Wanneer rassevooroordeel met taalregte verwar word

  • 3
Die Universiteit van die Vrystaat het op 18 September die 2013 English Academy of Southern Africa se Percy Baneshik-gedenklesing op die Bloemfonteinkampus aangebied. Die programrede is deur Jonathan Jansen, visekanselier en rektor, gelewer.

 

Die English Academy bied jaarliks ’n lesingreeks aan. Die organisasie spits hom daarop toe om die effektiewe gebruik van Engels as dinamiese taal in Suid-Afrika te bevorder. Vorige sprekers sluit in Es’kia Mphahlele, Njabulo Ndebele, Alan Paton en Albie Sachs.

In sy toespraak getitel “Not even colonial born: England, the English and the problem of education in South Africa”, bespreek Jansen die dilemma van politiek en taal binne skole en universiteite in Suid-Afrika.

Lees sy volledige toespraak hier. Jacques du Preez van die FW de Klerk Stigting reageer hieronder op Jansen se toespraak.

 

Wanneer rassevooroordeel met taalregte verwar word
Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting

Opmerkings deur Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, tydens die Percy Baneshik-gedenklesing aan die Engelse Akademie van Suid-Afrika op 18 September het ‘n opskudding in Afrikaanse kultuur- en onderwyskringe veroorsaak. Die opmerkings is wyd geïnterpreteer as ‘n oproep om eksklusiewe Engelse onderrig en ‘n bewering dat eksklusief Afrikaanse of selfs dominant Afrikaanse wit skole en universiteite ‘n ernstige bedreiging vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika inhou. 

Jansen het gesê “een groot oplossing vir die langtermynoplossing van die onderwyskrisis” sal wees “om elke leerling en onderwyser van die eerste skooldag af in Engels te onderrig eerder as om by te dra tot die las van swak moedertaalonderrig tydens die grondslagfase en die trauma van oorgang na Engels op ‘n latere stadium”.

Jansen het sedertdien daarop aangedring dat sy “versigtige argument oor onderrigtaal verwring is om oordrewe reklame aan te wakker”.

Nieteenstaande kan dit nuttig wees om deelnemers aan die debat te herinner aan wat die Grondwet werklik bepaal betreffende taal en onderrig.

Artikel 6(1) van die grondliggende bepalings van die Grondwet verskans Engels – saam met 10 ander tale – as een van die amptelike tale van die Republiek. Niemand betwis dat dit ongrondwetlik sou wees vir enige skool (of ander akademiese instansie) om eksklusiwiteit te implementeer op grond van ras nie; en insgelyks sou dit onbillik wees op die basis van taal. Dit word verder ook nie betwis dat Engels die lingua franca is en dat dit, soos Jansen voorstel, die taal van versoening behoort te wees nie.

Jansen se duidelike voorstel dat ‘n langtermynoplossing tot die onderwyskrisis eksklusiewe Engelse onderwys sal wees – vanaf die grondslagfase – strook egter nie met die Grondwet se voorsiening vir veeltaligheid en die ruimte wat dit duidelik skep vir onderwys in enige van ons amptelike tale nie – ook in enkelmedium-onderwysinstellings.

Dit strook ook nie met die UV se eie taalbeleid – wat gebaseer is op die erkenning van die Grondwet se taalbepalings – nie.

Artikel 29(2) van die Handves van Regte verklaar dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse waar daardie onderwys redelikerwys uitvoerbaar is. Gevolglik moet die staat alle redelike alternatiewe, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg met inagneming van billikheid, uitvoerbaarheid en die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede reg te stel.

Artikel 29(3)(a) van die Handves van Regte is ook duidelik: elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou mits dit nie op grond van ras diskrimineer nie.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 – wat van toepassing is op alle skoolonderrig in die Republiek – bepaal in duidelike taal (artikel 6(2)) dat die beheerliggame van openbare skole die taalbeleid van sulke skole bepaal, onderhewig aan die Grondwet, die Skolewet en enige ander toepaslike provinsiale wetgewing. Die caveat op skoolbeheerliggame se prerogatief om aldus taalbeleid te bepaal, is te vinde in artikel 6(3), wat bepaal dat geen vorm van rassediskriminasie beoefen mag word wanneer ‘n taalbeleid volgens hierdie artikel (van die Wet) vasgestel word nie. 

Waar ‘n skoolbeheerliggaam dus sy pligte en bevoegdhede op wetlike wyse nakom in verband met die vasstel van ‘n taalbeleid, en dit strook met die Grondwet, kan beswaarlik gesê word dat dit onbillike diskriminasie tot gevolg het.

Swak moedertaalonderrig is wel ‘n probleem, maar dit is heel dikwels nie die geval in Afrikaanse skole nie. Dit is ook gewys – redelik oortuigend – dat moedertaalonderrig gedurende die eerste ses tot sewe jaar van skoolgaan veel beter onderwysuitkomste behaal as onderwys in ‘n tweede taal – selfs met verwysing na die leer van die tweede taal (Engels) vir gebruik tydens hoërskool.

Die swak toestand van moedertaalonderwys kan ook aangespreek word deur gevolg te gee aan die bepalings van artikel 6(2) van die Grondwet, wat bepaal dat “gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense”, die staat “praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”. Moedertaalonderrig in hierdie tale en die uitbou van broodnodige infrastruktuur in daardie verband sal neerkom op een vorm van daadwerklike en praktiese maatreëls om daardie tale se status en die gebruik daarvan te verhoog.

Ook is die wortel van die onderwyskrisis nie primêr die taal van onderwys nie, maar eerder die mislukking van beleid. As ons veronderstel dat slegs Engels in die Suid-Afrikaanse onderwyssisteem as onderrigmedium gebruik sou word, sal dit op langtermyn steeds nie die onderwyskrisis te hulp snel nie. Veral as leerders halfpad deur die akademiese jaar sit sonder handboeke, sonder rekenaars of elektrisiteit, sonder basiese sanitêre geriewe, sonder ordentlike klaskamers, en met onderwysers wat nie basiese lees- of skryfvaardighede het nie – of dit nou in Engels of enige ander taal is.

In dié verband het Jansen gelyk: ‘n ras- en klasgebaseerde sisteem van uitsluiting is nadelig vir arm, swart studente. Dit (asook ander probleme binne die Suid-Afrikaanse onderwysbestel soos hier bo genoem) raak aan die mislukking van onderwysbeleid en het niks te doen met taal in ‘n grondwetlike bestel waarin alle Suid-Afrikaners gelyke taalregte geniet nie.

Ons kan nie aanvaar dat dit Jonathan Jansen se bedoeling was om standpunte te lug wat so afwykend is teenoor die Grondwet, sy eie universiteitsbeleid, en sy eie prysenswaardige rekord van bevordering van versoening en positiewe verhoudinge tussen ons gemeenskappe nie. In die lig van die tragiese gebeure van 1976 het hy sekerlik nie bedoel dat Suid-Afrikaanse skoolkinders weer eens gedwing moet word om te studeer in ‘n taal wat hulle nie as hul eie reken nie?

Gevolglik moet ons sy verduideliking aanvaar dat hy “verkeerdelik aangehaal is” en dat “oordrewe reklame” te blameer is.  

Lees ook Some thoughts on Jonathan Jansen's call for English.

Also read Russell Kaschula's response to Jonathan Jansen's Percy Baneshik Memorial Lecture.

 

Also read African languages in the print media.

  • 3

Kommentaar

  • Chris du Plessis

    Laat elke etniese groep self besluit in watter taal sy jeug opvoeding moet ontvang.  Wat vir een werk sal nie noodwendig vir 'n ander werk nie, maar aan die einde van die dag is dit elke groep se eie verantwoordelikheid om hul eie toekoms te bepaal. Dit is hoe mense regte werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top