Die inwoners van Platville is net bekend met die begrippe vorentoe en agtertoe en links en regs, maar hulle het nie die vaagste idee van wat op en af beteken nie. Sien, hulle wêreld is plat. Hoogte en diepte bestaan nie. Net vorentoe en agtertoe, en links en regs, en kombinasies hiervan. Dis al. Amper soos ’n oneindige groot vel papier – net baie dunner. Die dikte van Platville is presies nul.
Die inwoners van Platville is allerhande interessante kreature, met onreëlmatige, plat figure. Maar almal van hulle het net een ding gemeen: Hulle is plat. Elkeen het ’n hoogte van presies nul. Hulle kan net in die vlak van Platville beweeg.
Op die rand van elke inwoner het hy of sy twee oë. As Platlanders na mekaar kyk, sien hulle mekaar slegs as lynstukke. Daar is geen manier waarop die een die ander se vorm met een oogopslag kan identifiseer nie. Die aanvaarde gebruik in Platville is om rondom die ander persoon te stap en hom of haar van alkante te bekyk voordat jy kan besluit wie dit is.
Al die Platlanders se liggame is met natuurlike vel bedek, maar slegs op hul buite-omtrek. (Hulle benodig slegs vel waar hul lewende liggaam in kontak kom met die buitewêreld, omdat bo en onder in Platville nie bestaan nie.) Verder beskik die huise in Platville nie oor dakke nie, omdat dit nie nodig is nie. (Waarvandaan sou reën byvoorbeeld val of hoe gaan iemand oor ’n muur klim?) Die mure het geen hoogte nie. As die deur toe is en die gordyne toegetrek is, is die inwoners geheel en al privaat.
In Platville is dit ’n vreeslike skande om hol van binne te wees. Een gespierde Platlander, Michael, is egter hol van binne. Gelukkig weet die ander inwoners dit nie, want hulle kan dit nie sien nie. Tensy hulle hom oopsny, is daar geen eenvoudige manier waarop hulle dit te wete kan kom nie. Michael het besluit dat hy dit so nooit as te nimmer vir iemand sal vertel nie.
Eendag kom daar ’n vreemdeling, driedimensioneel geskape, by Platville aan. Eers hang hy bo die vlak van Platville in die lug om te kyk wat aangaan. Die Platlanders skarrel rond en doen hul plat besigheid.
Die vreemdeling luister na hul plat gesprekke. “Hallo, kan enigiemand my dalk help?”
Michael is totaal verbaas, maar ook half vies toe hy die vreemde driedimensionele uitlander gewaar. Is dit net hy of kan al die platlanders die uitlander sien?
“Hallo!” roep die vreemdeling weer.
Jennifer gaan staan stil en kyk rondom haar. Geen siel in sig nie. “Eienaardig!” dink sy. “Ek is seker ek het iemand hoor roep.”
’n Klomp Platlanders kom nader gestap.
“Wie roep so?” vra Jennifer. “Kan julle dit ook hoor?”
Jennifer se hele plat lyfie bewe van skrik.
“Iets of iemand roep ‘hallo’!”
“Wat?” wil Michael weet.
Skielik verstar almal en staar na iets wat slegs vir Michael sigbaar is.
Michael kom tot verhaal en vra: “Wat het ons hier? Het ’n ronde uitlander die vlak van Platville binnegedring?”
Hy skuifel versigtig nader. Hy steek ’n bewende hand uit na die uitlander en voel versigtig aan sy oppervlak.
Die uitlander se naam is Roberto en hy begin aan die inwoners van Platville verduidelik dat hy hulle leefwêreld vanuit ’n totaal vreemde hoek – van bo af – kan bekyk.
“Waar kom jy vandaan?” vra Michael.
Ek kom vanaf Mellville. “Ek dink … ek dink ek was … op. Of dalk … af. Ek weet nie presies hoe ek hier by julle beland het nie.”
“Waar is op? En af?” vra Michael. Hy weet dat niemand hierdie storie gaan glo nie.
Hier op Platville ken hulle net links of regs en vorentoe en agtertoe.
’n Spesiale ondersoekspan van die PPD (Platlandse Polisiediens) het spoedig van die vreemde besoeker se aankoms te hore gekom. ’n Verslag oor die aangeleentheid is uitgereik wat die vraagstuk rondom die besoeker se invalshoek probeer verduidelik. Het Roberto nou van onder of van bo gekom?
Hul bevinding is dat daar nie sonder twyfel vasgestel kan word of iets buitengewoons gebeur het nie. Roberto is met oop, maar plat arms deur die Platville-gemeenskap verwelkom, al kon net Michael hom fisies sien.
***
Verbeel jou nou dat daar ’n ander, eienaardige wêreld bestaan wat slegs tweedimensioneel is. Roberto het maar gesukkel om aan te pas by hierdie plat gemeenskap wat nie hoogte of diepte ken nie. Een ding was seker: Roberto sou altyd op die Platlanders neersien.

