Aardverwarming en klimaatsverandering

  • 22

Foto van Greta Thunberg: wikipedia

Daar in Davos het hulle probeer besin oor hoe om die wêreld ekonomies ’n beter plek te maak, tot voordeel van almal. Wanneer dit met die ekonomie klopdisselboom gaan, is daar mos meer kapitaal om in die mensdom te investeer en te laat floreer en te laat baai in alles wat goed en lekker is – dis mos die ideaal (mag dit hier ter plaatse so wees). In groot dele van die wêreld verskaf fossielbrandstof die energie en in die proses besoedel dit. Die beskikbare natuurlike hulpbronne kan in die soeke na energie vir nywerhede nie die pas volhou nie, dit kwyn en raak skraps.

Anders as wat die oogmerk is, daag die rumoerige klimaataktiviste met ’n ander agenda daar op. Hulle wat ’n polities-korrekte begrip – aardverwarming – bedink het, dit verander het na klimaatsverandering, baklei. Hul punt was heel bo aan die agenda, want dis die kapitaliste by Davos wat die wêreld laat verbrand, verdor of andersins laat versuip. Hulle, die kapitaliste – weens hul gierigheid – laat miljoene ton voedsel wêreldwyd daagliks as "surplus" verlore gaan terwyl  miljarde in dele van die wêreld aan hongersnood  en smartlike ellende ly.   

Ek merk dat Suid–Afrika die ekwivalent van Greta Thunberg daar gehad het, en soos wat ek kan aflei, sommer die hele Afrika verteenwoordig het. Oor Greta’tjie wat ’n volwassene, Trump nogal, minagtend aangegluur en opgevolg het met “how dare you?” wonder ek of sy as tiener haar ouers ook aangluur en “how dare you”? uitvreet. Opgemerk dat daar psigologies ’n vraagtekentjie oor haar huiwer. 

Die anderdagoggend luister ek na ons eie bekende en vermaarde entomoloog (prof Holm) oor RSG. Ek luister hy sê dat die klimaatding wel mensgemaak is, maar op ’n heel ander gebied as wat die aktiviste voorhou. Die probleem is nie soseer nywerheidsbesoedeling  en ander dinge as sulks nie, maar dat die oorsaak by die mensgetalle gesoek moet word. Die oorbevolking van die wêreld is die probleem. As ’n mens mooi na hierdie stelling kyk, dit ondersoek, sal jy weldra saamstem. Bv lewende hawe is bykans die grootste bydraer van metaangas – maar die mensdom moet eet, hoe meer mens hoe meer vleis en metaan.

Wat sou Greta’tjie hiervan sê? Sien sy skud hartlik en "in awe" hand met die Engelse "King–in–waiting", daardie ou wat ellelange gesprekke met plante voer – hopelik laat die plante hom die waarheid weet – julle is te veel, dis hoekom julle ons, die planeet se longe, in die Amasone, Afrika en Asië op vernietigende skaal uitkap en verbrand – en dit om plek te maak om kos te kry. Oeroue bome te vermoor vir roumateriaal.

Sir David Attenborough, daardie vermaarde vervaardiger van natuurprogramme, sê nou die dag op een van sy programme dat die toekoms van die wêreld geheel en al in die hande van sy jeug is, inderdaad. Ek het al hier op die Sê verwys na ’n vraag  wat een van ons ministers gestel het, “why are we paying children to have children”? Die menseregte-aktiviste van die wêreld stel dit as ’n ondebatteerbare mensereg om soveel kinders te hê as wat jy wil, of jy nou die middele het om hulle te versorg of nie –  is nie ter sprake nie.

Die klimaatsveranderingvraagstuk moet liewer vierkantig voor die deur van die VN se Menseregte Organisasie gelê word. Aktiveer eerder om maatreëls in te stel sodat daar ’n bevolkingsvermindering sal wees, soos wat die Chinese in die 1970’s (?) ingestel het en wat nou nog, nadat dit ’n dekade of wat gelede herroep is, nog steeds ’n bevolkingsvermindering aan die hand werk. Op nog ’n natuurprogram sê ’n Duitse boer dat boere oor die wêreld heen van onkruiddoders en ander chemikaleë gebruik moèt maak om plae te beheer, want hulle – die wêreld se boere, het 8miljard mense om te voed! Dis goed bekend watse skade onkruiddoders en sulke goed aan die natuur aanrig. Om voedsel te produseer is bye en ander insekte onontbeerlik vir bestuiwing.

Wat moet die mensdom eintlik doen? Verminder en beperk homself tot ’n ewewig wat die natuur kan dra, dan sal daar genoegsame natuurlike hulpbronne vir almal behoue bly, en die aarde kan sy asem terugkry.

Ek praat nie van aborsie nie, verstaan mooi, maar staan geboortebeperking voor. Volgens vooruitbeskouings gaan die wêreld teen 2040+ 10 miljard mense moet onderhou en as dinge onbeheersd voortgaan, hoe gemaak as dit 2070 raak?

(’n Dekade of wat terug, met die SARS-uitbreek, vertel ’n slim ou my die natuur probeer om van die mensdom ontslae te raak deur epidemies en penstilensies, en kyk nou weer: die Koronavirus ...)

’n Vriend van die natuur.

Raed–na–Gael

  • 22

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Greta Thunberg word met Waatlemoen-effek geassosieër, groen buite en rooi binne. Sy het by Davos op rassediskriminasie wa geklim, skynbaar omdat stemme uit Afrika, oa SA, van jong omgewingsaktiviste opgrond van velkleur onderdruk was.

  • Hans Richardt

    Lewende hawe se mis se gasse? Mense mis vanaf rioolplase se gasse, met groeiende bevolking? Al eet al die mense net groente, sal die metaangasse net so erg bly toeneem.
    Nie een van sg omgewingsaktiviste het bydrae oor hoe om bevolkingsgetalle te beperk of te verminder nie. So 'n idee sal onaanvaarbaar wees en nie-polities korrek nie!

  • Raed, die klimaats-aktiviste en so ook vele ander is vir my 'n rare lot. Wat my verbaas van die groepie is dat hulle nou al van kinderarbeid gebruik maak om hul agendas to propageer.
    Ek gaan my nie uitgee as 'n kenner van klimaatsverandering nie. Wat ek wel kan agterkom is dat die reën in paar plekke laat en of ongewoon is. Oorstromings kom ook voor. Swaarder donderstorms, ens. 'n Hele paar jaar gelede is die gat in die osoon groot nuus, toe CFC-gasse ens. Almal was daarop bedag gemaak. My beskeie mening is dat ons nie regtig weet hoe die skepping (sterre/planete/buite ruimte) werklik funksioneer nie. Die planeet waarop ons leef herstel self na brande vloede en ander rampe.
    Die enigste entiteit wat nie self herstel nie is die mens. Hy neuk voort (wou ander woord gebruik). Daar is beslis te veel van ons op die planeet. Ons staan onverskillig teenoor die natuur. Ons vervul die opdrag wat as mense aan ons gegee is om dit op te pas glad nie. In 1982/3 was daar groot ellende in Ethiopieë. Almal skenk geld aan die 33 miljoen bevolking. Nagenoeg dertig jaar later staan dieselfde land se bevolking op bykans 70 miljoen. Die land is nie veel beter af nie. Hulle sit nou net met meer mense. Hoekom pas sekere mense/groepe gesinsbeplanning toe en ander nie? Terloops, wat vir my dwars in die krop steek is individue in sekere bevolkingsgroepe word opgehemel as hulle "iets bereik" het. Ek kyk so daarna, as almal se pappies en mammies bietjie minder gebrand het van begeerte en meer gebrand het van begeerte om te werk en gesinsbeplanning toe te pas sou daar ook minder pote op die planeet gewees het.

  • Reus,
    Onthou jy in die 60's was daar 'n wetenskaplike bekommernis dat as die Suidpool aanhou ys sou opbou en vergader, die aarde in 1975 regop sou tilt. (Onthou - die aarde hang met 'n 23° hoek.)
    Nou blykbaar onlangs, breek 'n stuk gletser ys weg wat 'n gevaar vir skeepsvaart (roofvistreilers) inhou! (Huge chunk of glacier broke away and is making a run for it.)
    Groetnis.

  • Hans Richardt

    In 1967 was 4 biljoen mense, in 2020 meer dubbel. Oor 25 jaar, 18 biljoen?
    Met katte werk omgewingsbewuste uit, dat 1 katwyfie 4 kleintjies elke 3 maande kan kry en postuleer as 4 kleintjies wyfies is, hul in 6 maande 16 kleintjies kan kry en saam met oorspronklike wyfie se verdere 4, 'n hele 2 dosyn in 6 maande.
    Wonder hoe bevolkinggroei formule lyk?

  • Ek het 'n erg slim vriend. Hy is 'n afgetrede professor in Geologie. Ek en hy het gedurigdeur 'n geskerts oor die aarde die mens en wat ook al. Ek koggel hom gereeld dat hulle (wetenskaplikes) die mense mislei deur te sê die aarde is rond. Ek behoort aan die "flat earth society". So ruk terug kom hy met 'n juweel vorendag. Ek het toe oop oë in die storie ingestap. Hy het te vertelle dat dit nou tyd is dat die suid en noord pole weer posisies omruil, soos in 'n uurglas. Ek sit en kyk toe in die verte in my glas dop wat voor my staan. Al wat ek toe kon aan dink dat ons uiteindelik dan nie meer onderstebo op die aarde gaan loop nie. Hoe de moer moet ek nou weet of hy ernstig was of nie.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, wonder ek nou, as aarde plat is en pole soos damwal rondom is, sal ons afval as pole smelt?
    Die plat op die aarde manne en vroue, glo mos nie aan swaartekrag nie.
    Een ou vertel my dat "Russe" atoombom in atmosfeer laat ontplof het en toe val daar blou stukke op aarde.... AS die hemel op ons koppe val, dra ons almal blou kappies...?

  • Dit is gaaf om slimmer pelle en kennisse te hê. Dit is soos wanneer iemand my vra het jy 'n vliegtuig, karavaan, boot strônthuis of wat ook al. Ek het alles, want ek het pelle of kennisse wat het. Ek ploeg dan met hul kallers. Die betrokke pel en 'n kennis van my was verlede jaar Rusland toe. Met die Siberian Express gaan ry. Die kennis vertel vir my op 'n stadium is hulle by 'n varswater meer. Svetlana die toergids het naderhand vir my pel aan die woord gestel om die ontstaan omvang en alles gapaardgaande oor die meer te vertel. Pel van my het toe bietjie meer in diepte kennis as arme Svetlana. Sy het dit glo in goeie gees aanvaar.

  • Diegene wat beweer die aarde is plat, het dit heeltemal reg: die aarde is plat. Die argitek wat my huisplan opgestel het, het nie 'n ronde aarde in sy berekeninge gehad nie. Ry deur die Vrystaat en jy sal sien die aarde is plat. Ouens wat Sondae in die kerk na die predikant sit en luister moet glo die aarde is plat, anders brand hulle. Dus: die aarde is plat.
    Diegene wat beweer die aarde is rond het dit heeltemal reg, want dit is al oor en oor bewys deur satelliete, ruimtereise, foto's ens., ens.
    Dat magnetiese noord en suid omruil, is 'n feit soos 'n koei. Dit het al 183 keer gebeur in die aarde se bestaan. Geografiese noord en suid bly natuurlik so; dis net jou kompasnaald wat oor sowat 7000 jaar andersom sal sit.

  • Hans Richardt

    Angus, ek wil net weet, as aarde op pilare staan, waarop staan hierdie pilare?
    Ek het as kleuter-skolier(5 jaar oud), met my oumas uit ABO gestry, juis oor pilare ding.
    Ander dag diè ou wat my van "blou kêppies" vertel het, gevra en toe was hy aggressief. My oumas het my ore getrek... Die Kêppies ou het gesê ek moet nie godsdiens praat nie.
    Destyds, in sewentigs, het ons daar op PU vir CHO met Dopperkunde(Interfakultêre wysbegeerte) gestoei om graad te kry..., maar Stoker en al die wyse manne het as erg konserwatiewes(Calvipol), nooit na hierdie verskynsel verwys nie.

  • Hans Richardt

    Die 1 ding wat plat aarde mense glo, is dat son, maan en sterre rondom aarde draai. Dan moet dit mos oral gelyktydig dag en nag wees? Dan moet bv Australië nie nuwejaar voor ons in SA te vier nie... Dan sal my familie in VSA nie kla dat ek hul nagrus versteur, met boodskap, 14:00 in middag in SA.

  • Ai die ouens wat glo die aarde is plat gegrond op sogenaamde Bybeluitleg, se koppe is plat. Die Bybel sê nêrens die aarde is plat nie. Die sogenaamde tekste waarop hul hulself beroep is beeldspraak en kan nie letterlik vertolk word nie.

    Dit is maar dieselfde as iemand met jou gekskeer en dan sê,"ag ek trek maar net jou been". Net so min gaan jy 'brand' in die 'hel', wat wel gaan gebeur dat jy in 'n ewigdurende depressie en verwyt gaan verval as jy in die plek beland,waar jou Skepper afwesig is, net omdat jy te hardkoppig was, net soos Faro om die boodskap van die Bybel te verstaan

  • Hans, ek was darem al so 14, toe ek die dominee met huisbesoek oor dieselfde pilareprobleem gevra het. Hy het net gesê dit staan op God se fondament, en ek behoort buitendien nie sulke dom vrae te vra nie. Agterna he my ma met my geraas en my pa het lekker gelag. Hy het gesê ek sal nog ver in die lewe kom. Op Potch het ons godsdiensrusies nie Stokergehalte bereik nie. Die Doppers wou ons net altyd opvoeter omdat ons Saterdagaande dans en Sondae Gesange in die kerk sing.

  • Hans Richardt

    Angus, daar in Dopper-hemel kon jy dans, solank jy dit nie geniet het nie. Kon ook nie regop staan om seks te hê nie, want dit kon dalk gelyk het asof jy dans...en aardverwarming doen.

  • Solank jy net getrou het voor jy brand van begeerte. Deesdae brand die ouens sommer vir die lekkerte.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, deesdae begin dit as hul op toilet sit en voete raak grond.
    In ons dae het die koue sweet uitgeslaan en bewerasie met droë mond, jou beetgepak as jy gesoen het... alles was ook sommer verby as klere afgekom het....
    Deesdae is hul op 15 al ma en op 30 plus ouma en oupa.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, dis die brand vir sommernet die lekkerte, wat nou aardverwarming tot gevolg het. Die politieke korrektheid het geen waardestelsel nie.
    In die hippie-era was die tema - maak liefde, nie oorlog nie. Nou is die brand met begeerte, net om jou geslag te bevestig en te bewys...iets wat kwansuis nie meer opsigtelik waarneembaar is nie.

  • Die storie van "Make love not war" is verkeerd vertaal/verstaan. In Afrikaans is dit " Steek maar moenie doodsteek nie" ek weet nie wat die ander se verskoning is nie. Blykbaar is België een van die lande wat vergelykenderwys die meeste metaan gas produseer. As ons ons ore aan die Vegans/boom en hasievryers en ook aardverwarmings dissipels moet uitleen sien ek swarigheid. Dan sal daar ook 'n paar groentes moet waai soos oa uie, kool en sousbone. Kan nie nou aan metaanproduserende groente dink nie.

  • Daar was klimaatveranderinge voordat die mens op die aarde onstaan het. Een ding moet ons as mense, wat dink ons geregtig om hier te wees omdat ons mense is, goed verstaan: moeder aarde kan heel goed sonder ons klaar kom en het ook.

    Planeet aarde is nie afhanklik van ons om voort te bestaan nie. Eintlik as dit binne die vermoë van moeder aarde was, het sy die hele mensdom al ’n skop onder die agterent gegee en in die ruimte laat verdwyn.

    “Opgeruimd staat netjes”.

  • Greta is nou ’n handelsmerk. Wat beteken sy maak nou ’n kakhuis vol geld terwyl ek hier tik. Sy gee nie een sent om seker te maak die V&A Waterfront is nie binnekort onner water nie. Media24 se kantore is op dieselle seevlak. Media24, wat Greta se kak herhaal, het nog nie hul kantore ontruim nie. Wat beteken: hulle lieg. Of hulle het moer goeie versekering. Wat gaan uitbetaal as die aarde verwarm (skuus, klimaat verander het) of as die maan rooi opkom en hekse invlieg en ons almal besmet met een of ander pes? Media24 het nog nie planne om hul kantore te ontruim (hul kantore in Kaapstad lê letterlik ONDER die HUIDIGE seevlak) nie, so ek vermoed hulle glo nie die stories wat hulle as waarheid uitbasuin nie. Iewers lieg iemand. En iewers maak mense ’n kakhuis vol geld uit vrees. Bummer, ek het dit nie uitgedink nie.

  • Uit die wetenskap weet ons dat kontinente gedurig aan die beweeg is.Eers is daar gepraat van 'continental drift' Wegener’s teorie. Maar omdat dit nie die meganisme wat dit veroorsaak het insluit het dit verskuif na 'tectonic activity'.wat in National Geographic soos volg omskryf word.
    'Today, we know that the continents rest on massive slabs of rock called tectonic plates. The plates are always moving and interacting in a process called plate tectonics.

    The continents are still moving today. Some of the most dynamic sites of tectonic activity are seafloor spreading zones and giant rift valleys.

    In the process of seafloor spreading, molten rock rises from within the Earth and adds new seafloor (oceanic crust) to the edges of the old. Seafloor spreading is most dynamic along giant underwater mountain ranges known as mid-ocean ridges. As the seafloor grows wider, the continents on opposite sides of the ridge move away from each other. The North American and Eurasian tectonic plates, for example, are separated by the Mid-Atlantic Ridge. The two continents are moving away from each other at the rate of about 2.5 centimeters (1 inch) per year.

    Rift valleys are sites where a continental landmass is ripping itself apart. Africa, for example, will eventually split along the Great Rift Valley system. What is now a single continent will emerge as two—one on the African plate and the other on the smaller Somali plate. The new Somali continent will be mostly oceanic, with the Horn of Africa and Madagascar its largest landmasses.

    The processes of seafloor spreading, rift valley formation, and subduction (where heavier tectonic plates sink beneath lighter ones) were not well-established until the 1960s. These processes were the main geologic forces behind what Wegener recognized as continental drift."

    Dit is mi seker die beste verklaring van klimaatsverandering oor 'n lang tydperk
    want kontinente se posisie verander op die planeet wat ook die klimaat moet beinvloed.Dit beteken ook dat wat oorspronklik op die bodem van oseane was ook
    oor 'n lang tydperk gaan verdwyn en dit sluit alle skeepswrakke in.

  • Hans Richardt

    Die COVID-19 virus is hier om te bly. Influenza is met mensdom en al bekend van Plato se tyd. Ons het Corona-virusse in ons, dis net wanneer hul die mens as gasheer aanval, dat politici dit met politieke korrektheid probeer beperk. In Swede was daar nie Grendelstaat nie, maar hul lykshuise is oorlaai, want begrafnisse is gestaak. Greta Thunberg moes liewer oor mensdom se aanwas bekommer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top