WF 2012: Iewers dwaal ’n spook

  • 0

’n Halfuur het nou al verbygevlieg voordat die vreemdeling sy bewussyn herwin het. Hy probeer sy drie oë weer in fokus kry. Hy stryk sy antenna plat met die hoop om weer sy volle sein te herwin. Hy kyk bedruk na die slimmer vreemdeling wat sag tot landing gekom het en staar na die koevert in sy hand. Hy staan eenkant en skud sy groen kop. Hul ruimtevoertuig staan eenkant geparkeer.

Dis nag. Dis ’n donker, donker nag. Dis ’n gitswart nag.

Die winteraand is om my. Buite tjank die winde. Die druppels klop teen die venster. Die geluid van ’n uil vul die donker nag.

Dis vakansie. Ek en my broer gaan kuier vir my ouma en oupa in die Karoo, terwyl my pa en stiefma op ’n vliegtuig sit.

My ouma is ’n tenger vroutjie wat na Vicks en kamferolie ruik. Iemand wat altyd vir haar naamgenote ’n geldjie in die hand stop.

My oupa is dierbaar, al het hy knock knees en moet hy permanent met ’n kierie op die werf rondloop. Tog durf hy weekliks die pad dorp toe aan.

“Mieke, ek durf môre soos oudergewoonte die grondpad aan dorp toe. Jy en jou broer is welkom om saam te kom. Ek wil graag ’n draai by die laboratorium gaan maak.”

“Dankie, Oupie. Dit sal lekker wees!”

Dis tien voor drie toe ek en my oupa voor die laboratorium stilhou. My oupa stap na die saal terwyl ek my op die rusbank in die voorportaal neerplak.

“Is jy Mieke le Roux?”

“Ja, Tannie, dis ek.”

Die tannie stap agter by ’n kantoor in en kom later met ’n koevert en ’n wit jas uitgestap.

“Dit is vir jou, kind. Vreemdelinge in een of ander ruimtevoertuig het dit eendag hier gelos en gevra dat ek dit vir jou moet gee wanneer jy weer saam met jou oupa inkom dorp toe.”

Met groot opgewondenheid skeur ek die koevert oop om te sien wat binne-in is. Ek is oor die algemeen ’n baie nuuskierige meisiekind.

“Gaan na kamer 43a. Meng die vloeistowwe gemerk 578EFG en 839JIL saam in ’n proefbuis en gaan gee dit vir ’n senior lid in die hoofsaal. Hy weet van jou.”

Dit is vir my baie vreemd, maar ek stap die gang af, op soek na die kamer, en voltooi die opdrag van ’n anonieme persoon.

Nadat ek die vloeistowwe in die proefbuis gegooi het, gebeur daar iets vreesliks.

Dit ontplof! ’n Mens sien net groen, blou en pers vloeistowwe wat die vloer verkleur. Ek vergeet skoon van die jas wat ek moes aantrek. Die vloeistowwe kom in aanraking met my vel, en stadig maar seker raak ek deurskynend.

Sonder om te twyfel, gryp ek my selfoon en bel ek my vriend. Hy is ’n genie as dit kom by skeinat en die verskillende vloeistowwe.

“Hallo. Wie praat nou?”

“Hi, Frans. Dis Mieke. Ek het ’n groot probleem! Iemand het vir my ’n opdrag gegee om verskillende vloeistowwe te meng en nou het dit ontplof! Ek is deurskynend. Jy moet my help.”

“Ek is jammer, maar ek ken nie ’n Mieke nie. Hoe weet jy wat my naam is?”

“Jy is my beste vriend! Jy moet my help!”

“Ek is jammer, maar my ma het my geleer om nie met vreemdelinge te praat nie.”

Ag, vervlaks, hoe kan my beste vriend nie eens weet van my bestaan nie. Ek maak die deur agter my toe en stap na die voorportaal om na my oupa te soek. Na ’n lang soektog spoor ek hom op.

“Oupa! Oupa moet my help!”

“My goeiste. Ek het nooit geweet spoke bestaan nie.”

“Dis ek, Oupa, Mieke. Jou kleinkind. Johan is my pa, jou seun.”

“Nee, my liewe kind. Johan het net ’n seun. Hy het nie ’n dogter nie.”

“Ek sal julle almal wys. Ek bestaan. Dis alles daardie ontploffing se skuld. As ek nie die vloeistowwe gemeng het nie, sou ek nie deurskynend gewees het nie. Ek sou nie vir almal ’n vreemdeling gewees het nie!”

Na ’n ver ent se stap kom ek uiteindelik by Binnelandse Sake aan. Ek moet navraag doen oor my geboortesertifikaat. As ek net daardie sertifikaat in die hande kan kry. As ek net vir my oupa kan bewys ek bestaan regtig. Ek is nie net ’n spook waarin hy nog nooit geglo het nie.

“Ek is jammer, Mevrou. Ons het geen rekords van ’n Mieke le Roux nie. Is jy seker sy bestaan?”

Dis alles beplan. Iemand het dit beplan. Iemand wou my bestaan vernietig. Iemand wou gehad het dit moes gebeur. Ek sal daardie vreemdelinge vind. Hul antenna gaan nooit weer ’n sein kan opvang nie.

Dis nag. Dis donker. Iewers dwaal ’n spook rond.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top