Woodstock se vervaldatum

  • 0

“Kom Paul, maak klaar. Ons gaan laat wees. Vir wat karring jy alewig daar tussen die blomme rond?”

“Maar ek ís mos klaar. Waar gaat ons nou weer heen?” Ek weet goed genoeg, maar het gehoop dat sy sou vergeet het. Die opening van ’n nuwe winkelkompleks in Kaapstad in die middel van die week is glad nie my idee van ’n aangename uitstappie nie.

“Jong, jy het alweer nie geluister nie,” berispe sy my ongeduldig deur die kamervenster. “Marissa se opening van haar ontwerperswinkel. Kom kom kom, ons moet haar ondersteun.” En dan die onmisbare byvoegsel: “Jy is nog glad nie klaar nie. Oor my dooie liggaam gaan jy met daardie … daardie aaklige T-shirt.”

Argumenteer gaan nie help nie. Ek pluk iets met ’n kraag oor my kop, maar hou die jeans aan.

Terwyl ek die GPS uit die paneelkassie haal, pluk ek my hempspunt so laag as moontlik ondertoe, maar niks ontglip Bianca se kritiese blik nie. “Hene tog Paul, jy kon tog ’n skoon broek aangetrek het. Moet jy alewig soos ’n trêns lyk?”

Ek ignoreer haar en vra half-ongeduldig: “Waar is die plek? Het jy die koördinate?”

“Moenie worrie oor daai ding nie. Ek ken die pad. Dis in Woodstock.”

“Woodstock? Jy meen soos in … in die American Arts Festival?” Dan half sarkasties: “En jy kla oor T-shirts en vuil jeans?”

“Ag kom by, toe! Wat het Amerika in elk geval met Woodstock te doen?”

Ek kan nie glo dat sy dit vra nie en verduidelik: “Die Amerikaners het in die laat sestigs, toe Viëtnam nog op almal se lippe was, ’n musiekfees, ’n Peace-fees, gereël wat bekend gestaan het as Woodstock. Daar was glo meer as halfmiljoen mense en hulle het vir drie dae in die reën musiek gemaak en fees gehou. Daar word beweer dat …”

Maar sy onderbreek my skerp. “Ja, toemaar, ek weet. Wat ek daarvan gehoor het, is dat dit net ’n gedrink en gedaggarokery was. Die Flower Children-spul. Ga! Ek stel nie belang nie.”

“Maar jy verstaan nie, dit was ’n baie betekenisvolle gebeurtenis. Mens kan sê dit was die bewusmaking van die aktiewe stryd van die individu teen oorlog.”

“O my bliksem, hier gaan ons alweer. Los maar die groot woorde en filosofieë vir dié wat kan.”

Ek besluit om nie daarop te reageer nie. Argumente in die motor het ’n instelling by ons geword en ek wil dit ten alle koste probeer vermy.

Maar sy is glad nie klaar nie. “En dis hoe ek jou destyds gekry het toe Marie jou uitgeskop het. Sy moes gesien het dat sy niks aan jou beheptheid met die verlede, of sal ek sê jou verliefdheid met die verlede, kon doen nie. Verbeel jou: Brylcreem in die hare, staalkam in die kous en blommetjies in jou hemp. Haha.”

Ek beteuel my om nie oor te leun en haar aan die strot te gryp nie. In stede daarvan maak ek my keel oordadig skoon en haal ’n paar reëls uit Joni Mitchell se bekende liedjie aan:

By the time we got to Woodstock
We were half a million strong
And everywhere there was song and celebration.

“Hmm, nogal ’n interesante gebou,” merk ek droog op terwyl ek versigtig parkeer. Ek kry geen reaksie nie en vermy oogkontak met die krom, bebaarde kar-oppasser terwyl ek elke moontlike waardevolle item onder die sitplek inprop.

Die gebou is op ’n straathoek geleë met oop erwe reg rondom. Dit skep die indruk van ooptes en herinner my aan foto’s wat ek jare gelede van die Woodstock-fees se verhoog gesien het. Dit is slegs twee verdiepings hoog en in ’n U-vorm gebou met ’n oop area in die middel waar daar vroeg reeds alte lekker gekuier word. Die boonste vlak beslaan sowat dertig winkeltjies wat elk sy eie tema het: enigiets van verbleikte Victoriaanse glasware en ou posbusse tot geraamde buskaartjies is uitgestal. Toe ek dit waag om te noem dat die pryse buitensporig is, kry ek ’n kil staar van Bianca, gepaard met ’n mompeling wat iets te doen het met “sekere mense wat nie opregte kuns waardeer nie”.

Marissa se uitstalling was omtrent al hoogtepunt van die spul. Sy verwerk vrugbare grondmos in ’n bolvorm en plant dan duursame plante daarin. Dan word dit van die plafon of sommer teen ’n muur gehang. Sy noem dit Kokadama of so iets en dit lyk of dit nogal byval by die Kaapse yuppies vind.

“Dis mooi, Marissa, sterkte hoor,” verskoon ek myself na ’n rukkie. Ek pluk liggies aan Bianca se arm terwyl sy aan ’n glasie wyn teug. “Ek gaan ondertoe, dan kry ek jou later in die kuier-area.” Haar lyftaal beaam dat sy eintlik verlig is en ek maak my uit die voete.

Die onderste winkels is veel ruimer, met die klem meer op skeppende kunste. Surrealistiese skilderye en beeldhouwerk kompeteer oral teen growwe, aanmekaargesweiste kontrepsies.
’n Reeks van vier kleinerige swart rame teen ’n muur vang my oog. Toe ek naderstaan, skuifel ’n jong verkoopsdametjie afwagtend in my rigting. Al vier werke is pikswart blommerangskikkings teen ’n wit agtergrond. Daar is ’n roos, ’n angelier, ’n groepie leeubekkies en ’n paar papawers. Toe ek nader beweeg, merk ek tot my ontsteltenis dat die blomme nie geteken is nie, maar met skerp dorings uitgelê is. Ek tree half agteruit en skud my kop.

“Cool, is dit nie?” wil die meisie gretig weet.

Ek knik, vee met my vingerpunte oor my oë, so asof ek die visie wil uitvee, en loop in die rigting van die oop area. Die kontras van die swart doringblomme teenoor die sagte Woodstock-beelde nog vars in my geheue is te veel vir my.

Ek koop ’n bottel water en vind ’n klein bankie half verskuild agter ’n groteske nagemaakte potplant. Terwyl ek stadig daaraan begin sluk, leun ek agteroor en neem die moderne Woodstock in.

Die plek is gepak en die dop vloei vrylik. Nou en dan beweeg kelners tussen die mense deur met versnaperinkies. Die meeste daarvan beland op die grond soos daar gestamp en gestoot word. In die hoek oorkant my is ’n tydelike verhogie opgestel waar musiek probeer kompeteer teen die malende stemme.

Verbeel ek my of is dit Crosby Stills en Nash wat nou die verhoog betree en begin speel? Maar wat is dit met die bleskoppe en wit hemde? En om vadersnaam, hoekom speel hulle nie iets wat almal ken nie? Iets soos “Aquarius” of selfs Scott McKenzie se “San Francisco, wear some flowers in your hair” nie?

Ek sit my bier versigtig tussen die plasse reënwater neer, staan op en rek my nek om ’n blik van my tent oor die duisende feesgangers te eien. Maar al wat ek sien, is netjies-geklede mense wat in vierkantige boksies praat.

Ek gaan sit stadig en hou vir Janis Joplin dop waar sy hier vlak voor my verby beweeg. Ek wonder vir ’n oomblik hoe sy sonder haar braamlose ? brilletjies haar weg tussen die massas vind. Ek mik in haar rigting om te vra waarom sy haar pragtige lang hare gesny het en of sy nog so gaande is oor Bobby McGee. Maar sy beweeg weg toe sy my intensies sien en verdwyn vinnig tussen die ander.

Ek vang Joan Baez se profiel uit die hoek van my oog waar sy met Joe Cocker gesels.
Ek spring op en loop met uitgestrekte hand na haar toe. “Joan? Joan Baez, is dit werklik jy? Wat ’n aangename verrassing.”

“Jammer ou kêrel, jy is seker confused. Dit is Carol, Carol Smit,” antwoord Joe namens haar, maar dit skrik my nie af nie.

“Ag Joe, kom nou man, ek weet mos hoe nederig julle kunstenaars is. Ek soek nie handtekeninge nie, wou net weet of … of sy vir ons “The night they drove ol’ Dixie down”sal sing. ‘Seblief man.” Ek skrik half toe hy my aan die arm gryp en agter die potplant indruk

“Luister hier, outoppie,” sis hy in my gesig, “ek is nie jou Joe nie. Ek weet nie of jy dronk is of wat nie, maar ek dink jy moet jou gat hier wegkry. Voor hy geskop gaan word.” Dan boor hy sy naels in my boarm en stamp my teen die muur voor hy omdraai en die meisie weglei.

Die onderonsie moes sekerlik belangstelling gelok het, want toe ek opkyk, staar ’n dosyn of wat skoongeskeerde gesigte my aan. Ek skud my kop om seker te maak dat ek nie droom nie.

Dan verskyn Bianca langs my, haar gesig bloedrooi van woede. “Sien jy, nes ek gedink het!” skree sy sodat almal kan hoor “Mens kan jou nêrens neem nie dan stel jy almal in die verleentheid.” Ek wou nog vra wie die “almal” nou eintlik is, maar sy is reeds besig om my hardhandig buitentoe te pluk.

Toe ek die sleutel in die motordeur steek, kyk ek terug in die rigting van die gebou. Dit lyk nou skielik net soos ’n … ’n gebou. In die middel van Woodstock, voorstad van Kaapstad.
Ek staan ’n oomblik stil en ignoreer my vrou se stilstuipe van die oorkant af.

Dan verskyn die karwag asof uit die niet langs my. Ek is nou warm onder die kraag en nie lus vir nog nonsens nie so ek maak of ek hom nie sien nie. Dit lyk nie of dit hom pla nie, want hy loop stadig om die motor en gaan langs Bianca staan. Sy gluur hom op en af en kyk dan anderpad.

“Naand my bra, ek sien julle is van Stellenbosch. Jy weet seker van jou liksens?”

“Nee ek weet niks. Wat van my lisensie?” wil ek geïrriteerd weet.

Hy tree vorentoe en tik met ’n kort, vuil vinger teen die skyfie. “Dit het verval, dis wat dit is. Die liksens het al twee maande terug verval.”

Ek en Bianca kyk vir mekaar. Ons weet albei dat dit wel so is en ons weet ook die rede daarvoor, maar kan dit nie eintlik aan mekaar verduidelik nie.
“Dankie, vriend, dat jy my herinner het,” antwoord ek terwyl ek in my beursie krap vir ’n noot. Ek kyk Bianca stip in die oë terwyl ek byvoeg: “Soos die lewe maar is, het alles tog maar ’n vervaldatum of hoe?”

Die man beaam dit met die knik van sy kop en tree respekvol agteruit.

Voor ek in die motor klim, draai ek na hom en wys na die gebou toe. “Nogal ’n interesante gebou,” herhaal ek my stelling van vroeër.

Hy bly ’n oomblik stil en stap dan nader.

“Ja my bra, dit is nogal. Herinner dit mens nie bietjie aan die verhoog van die Woodstock musical festival van die sixties nie?”

Ek draai verward om en my oë flits oor sy postuur. Die katoenkepsie op sy deurmekaar lang hare, die ingesonke oë wat deurdringend tussen die welige baard tuur, sy helderkleurige blommetjieshemp, verwelkte jeans en oop sandale.

“Ja, maar die blomme … Waar is die blomme?” Ek skrik vir die treurigheid in my stem.

Hy draai sy kop half skuins en loer oor die kar se dak in Bianca se rigting. Dan leun hy oor in my rigting en met sy sweetasem in my gesig fluister hy saggies: “Ook verval, my bra, die blomme het ook verval. Gone to graveyards everyone.” Dan kyk hy oplaas na ons albei en met die wegstap kan ek hom duidelik hoor mompel. “We’ve got to get ourselves back to the garden!”

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top