Virtuoos violis wen ATKV se Muziq-kompetisie

  • 0

Tydens ’n glansgeleentheid in Bloemfontein op Saterdagaand, 7 September is die violis, Jacqueline Wedderburn-Maxwell aangewys as die algehele wenner van die nasionale instrumentale klassieke musiek-kompetisie, ATKV-Muziq.

ATKV-Muziq, een van Suider-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassieke musiek-kompetisies wat onder andere internasionale pianis, Ben Schoeman as algehele wenner opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassieke musiek in Suid-Afrika. Dit is ’n nasionale klassieke musiek-kompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar. ’n Totale prysgeld van R120 000 is uitgeloof.

Jacqueline Wedderburn-Maxwell (20) is oorspronklik van Durban, maar deesdae student aan die Trinity Laban Conservatoire of Music and Dance in Londen in Engeland. Die Suid-Afrikaanse violis, Pieter Schoeman, jare reeds woonagtig in Londen en deesdae leier van die Londense Filharmoniese Orkes, is haar leermeester. Jacqueline het die algehele prys van R45 000 ontvang, die Strykers-kategorieprys van R9 000, asook die prys vir die beste vertolking van ’n Barok of Klassieke werk tydens die finale ronde. Laasgenoemde prys ter waarde van R6 000 is aan haar toegeken vir haar vertolking van Beethoven se "Sonate vir viool no1 in D majeur Op 12 no1, III - Rondo Allegro".

Jong volwasse musici van oor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding in verskeie kategorieë, naamlik orrel, klavier, strykinstrumente, blaasinstrumente (hout en koperblaas), kamermusiek-ensembles en ander instrumente. Uit hierdie groep deelnemers is daar 36 musici gekies wat aan die tweede en derde rondes in Bloemfontein die afgelope paar dae deelgeneem het.

Die ander kategoriewenners wat aan die einde van die tweede ronde aangewys is, was:

Klavier:  Sulayman Human; Richard Rheeder
Orrel:  Eljee du Plooy
Koperblasers:  Ryan Kierman (tromboon)
Houtblasers:  Myles Roberts (fluit)
Ander instrumente: Dylan Tabisher (marimba)

Geen toekenning is in die Kamermusiekensemble-kategorie gemaak nie. Die beoordelaars het egter gevoel dat vanweë die ongelooflike hoë standaard twee kategoriewenners in die Klavierkategorie aangewys moes word. Elke kategoriewenner het R 9 000 ontvang. ’n Bonusprys van R6 000 is toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Vanjaar is hierdie prys toegeken aan Richard Rheeder vir sy vertolking van T. Rajna se "Prelude no 11".

Die beoordelaarspaneel het gestaan onder leiding van Liezl-Maret Jacobs, klavierdosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Die res van die paneel het bestaan uit Erik Albertyn (hoof van die NMMU se Musiekdepartement), Sharon de Kock (lid van die Odeion Strykkwartet), Alexander Fokkens (vryskut-dirigent, onder andere inwonende dirigent van die FSSO), en Theo van Wyk (bekende orrelis en Direkteur Musiek van St Mary's DSG in Pretoria).

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top