
Iemand sê my Geoffrey Hyland het ook Mark Elderkin afgerig in sy Shakespeare-oudisiestuk in ongeveer 2001 by die Universiteit van Kaapstad. Dit was een van die onvergeetlikste oudisies tot nog toe. ’n Klompie jong manne op die verhoog het elke bietjie van die taal so natuurlik aangewend, dat die gehoor Shakespeare inderdaad kon verstaan. En saam met die taal was elke oomblik duidelik en natuurlik, met “business” wat eie was aan ’n klomp Engelse jongmense wat staan en gekskeer en wysheidjies uitruil.
Talle van hierdie studente is deesdae gerekende akteurs in die industrie – in Suid-Afrika, maar ook internasionaal.
En Hyland en Mark Elderkin maak alweer “magic”.
Elderkin het tans die leisels in sy non-chalante linkerhand van die Maynardville-aanbieding van Shakespeare se A midsummer night's dream. En as jy dink jy gaan sukkel om Shakespeare te verstaan, maak jy ’n fout. Die akteurs en die regisseur doen wat Hyland al telkemale reggekry het. Hulle maak die teks, wat op die oog af vir die ongeoefende oog moeilik lees, meer as verstaanbaar; hulle skep ’n pretproduksie wat jy nie wil mis nie.
Dis moeilik om elemente uit te sonder. Die ontwerp, beligting, selfs die verering van die legendariese skrywer deur sy standbeeld in die Maynardville-tuin, is heerlik. Van sepieakteurs tot swaargewigte soos Elderkin verbaas, verras en vertolk Shakespeare, sonder uitsondering uitmuntend.
Die vervaardigers, VR Theatrical, se Jaco van Rensburg en Wessel Odendaal byt groot af, maar maak ’n reusesukses van vanjaar se Maynardville deur ’n feestelike aanbieding van verskillende genres saam met teater aan te bied. Gaan vroeg, en sit aan by een van die klompie tafels. Daar is stalletjies met produkte wat die mond laat water.
Dis ’n mondwateraand.

