WF 2012: Infernus

  • 0

Ek haal skerp asem soos my mikker op die Grotesk fokus. Sweet loop oor my hoof en drup op die geweer. Drup-drup. Ek asem uit. En weer in. My hande bewe en my vinger vryf oor die sneller. “Rustig!” fluister ’n stem in my kop. Die wêreld om my raak stil soos ek hier op die dak lê. Ek voel die krag van die Dragunov SVD wat styf teen my skouer druk. Nou is dit jou kans. Ek trek die sneller en die geweer skiet hard teen my skouer.

Ek volg die roete van die koeël soos dit rakelings verby die gedrog trek. Ek vloek hardop. Te vroeg! My geduld het my in die steek gelaat en nou gaan daar pynlike gevolge wees.

Ek spring op, gryp my sak en spring van die dak af. Ek land hard op die gebou onder my en uit die hoek van my oog sien ek hoe die Grotesk van gebou tot gebou spring. Ten minste hardloop hy waarheen ons wil hê hy moet. Reguit na sy skip toe.

Meteens verskyn ’n swart helikopter en die koeëls reën op die Grotesk se dik vel neer. Dit skree van pyn en storm dwarsdeur die gebou totdat dit aan die ander kant uitkom en met ’n groot sprong tot op die volgende gebou spring.

Dan, voor ek my kon kry, land die ding reg onder my. Ek skraap my moed bymekaar, gryp my swaard en spring voor dit in. Die Grotesk swaai sy arms en mis my kop net-net. Ek duik weg voordat dit verder kan reageer. Dit gil en hernuwe sy aanval. Hierdie keer is ek reg. Ek koes onderdeur sy arms en druk my swaard diep in sy maag. Die Grotesk skree van die pyn en stamp my met een swaai van sy arms weg. Deurdrenk van woede storm dit na my. Ek voel-voel na my swaard, maar kry in die proses net ’n hand vol gruis. Ek maak my oë toe en wag. Wag vir die dood om te kom. Dan hoor ek ’n slag. Ek maak my oë stadig oop en kyk verbaas na die dooie Grotesk wat langs my lê. En dan ’n gegiggel.

“Dit was amper, Anton,” lag Boet terwyl hy sy haelgeweer in sy gordel druk.

Verligting tref my soos ’n golf. Ek haal diep asem en staan op.

“Jy is ook maar net-net betyds,” sê ek toe Boet klaar gegiggel het.

“Nog ’n sekonde, dan was dit klaarpraat met my!”

Die swart helikopter maak sy verskyning en ek en Boet klim in. Die manne is vol komentaar oor my poging om die Grotesk te vang. Ek lag maar saam, wetend dat nie een van hulle veel beter sou kon doen nie. Die Grotesk is ’n formidabele opponent, asook een wat nie maklik doodgaan nie.

Hulle het die eerste keer 27 jaar gelede hier aangekom. Hulle skepe het soos reën op ons neergedaal en ons weermag met gemak uitgewis. Hulle het ons stede vewoes en ons mense gevange geneem. Hulle het alles gehad, maar het een ding misgekyk. ’n Virus. Een wat die mens al jare mee sukkel. Vigs. Dit het die Grotesk aangetas en hulle het soos vlieë omgekom. Selfs hier in Suid-Afrika. Dit het hulle lank genoeg verlam en ons weermag kon uiteindelik die oorhand kry. Die meeste Groteske het gesterf, maar daar is steeds van hulle wat oorbly en die stede en dorpe terroriseer. Ons het dit ons taak gemaak om hulle finaal uit te wis. Ons is ’n groep soldate wat mekaar een aand in ’n loopgraaf ontmoet het. Van toe af het ons saam geveg en besluit om na die oorlog die res van die Groteske te jag. Ons is bekend as Infernus. Die Hel. ’n Gepaste naam.

Meteens swaai die helikopter na die kant toe en ’n harde ontploffing vul my ore. Voor ek besef wat gebeur, neuk die neus van die helikopter in die grond in. Die volgende paar sekondes is lewende hel. Die helikopter skuur oor die grond en kom uiteindelik voor ’n omgegooide vragmotor tot stilstand.

Ek val uit en tref die grond met ’n harde slag. Ek haal asem. In en uit. In en uit. My hart jaag in my bors. Ek kyk rondom my en sien die ruimteskip van die Grotesk ’n paar honderd meter weg. Die Grotesk borrel uit een van die openinge en jaag na ons toe. Ek vlieg op en soek deur die helikopter.

Boet?!

Charl?!

Griessel?!

“Kom, manne, ons moet beweeg!” skree ek desperaat.

Daar is geen antwoord nie. Die stilte van die dood breek my siel en ek val neer van moedeloosheid. Ek weet nie hoe lank ek daar gekniel het nie. Dit het soos ’n ewigheid gevoel. En toe besluit ek. As ek gaan sterf, gaan ek soos ’n held sterf.

Ek gryp die bomme in Griessel se sak en draai dit met ’n band om my lyf. Ek spring in ’n kar, skakel dit by die knoppie aan en hoor die krag van die enjin. Met ’n finale sug trap ek die petrol en jaag reguit na die skip. Dit was skaars 400 meter, maar dit het soos kilometers gevoel. Ek jaag deur die Groteske en sien hoe hulle van die kar af bons.

En ek jaag verder en verder na die hel toe.

Hulle sê die laaste oomblikke van ’n mens se lewe is die mooiste. En soos ek deur die golwe en golwe gedrogte jaag, sien ek haar. Duidelik. Haar lang, blonde hare, haar rooi lippe, haar blou oë. Trane loop teen my wange af. En dan sien ek haar glimlag. Sy wag vir my …

En ek sien my kinders. Hoe hulle in die tuin speel en hoe ek hulle op hul voorkoppies soen.

“Lief vir jou, Pappa.”

Ek maak my oë toe en druk die dinamietpatroon …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top