Dagsê Thomas
Jy wil om die verkeerde redes jou definisie van Afrikaner verander. Jy was verblind en gebreinspoel maar nou dat jy bekeer is (in 'n politieke sin) wil jy die bruinmense ook as Afrikaners definieer, selfs al weet jy hulle wil dit nie hê, glad nie hê nie. Die feit dat jy volhard hiermee dui op 'n skuldige, neerbuigende aksie van jou kant af wat dit nog erger vir enige trotse bruine sal maak. Dit is 'n neerbuigende houding gedryf deur jou skuldgevoel, nie logika nie.
Ek sê weer vir jou, as enige mens, of hy nou bruin, geel of swart van kleur is na homself as 'n Afrikaner verwys dan is hy een – hy sal dan logieserwys doen wat Afrikaners doen soos sy uiterste misnoeë uitspreek oor die plaasmoorde, die verdwyning van Afrikaanse skole en plekname, die soort van ding. Hy sal sy kinders in Afrikaanse skole sit, na 'n Afrikaanse kerk toe gaan en vies wees as spyskaarte en instruksies op blikkies en bottels nie in Afrikaans is nie.
Daar is dus nie eers sprake van 'n definisie nie. As 'n Afrikaner sal hy, soos 'n Duitser of 'n Armeniër respektiewelik Duitse en Armeense belange op die hart dra en probeer bevorder, Afrikanerbelange op die hart dra en bevorder.
Buitendien, die oomblik wat jy praat van 'inklusief' beteken jy wil 'iets anders' insluit anders het die begrip mos nie sin nie, of hoe? 'Inklusief' in hierdie sin beteken dus dan, dat, in wese, volgens jou, iets anders as die Afrikaner nog moet bykom en wat dit ookal is, is dit nie Afrikaners nie.
Ek vind dit, om verskeie redes, verbysterend dat jy sê 27 April 1994 het jou vrygemaak. Dit is juis vanaf daardie datum dat die heksejag op Afrikaans begin het, eers subtiel en nou openlik. En nie net op Afrikaans nie maar ook op die Afrikaner; ons mense word met eentonige reëlmaat op die wreedste maniere op plase vermoor en dit haal skaars die nuus.
Nog 'n rede is die skielikheid van jou bekering, 'n soort van 'n Damaskusondervinding lyk dit my. Uit jou politieke CV kom ek agter jy is nie enige Jan Rap en sy maat nie, jy het leiersposisies beklee. Wil jy nou vir my sê jy (en jou ouers en grootouers en groot-grootouers) was mislei en gebreinspoel, al die jare en jare? Kan tog nie wees nie.
Wat meer waarskynlik is, is dat die eintlike breinspoeling deur die pers, kerke en politici kulmineer het in jou 'bekering' op 27 April 1994. Jy kan nou wel aanvoer dat dieselfde redenasie kan geld as wat ek hierbo gebruik het, naamlik dat jy as intelligente persoon ook dan nie nou gebreinspoel is nie. Dit werk egter nou bietjie anders; die euforie is nou verby en om uit die kas van ontkenning te klim is moeilik. Al hoe meer sluk die bitter pil en doen dit, ander sal eerder tien dode sterf.
Om af te sluit: Die inklusiewe term wat jy soek vir almal wat Afrikaans praat is reeds daar, naamlik Afrikaanssprekendes. Nie almal van hulle is Afrikaners nie, net soos alle Engelssprekers nie Engelse is nie. Almal weet, die bruines ook, dat hulle 'n eksklusiewe groep is. Anders, hoe sal regstellende aksie toegepas word?
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Netjies, baie netjies Jan Rap. Veral jou ontleding van die gewilde "inklusief" is briljant.
Jan
Net ’n vraag. Jy skryf: "Hy sal ... na ’n Afrikaanse kerk toe gaan. Kan jy werklikwaar sê dat ek wat na geen kerk toe gaan, of selfs Katolieke Cornelius, nie Afrikaners is nie, en indien wel, hoe kom jy by sodanige logika uit?
Nog twee vrae. Frederick Van Zyl Slabbert wat anti-Nasionaal; anti-HNP; anti- Konserwetiewe Party; anti-AWB, 80% polities eens met ANC sieninge was, sou jy erken hy was Afrikaner al dan nie? Sien jy jouself by magte om te bepaal wie is Afrikaner al dan nie?
Ek sien die volgende uiteenlopende mense ongetwyfeld aan as Afrikaners: Terre Terreblanche; Dan Roodt; Van Zyl Slabbert; Maas; F.W. de Klerk; Jan Rap; Max du Preez; Beyers Naudé, om net ’n paar te noem. ’n Persoon se politieke of godsdienstige aanhang of geen, is vir my nie ter sprake rakende sy Afrikanerskap nie.
Jaco Fourie
Beste Jan,
Dankie vir jou briljante analise van Thomas se heel goedbedoelde poging om bruinmense by die Afrikaner-begrip in te sluit. Jy is absolute korrek om te konstanteer dat hulle dit onder hulle dooie liggame nie wil hê nie. Wie nou in sy regte verstand sou by ’n groep mense ingesluit wil word wat hulle in die verlede verneder en tweede klas burgerskap gegee het – soos jou held Dr. Verwoerd. Thomas se welbedoende poging kom ongelukkig té laat want die misdaad teenoor hierdie mense kan nie oornag gekanselleer word nie.
Vandag is jou soort Afrikaner só gebelgd oor die ongerief wat julle moet verduur noudat die tafels omgekeer is. Wees liewer dankbaar dat julle nog nie in die see gejaag is nie. Wees dankbaar dat Australië en Nieu-Seeland daar is waarheen julle nog kan vlug, en waar julle julle eie gemeentetjies kan stig, soos die Nazi's destyds na die Tweede Wêreld Oorlog in Brasilië en Argentinië.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Eintlik wou ek glad nie op die sikspensbrief reageer nie, maar elke keer as ek die opskrif sien, hinder hierdie onrealistiese geringskatting van Afrikaners my. Daarvolgens is die Afrikaanssprekendes 5% van die geheel en die Afrikaners net 2,5%. Kwantitatief/demografies kom dit neer op radikale afskaling. Kwalitatief is dit ernstige miskenning. Omgekeerde demografie sou ’n meer realisties uitgangspunt wees, dus dat Suid-Afrika 80% van sy ontwikkeling, voorspoed en beskawing aan die wittes te danke het. Moontlik meer as die helfte hiervan is deur Afrikaners bygedra. Daarom kan 1994 onmoontlik ’n bevrydingsbaken wees. In die verlede is daar vir die Afrikaners ongetwyfeld baie meer om op trots as om oor skaam te wees.
Daar is heelwat onheiligs en onoortuigend aan Broeders wat as kamerade ontpop het. Bekende voorbeelde is Willie Esterhuyse, Julian Muller en Nico Smith. Ook in die onderhawige geval was dit iemand wat oorboord gegaan het met die ideologie (politiek en godsdiens) wat toe in die mode was. Daarna word die nuwe ideologiese mode, wat in baie opsigte teenoorgesteld aan die vorige is, met dieselfde fanatiese entoesiasme omarm. Sedert 1990/1994 is die saak wat my seker die meeste hinder die absolute onvermoë van Suid-Afrikaners om die ideologiebedryf te verstaan. Ons "bevryders" is nie net militêr opgelei nie. Hulle is veral in ideologiese strydvoering geïndoktrineer en afgerig.
Johannes Comestor
Johannes
Jou letterlike vertolking van my brief se opskrif is moedswillig en komende van 'n intellektueel soos jyself uiters verstommend. Omdat ek van jou verskil oor my siening van die Afrikaner maak nog lank nie van my 'n kameraad nie. Is jy seker ons is die ideoloë en jy en Jan Rap is koel en beredeneerd? Dis nie straks andersom nie?
Thomas
Beste Johannes,
Jy skryf : dat Suid-Afrika 80% van sy ontwikkeling, voorspoed en beskawing aan wittes te danke het. Moontlik meer as die helfte hiervan is deur Afrikaners bygedra.
Die feit van die saak is dat uitgemergelde swartmynarbeid wat vir 'n sikspens en tiekie onder haaglike omstandighede geswoeg het, en Anglo-Amerikaanse roofkapitaal, verantwoordelik was vir die ekonomiese welvaart van die die land. Afrikaners se kontribusie aan die "bou" van die land was rassisme, kerkgaan, braaivleishou, rugbyspeel, Sarie Marais sing, tiekiedraai, en definisies opdink wat dit behels om 'n "ware Afrikaner" te wees.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Pieter
As dit nie hoofsaaklik die wittes is wat Suid-Afrika die ontwikkeldste Afrikaland gemaak het nie, wie het dit gedoen? Deesdae word graag beweer dat Suid-Afrika se voorspoed op die sweet, bloed en trane van swartes gebou is. Daar is 'n oorvoorsiening van daardie bloed en trane (eerder as sweet) in die res van Afrika, maar nie vergelykbare ontwikkeling nie. As die wittes nie mynbou ontwikkel het nie, sou daardie arbeidsgeleenthede en geldmaak en infrastruktuur nie bestaan het nie. Daar is al dikwels opgemerk dat die plaaslike swartes, anders as bv die Oosterlinge, nie eens die rykdom in die see (bv visvang) benut het nie. Jou lysie van waartoe Afrikaners in staat is, is moedwillig onvolledig en jy weet dit. Sulke eensydige opmerkings doen jou nie eer aan nie.
Johannes Comestor
Wat is hierdie deser ding? Dit moet BAIE oud wees. Noem tog net die maand, hoekom so dof wees? Almal praat tog van 12 Maart/September/Desember. Hoekom de hel deser? Word wakker julle ou bal afri-osse. Julle kom hopelik in die kraal