Nederlands is in Suid-Afrika vervang deur Afrikaans. Veral nadat Afrikaans een van die amptelike tale geword het, het Nederlands in onbruik geraak.
In jou brief wil jy weet waar jy inkonsekwent was. Ek verduidelik (weer eens!)
Sewentiende eeuse Nederlands kom hier op die suidpunt van Afrika in aanraking met ander tale. Hieruit kom ’n nuwe Nederlandse dialek te voorskyn, met nuwe woorde, veranderende struktuur en uitspraak, ’n nuwe taalidioom. Hierdie dialek word uiteindelik ’n nuwe taal. Jy vergelyk hierdie proses met ’n pragtige vlinder wat uit ’n papie te voorskyn gekom het.
Afrikaans kom in die twintigste en een-en –twintigste eeu in aanraking met ander tale. Deur wisselwerking kom ’n nuwe, kom ons noem dit maar streektaal, tot stand, met nuwe woorde, ’n veranderende struktuur en uitspraak, ’n nuwe taalidioom, maar dit noem jy drektaal. Waarom? Dis mos inkonsekwent.
Die doel van taal is om te kommunikeer, net dit. Ja, dit het ’n letterkunde, en ja, so ’n taal kan as ’n volk se kultuurskat beskou word, maar dit word slegs gebruik om te kommunikeer. Jy kan gerus Willie se paragraaf oorskryf in die suiwer Afrikaans waarvan jy praat, en dan vergelyk om te sien watter een die beste kommunikeer. Eintlik daag ek jou uit om dit te doen, nie dat ek vir een oomblik twyfel aan jou vermoë nie.
Dan wil ek ook stadig sê: ek weet wat leenwoorde is. Ek weet dat leenwoorde ’n leemte vul en noodgedwonge gebruik word. Let veral op na die woorde “leemte” en “noodgedwonge”. ’n Leemte is ’n tekortkoming, ’n gebrek. Gebrekkige Afrikaans maak dus “noodgedwonge” gebruik van leenwoorde. As daar ’n bestaande Afrikaanse woord is, sal dit nie gebruikmaak van ’n leenwoord nie. (Nie sommer nie, maar dit gebeur). Dié twee woorde (leemte en noodgedwonge) sê vir my dat Afrikaans sukkel om te kommunikeer, en daarom maak dit van leenwoorde gebruik.
Ek het dit verduidelik deur te sê dat ’n taal nie absolute sinonimie duld nie, maar jy hou aan teem dat jy my stadig moet verduidelik wat ’n leenwoord is. En ten spyte daarvan dat ons die Afrikaanse woord “fiets” het, sing Anton Goosen lustig voort: “Jy moet baaisiekel ry, lat jy kan mooi boude kry.”
Volgens jou word “drekafrikaans” soos jy dit noem, eerder gebruik as “drekengels” omdat die Afrikaanssprekende Engels se gat lek, maar die Engelssprekende vind dit nie nodig om Afrikaans se gat te lek nie. Jy skryf dit ook toe aan traagheid by die Afrikaanssprekende. Waarom dink jy, is dit so? Is dit nie juis omdat die Afrikaanssprekende daardie leemte waarvan jy praat, aanvoel nie? Terwyl jy hieroor sit en dink, hou in gedagte dat die hoofdoel van taal is om te kommunikeer.
Ek hou van jou vergelyking met vleis besprinkel met sout en peper, maar Afrikaans is meer as dit. Die sout en peper (en ek hou van suurlemoensap daarby), het al diep in die vleis ingetrek en dit gemarineer. Nederlands is ook so deur ander tale gemarineer tot sappige Afrikaans. Nou neem ons daardie sappige Afrikaans, gooi nog noodwendige en spoggerige speserye en sappies by, en siedaar! ’n Taal waarvoor jy jou lippe sal aflek.
Groete
Angus


Kommentaar
Angus
Beste Thomas