Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.
Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke ’n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.
LitNet plaas ’n verhaal van een van die deelnemers aan die slypskool: "Vrede op aarde" deur Ann Hiemstra.
“Nee, Roxi! Jy sal brand. My meisie kan nie chillivis eet ’ie. Jou hoenderlewers kom nou-nou. Net gou nog my uitjie insny en ’n koletjie nader krap. Hier’s nog ’n korsietjie vir Muis ook, nè, Muis.” Die blinkvet brak slobberbek aan die growwe hand wat met haar ore vroetel – alles pure liefde, dié gelek en gevroetelry. As die blare om die plastiekbroodsak van ’n streepmuis se geskarrel, grom sy en trek haar lip op. “Toe-toe, nie so kwaai met ou Muisie nie, toe,” paai die ou man. Klip en Roxi en Muis maak aandkos onder hulle melkhoutboom teen die duin bokant die hawe.
Die week-oue wind het asem uitgeblaas en die aandlig lê pêrelskulp in die bakhand van die baai. Selfs die stuwende gedreun van hoogwater het versag tot ’n sussende suising van vlakwaterbrandertjies oor die skulpgruis. Van die daglange hawegeroesemoes van vissers en kopers en skuite en krysende meeue het nog net die vars skoon stank van vandag se vangs oorgebly.
“Ai, dié tyd vannie aand is darem maar magic, nè ou Rox? Wat sê jy, Muis? En nou’s ‘it nog Krismis ook. Ons het niemand nodig nie, het ons? Ons het ’n million-dollar view. Ons het ’n mooie blaredak oor onse koppe. ’n Kossie om te eet – al sê Skipper ekke, die eks-Bloutrein-chef, nogal, behore my te skaam oor dié simpele blikvis. En ons het ’n lekker vuurtjie vir company. Ja, askies Mister Nature Conservation, net ’n ou kleine vuurtjietjie, net vir Krismis aand. Jammer ons het nou nie bietjie fireworks nie, maar wat. Ons het darem ook nog die gawe man se storieboek as die aand te lank raak. Wat kan mens nou meer vra? Hmm? Die ou Groot Pappa da bo is goed vi ons, nè?” Klip vou sy hande vroom teen mekaar en slaan sy groot oë hemelwaarts. “Kom ons maak ’n doppietjie daarop, ons drietjies. Hierie een het mos class, of wat praat ek tog alles?” Klip haal ’n vol bottel hardehout dop onder sy boomstompstoel uit, hou dit teen die laaste aandlig op, skommel die amberkleurige vloeistof ’n slag liefderik en keer dit behaaglik in sy tuitgetrekte mond om.
“Hô nou, Klip, jou ou swerkater, starrag nou! Die aand is nog jonk en die nanag se knyp koud lê voor.” Hy sluk diep en vee sy vol mond smakkend met die agterkant van sy toiingrige mou af. Sy hier-en-daar-tande pryk in die swart tussenholtes. “En oor Krismis loop g’n skuite nie, onthou. G’n pay vi’ jou nie. Dan sit jy met ’n driedagdroëbek. Of anners is ‘it net weer jy en al jou ekse en daai bittere b loutrein vannie OK. En dáái’s moeilikheid!” Klip tuur met sy diepwaterblou oë ver uit oor die see.
Alleenwees en stilte pla nie vir Klip of vir Roxi nie. Soos die hardehout in die bottel sak en die hond vaster in die waai van sy bene snoesel, vou die alleenwees-stilte en sy Pep -kombers sy lomerige lyf al snoesiger toe. Die dik boek – gawe verbyganger het dit laas week vir hom gegee – is ’n doodregte stut om sy grys krulhaarkop uit die sand te hou. Net sy mus lekker styf oor sy ore trek dan’s hy weg.
Klip slaap.
Selfs die veraf geblêr van die onstigtelikes se Krismismusiek en enkele twaalfuurtoeters en he ppie-he ppie-geskree word uiteindelik stil ...
Stilte pla ook nie – dalk j úis nie – die streepmuis nie. Die toegeknoopte broodsak, wat nou in die ontspanne hand langs die dop bottel op die grond lê, kry ’n eie lewe soos die gedierte nuuskierig daaraan snuffel en dan verbete probeer om die korsies by te kom. Hy grawe met sy voorpote, rem en pluk. Die sak bly toe. Die muis skrop en klouter oor die vereelte vissermanshand. Klip sug net ’n diep sidderende sug, trek sy skouer op, kry weer sy lê.
Maar vir Roxi, wat van die gevroetel nou wawyd wakker is, raak dit een te veel. Sy vlie op en spring met een haal bo-op die muis dat die sand so spat. Klip skrik orent, klap vervaard na die spul. Die muis ontkom, maar die hou tref die hardehout dop wat sissend tussen die smeulende kooltjies omval. Die bottel begin soos ’n tollende fakkel stadig en dan al vinniger teen die duin afrol. Klip staar vreemd gefassineer daarna. Blare-en-gras-en-sand-flambé, weird, flits dit deur sy benewelde kop.
Eers as die brandende bottel in ’n boog van die wal af met ’n knal neer-spat op die houtdek van ’n skuit wat aan die bokant van die sleephelling lê, strompel hy op sy voete.
“Jirre, Rox, dis Skipper se ou houttrok, daai. Dis mos Flossie!”
Elke spatsel van die bietjie vloeistof wat nog in die bottel oor is, word ’n plassie vlamme wat eers stadig oor die sonverdroogde dek sypel, inmekaar vloei, dan knetterend voort lek.
Asof aangewakker deur die energie, stu ’n vlaag wind van die see af op, jaag die goud rooi vlamwimpels voort. Hoër en hoër skiet die vonke die naglug in.
“Da hét ons toe nou die fireworks, Rox. Ons eie Krismis- fireworks!” Klip snik-lag, sy wange warm van hul eie vuur, sy starende oë glimmend in sy kop.
Die wind skep die brandende gras en blare in die spoor van die rollende bottel op, stoot dit in ’n brander van vlamme teen die duin uit. Klip voel hoe die hitte teen hom aanwaai. Hy gryp vervaard na die plastiek mmer waarin hy sy huiswater hou. Vat eers mis. “Die donnerse handvatsel is los.” Hy gooi die water onbeholpe oor sy beddegoed uit. In die roomysbak wat eenkant in die gras lê, is nog bietjie water. Te min, besef hy.
“Kom Roxi, ons beter water soek!” Klip strompel hygend met sy uitgetrapte paadjie duin-af deur die los sand, hawe-ablusiegerief toe. Die hond druipstert agterna. Streepmuis is skoonveld.
Net as die kleindorpse brandweerwa met skreeuende remme by die sleephelling stilhou, ontplof Flossie se brandstoftenk met ’n donderende slag. ’n Swart stinkende rook en roetwolk borrel in die naglug op.
Flitsende ligte blasende toeters klappende deure mense wat rondhardloop bevele skree hoesend brandslange water toe aansleep tevergeefs die vlamme net vlamme net waar jy kyk vlamme ...
Lady Jane, nuutgeverf, en die verroesde Jakobyn wat weerskante van Flossie lê, staan in ligte laaie. Nog brandstoftenks ontplof. MerCee, Mary, Bloudam en Liefling.
Nog voertuie en skreeuende mense. ’n Sleephelling-flambé. Keer vir die geboue! Die hel se fire works is los.
Kersvuurenvlamfees!
As die son op Kersoggend moeg deur die grys wolke newel oor die see probeer beur, gloei sewe skuitribbekaste nog makaber in die grou oggendlig. Die hawesleephelling is ’n swart puinhoop van verwronge metaal, oliekoeksels en as. Vuil brand- en waterstrepe graffiti die mure van die hawe-gebou. Brokstukke van roet en hout dobber in die vlak branders aan die voet van die sleephelling rond. Die see het met hoogwater ook sy kant probeer bring.
Behalwe vir Skipper wat in die flou sonnetjie met sy kop op sy arms en sy rug teen die hawemuur sit-lê, is daar nie ’n siel in sig nie.
Klip staan styf op uit sy skuilplek in die deur van die ablusieblok. Hy vee met sy hande oor sy rooi oë. Sy gesig is asvaal en flenters roet sit soos swart k onfetti in sy baard en hare.
“Rox, is jy oukei, my meisie?” Hy vryf die as van die dik pels van die hond wat onder sy bene uitkruip, af. “Kom, kom ons ga’ kyk wat gaan by onse huis aan.” Roxi lek, pure liefde, slobberbek aan die growwe sagte hand. Draf dan agter Klip deur die los sand in hulle paadjie teen die swartgebrande duin op.
Wonderbaarlik is die kroon van die melkhoutboomhuis, weliswaar toe onder ’n laag as en met enkele blare bruingeskroei, nog groen en dig. Die rommel en vodde en boskasie daaronder is weg. Weggebrand. Skoongebrand. Van Klip se boomstompstoel is ’n swart blok houtskool oor. Waar die Krismisaand vuurtjietjie was, Mister Nature Conservation, lê ’n skeefgetrekte pot en die oorblyfsels van ’n chillivis-blik.
“En toe’t ons nooit eers by ons Krismis kossie uitgekom nie. En waar gaan ons vandag op hierie Krismisdag hoenderlewers vi’ jou kry?”
Skielik onthou Klip van die banksakkie met sy laaste visvang geld wat hy onder sy boomstompstoel gebêre het. Hy keer die tot houtskoolverbrande blok om. “A, gelukkig diep genoeg innie sand gedruk. Lyk ‘ie te sleg ‘ie, die paar note. Sal maar mooi vi’ die OK-man vra om ‘t te vat.”
Klip blaas die as van die houtblok af, gaan sit daarop en skop met die punt van sy skoen tussen die oorblyfsels van sy Pep -kombers rond. ’n Stuk daarvan het verbasend behoue gebly. “Moet wees waar die huiswater gekeer het. Sal sommer vir die OK-man ’n paar cardboards ook vra. Kan weer ’n lekker bed maak.”
Hy staan op en maak die kombersflenters bymekaar. Die verskroeide buiteblad van sy dik persentboek steek onder die sand uit.
“No Remorse, by Tom Clamsey,” lees Klip die titel en stof die boek teen sy broekspyp af. Hy gaan sit langbeen op die sand langs sy hond wat onder die melkhoutboom lê, maak die boek oop en begin doodtevrede lees op bladsy een.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

