Hallo Thomas
Jou kommentaar onderaan my brief van 29 Januarie aan jou verwys.
Jy sê jy stem saam dat die gemors in die onderwys uitsluitlik aan godsdiensonderrig toegeskryf kan word. Stem saam met wie? Kan nie met my wees nie want ek sê godsdiensonderrig het NIKS met die agteruitgang van die onderwys te doen nie; die agteruitgang is UITSLUITLIK te wyte aan die koms van die Nuwe Suid-Afrika.
Verder sê jy die " ... oorsaak lê by ’n disfunksionele onderwysdepartement en minister wat slegs deur ideologie gedryf word." Kyk na die groter prentjie Thomas: Wat is die oorsaak dat so 'n minister aangestel kon word en, siende dat hierdie minister droogmaak, watter sisteem is verantwoordelik daarvoor dat hy nog nie in die pad gesteek is nie? Dink bietjie.
Jy sê ook dat jy " ... met [jou] eie oë die verwoestende effek van godsdiens op menslike denke en ontwikkeling in Noord-Afrika gesien [het]." Mag so wees, maar waar is jou bewyse? Sonder bewyse dra jou stelling dieselfde gewig as sou jy gesê het " ... verwoestende effek van die gebrek aan godsdiens ..."
Jy reken, terwyl ons nou die onderwys drasties moet hervorm, moet ons sommer ook "bog soos godsdiens" afskaf. Weer eens, waar is jou bewyse dat dit bog is? Die boeke wat George aanbeveel om te lees? Mens kan nie so redeneer nie want, vir dieselfde prys, kan die behoudendes mos aanbeveel dat jy en George die Talmud, die Koran, die Bybel of watter geskrifte hulle ookal hul geloof op baseer, lees.
As hierdie manier van redeneer gewerk het, het ek lankal aanbeveel dat, om jou, George, Jaco en ander 'liberaal-demokrate' van jul absurde politieke sienings te laat afsien, julle Dan Roodt se uitstekende artikels oor die politiek lees. Nee Thomas, julle sal meer moeite moet doen; julle kan nie millennia se godsdiens uitvee deur te verkondig dat julle tot die gevolgtrekking gekom het dit is bog nie.
Wat die drastiese hervorming van die onderwys betref waarvan jy praat. Hoe wil julle dit doen; dit is dan deur julle toedoen dat die onderwys so verval het? Ek sê weer vir jou, onderwys, hospitaaldienste, volksgesondheid, vervoer, polisiëring, munisipale dienste, alles, het verval na die aankoms van die NSA waarvoor julle jul so beywer het. Om te kla oor godsdiensonderrig is 'n spierwit rooi haring.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Miskien moet jy my brief behoorlik lees voor jy reageer. Lees veral die begin van die tweede paragraaf. Lees mooi stadig en kyk of ek sê die gemors in die onderwys is uitsluitlik te wyte aan godsdiensonderrig.
Sien jy nou wat doen ’n ideologiese bril aan jou sig?
Om te beweer dat ons ons beywer het vir die gemors waarin die land is, is gewoon absurd en verdien nie ’n antwoord nie.
Het jy al ooit probeer om daai bril af te haal?
Thomas
Jan Rap,
Dankie dat jy deurgaans met bewyse, die waarheid onder die laatslapers se aandag bring. Jy lui vir hulle die klok. Met genade word hul dalk wakker.
Groetnis,
Et1
Beste Jan,
Thomas is in die kol as hy goddiensonderrig as bog bestempel. Leer liewer die kinders iets nuttigs as om hulle koppe vol onsin te prop. Van watter nut kan dit tog wees om te "weet" dat God die mens binne ’n ommesientjie uit ’n hopie grond en ’n ribbebeen gemaak het? Hulle kan nie eens die bewyse daarvoor nagaan nie, want daar is niks.
Indien die Bybel as letterkunde bestudeer word, kan dit nuttig wees, maar dan, daar is baie beter letterkunde wat gebruik kan word.
Groete
Angus
Aan Angus,
Dink jy rêrig dat dit die gemors in die onderwys sal oplos?
Groetnis,
Et1
Aan Thomas,
Het jy nie die pad na die "nuwe SA" voorgestaan nie?
Het jy na kenners geluister wat vandag se gemors voorspel het?
Hoekom wou jy hulle nie glo nie? Selfs nou ook nadat hulle reg bewys is?
Of het jy iets gedoen om dit te verhoed? Indien nie dink ek tog Jan Rap verdien 'n antwoord.
Godsdiens blameer vir onderwysgemors is gryp na strooihalms.
Groetnis,
Et1
Beste Et1,
Lees asseblief weer wat ek geskryf het. Ek het nie ’n oplossing aangebied vir die gemors waarin die onderwys beland het nie.
Maar aangesien jy so vra vir ’n oplossing: ons onderwys het ’n groot gebrek aan kundiges in onderwysdepartemente en ’n uiterste gebrek aan goedopgeleide, toegewyde onderwysers. Alles het begin met die sluiting van die onderwyskolleges en nou pluk ons die vrugte daarvan.
Dit geld maar vir alle beroepe. Jy kan tog nie verwag van ’n bierdrinkende boeppens -chirurg, wat die vorige dag nog ’n straatveër was, om ’n suksesvolle appendektomie uit te voer nie.
Miskien kan jy vir my die nut van nuttelose bybelse informsie verduidelik.
Groete
Angus